Hoe sal jy my sien? My oë begin statig brand van die koue, die winter is alweer stadig maar seker oppad om my lewe om te kul. Die dooie dae en koue nagte. Die grasvlaktes wat verbruin in die flou magiese sonnetjie, die donker oggende vol mis wat die spoke nog kans gee om gou hul tydige byeenkoms kort te knip en die kindertjies te los met hul monde droog en donker onder die oë – die donker strepies wat hul seer verklap.
Die droë monde wat smag om hulle stemme te laat hoor.
Nou wil ek vlug, my naels is vuil van al die leuens en dik soos torvlerke. My lippe gebars van al die vloeke wat ek soos brandwonde neerlê op dose wat die paaie vul. Die elke dag. Ek, die vuil hoer wat sypaadjies aangluur asof hulle my iets skuld.
Ek voel nie juis veel lus om te sterf nie – die tyd is nog vêr van ryp en my vlerke is nou eers reg vir die vlug. Hier is ek nou weer met my voete diep gebars, merke van ‘n lang pad getrap en gereed vir die volgende miljoen myl wat wag. Woorde, nog soet en vars op my tong om jou ‘n storie te vertel, my elke dag gedagtes en drome mee te deel. My galg en my selfmoord-sessie, van dronk en bedwelmde dae tot die uiterste haat waar ek stukke velle teen beton los vir die miere om op te fees – die lag. Die huil en breek van ‘n siel opsoek na ‘n ster wat nie bestaan nie. Die onophoudelike lus vir die wêreld se video-dood en moederaarde se genoeë begeerte om die goed wat nog rondkruip en suurstof steel se lewe te beëindig.
Ek sien weer die ou tannie met haar bloed besope, grou ogies staan voor ‘n klipkansel met haar hande omhoog en vra om vergifnis wat haar nooit sal toelaat nie. In haar benoude tyd gaan sy terug na die plek wat sy ken, die eien plek waar sy geleer van bely. Die plek waar hale haar merk as die kennis haar ontduik en immers vol trane gelos het. Na die vuil jare van onwillekeurige besluite, oopkloof houe van geliefdes en dae van uittart het moed verdwyn in haar sombere siel en sy maar die hasepad gekies. Haar vuil klere en teer hande verklap ‘n geskiedenis van smart. Hoe durf ons vingers strek na die siel wat nog kan onthou? Hoe durf ek nog eens na dit wat ek haat, te kyk?
Gee my maar ‘n oomblik, ‘n vertroulike minuut om myself te verniel.
Revolusie. Die aap – die mag – die nag. ‘n Haarfyn strook belemmer my armband. Die sagte brand-prik van die lem op my skaam pols lag ek ‘n sekonde weg in die spieël wat my dubbel sien soos ek is. ‘n Hopelose glas word verorber. Gevul met ys en tog die soete malt. Vierduisend sekondes terug in stille, swerf ‘n vlerklose wese oor ‘n plato vergruis deur berge, dale en ‘n magdom water – ‘n suiwer stem weergalm in my kop opsoek na nuwe heenkome in al die donker hoekies waar ek te veel letsels al gelaat het. Stemme wat my moes laat skrik, sanik nou saans by my vir ‘n bietjie gemoedsrus.
Ek is tuis in die donker.
Die wurm in my skree luidkeels gebare die lug in. My oog verleen aan ‘n demoon wat lag vir die onnosele wat hul siele verpand in nood. My hande gevlek met beelde van gister se drome en my are in vol vloed met vandag se dood.
Mi muerte, y su muerte en ojo del demonio …
bydrae: Düvlen
(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)
No related posts.



Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.