// jy lees ...

Rita

So in die stap besluit hy: kompromie-sluit. Dit was en is nog altyd die wortel van alle kwaad, veral vir fyngeestiges. Selfs die blou lug bokant hom toe hy die deur agter hom toestoot en op die grasperk tussen die hoofingang en die biblioteek uitstap, spel dit uit – ‘n sigbare grens tussen die res van die heelal en die mens op aarde; mense wat nog God, nog dier is. Soos as iemand van jou dood is – jy bestaan bloot iewers in die middel voort en ‘n ander een nie. Kompromie.

“Mag ek pla?”

Die stem klink bekend. Toe hy haar sien kom die ideë weer by hom op om haar eendag, nee, sommer binnekort, te vra wat sy dink mens alles kan doen met die kortste verhaal wat ooit nog geskryf is; die een van die twee vriende wat mekaar na 30 jaar weer raakloop en die een vir die ander sê: “Jy het niks verander nie”, waarop die ander een merkbaar bleek word.

“Hallo. Ja seker.”

Sy wil net iets seker maak oor vanoggend se lesing. Dit vat te lank na sy sin. Hy wil by die huis kom. Hoekom weet hy nie, want die huis is leeg en stil, en boeke kan nie praat of lag nie.

Daardie aand sit hy sy leeswerk voort van ‘n tema wat hom die afgelope tyd baie besig hou. Emosie versus rasionaliteit. Daar was selfs al voorstelle deur enkeles met wie hy sy breë konsep gedeel het, dat hy dit uitbrei tot iets soos ‘n artikel, maar hy het gevoel dat dit van sy onderwerp ‘n verbruiksartikel sal maak. Hy kyk na die notas voor hom:

Dit is deel van konvensionele wysheid dat die verstand die hart moet beheers; dat ‘n ooreenkoms bereik word. Maar wat van die omgekeerde? Wat sal met hartstog gebeur as dit via die verstand tot uiting kom? En eenkant met die hand gekrabbel: Die eksperiment is die moeite werd …

Hy klim in die bed terwyl hy terloops wonder wat die uiteinde hiervan sou kon wees.

Die Universiteit van die Weste het ‘n goeie reputasie gehad, ook internasionaal. Dit is, soos soveel ander akademiese instellings, uitgelewer aan markkragte en politiek, met die gevolg dat almal voortdurend bespiegel oor die toewysing van geld en die instandhouding van standaarde. En, soos nou reeds gebruik geword het in sulke gevalle, het die geestes-en sosiale wetenskappe swaar getrek. Met die verkleining van departemente was almal in rep en roer om hulle bestaan te regverdig. Vir Joop Goosen het hierdie dinge amper ongemerk verbygegaan. Hy was gelukkig. Sy motiverings om ‘n studieprogram met die naam, “Argeo-filosofie”, in te stel, het na vele pogings geslaag. Dit het hom ‘n akademiese hupstoot gegee, en vele benydenswaardige kyke by amptelike byeenkomste. Met sy ouers se afsterwe was Joop nog nie getroud nie. Nou, oppad na sy middeljare, het Joop ‘n redelik gebeurlose lewe gely. Gebeurloos, maar nie kleurloos nie. Sy werk was en is sy anker; ‘n plek waar hy aan homself oorgelaat is. En so het hy dit verkies. Daarom, so glo hy, dat hy die vak van diè wat altyd op die een of ander wyse vrydenkend en eenkant is, as beroep gekies het.

Hy het Rita eers opgemerk toe haar uitslae sy aandag begin trek het. Sy het presteer spesifiek in die goed waarin hyself belangstel. Sy het soms na klas kort vrae gevra, en hy het homself betrap dat hy dan ‘n ruk lank aan haar bly dink. Maar dit was selde. Sy uitdagings om van die nuwe vak oor verlore tekste in die Filosofie ‘n sukses te maak, het hom besig genoeg gehou. Van sy kollegas was skepties oor die moontlikheid hiervan.

“Joop, kan ek gou iets met jou bespreek … eintlik wil ek ‘n guns vra.”

Joop kyk op van die vraestel voor hom. Die hoof van die departement is een van sy ondersteuners vir die nuwe studierigting.

“Seker.”

“Ek moet vanmiddag vir so ‘n uur of wat met ‘n buitelandse groep gesels. Wat is die kans dat jy my laaste lesing vanmiddag sal kan waarneem?”

“Dit behoort nie ‘n probleem te wees nie.”

“Dankie. Ek hoop nie die besoekers hou my te lank besig nie.”

“Ek sal by u ‘n draai kom maak.”

Joop het terloops in die merkwerk waarmee hy besig was, opgemerk dat die studente mooi begin regkom het met die eerste deel rakende die geskiedenis van verlore tekste. Dit het bloedsweet gekos om die inligting hieroor te versamel en die kursus te struktureer, maar hy was trots toe die kursus uiteindelik aan die hoof van die departement gegee kon word vir oorweging. En nog meer trots toe die Universiteitsraad toestemming gee dat die kursus kon voortgaan. Hy besluit om haar antwoordstel tot heel laaste te los.

“Dames en here, ons kom nou by ‘n gedeelte in die moraliteitsteorie wat nie noodwendig fatsoenlik is vir die hoofstroomdenke in hierdie veld nie. Ek verwys u na die voorgeskrewe boek, waarvan hoofstukke een en ses ‘n goeie oorsig en samevatting is. Teen eksamentyd moet u in staat wees om vergelykend te kan handel met die vernaamste teoretiese opvattinge oor moraliteit, maar ook in staat wees om die ‘Metafisika van Kwaliteit’ teen hierdie agtergrond te verreken. Kom ons kyk in breë trekke na die vernaamste kenmerke hiervan …”

Die lesing verloop sonder voorval, en hy merk spesifiek op dat sy ook in die klas is. Hoe dan anders? Dit is tog een van haar hoofvakke. Terug in sy kantoor wil hy begin om sy opmerkings vir ‘n latere lesing deur te lees, toe daar ‘n klop aan die deur is. Theuns, sy kollega wat die rol van metafisikus in die departement vertolk, maak ‘n groetgebaar met die hand.

“Ek hoor nou net op die nuus. Daar is in Griekeland ‘n nuwe fonds van munuskripte onder ‘n deel van die ou stadsmuur in Athene gevind. Klink my daar is Stoisynse geskrifte en enkele kurrikula uit van die Dialoogskole onder die goed. Gedog jy sal wil weet. En, o ja, die baas is oppad na jou toe.”

“Ek sal netnou radio luister. Miskien is daar meer nuus. Dit klink na ‘n goeie fonds.”

Theuns is pas weg toe die departementshoof om die deur loer.
“Joop, het jy gou tyd? Die buitelandse besoekers in nou die dag se groep het aangebied dat ons twee mense kan stuur na ‘n internasionale konferensie oor antieke tekste. Hulle het ‘n groot borgskap gekry, ons moet net die koste dek om daar te kom. Ek het reeds met die finansiële komitee gepraat en hulle het so ‘n besoek in beginsel goedgekeur. Jy’t eerste opsie. Ek wou hoor of jy sou belangstel en tyd het. Jou vak eis nou maar eenmaal die oorsteek van grense, akademies en andersins, of hoe? Theuns kan jou lesings waarneem. Hy is mos ‘n amateur argeoloog! En dan het ek gedink om ‘n uitblinker-student saam te stuur. Dalk iemand soos juffrou Gelden …”

Joop skrik vir sy eie reaksie. Die ideë van ‘n internasionale konferensie is die beste kans nog om die nuwe vak op die kaart te plaas en, ten minste vir die korttermyn, finansies te waarborg. Dan kan almal mos sien dat daar iets aan die gang is in die vak. Maar die effense ongemaklikheid en opgewondenheid oor Rita is vir hom nuut.

“Baie dankie. Kan ek na u toe terugkom hieroor? Wanneer is die konferensie?”

“Praat met my voor die einde van volgende week. Die konferensie is oor ‘n maand, maar daar is baie reëlings. En as jy nie kan nie, moet ‘n plaasvervanger gesoek word.”

“Ek glo nie daar is ‘n probleem nie. Maar ek laat weet u.”

Hy voel effens bewerig toe hy die foon se gehoorstuk optel om die departementele sekretaresse te skakel.

“Mev van Tonder, ek soek na ‘n student se telefoonnommer, asseblief. Rita Gelden.”

Hy skryf die nommer meganies af en huiwer eers ‘n rukkie voor hy skakel.

“Is dit Rita wat praat? Dis … O, jy weet wie dit is. Luister, ek wil graag met jou gesels oor iets wat vir my na ‘n groot geleentheid vir ons altwee lyk. Kan ons dalk ‘n afspraak maak? Waar bly jy …? Ek sien. Weet jy, ek ry elke aand verby jou woonstel. Sal so 7 uur vanaand jou pas? Nou goed, dit behoort nie lank te neem nie. Sien jou vanaand.”

Hy het homself feitlik onmiddellik kwalik geneem. Hy kon haar mos na klas ook ontmoet het. Maar daar is die onverklaarbare behoefte om te sien waar sy bly en hoe sy leef. Die res van die middag worstel Joop weer deur een van sy depressies. Die mens-in-die-middel, uitgelewer aan die aardse maar met iets van die bonatuurlike in hom. Weer ‘n stuk kompromie, besef hy. Dalk moet hy iets hieroor skryf.

Daardie aand is hy so verdiep in sy eie gedagtes dat hy amper by haar woonstel verbyry. Dit is op die grondvloer met ‘n park vol beelde oorkant die straat. Toe hy die klokkie lui is hy bewus van ‘n effense knop op sy maag. Snaaks. Hy werk al jare met studente.

“Goeienaand. Kom gerus in.”

Haar beeld ruk hom terug tot die hede, en veroorsaak op daardie moment iets wat sy lewe ingrypend en vir altyd sou verander. Hy sou eers later, toe hy baie tyd gehad het vir dink oor die goed, besef hoe riskant die alledaagse in werklikheid is. Toe hy vir haar kyk, kom goed in hom los wat hy nie geweet het in hom is nie; goed wat ook nie regtig ‘n naam het nie. Dit voel meteens asof jare se afsaksel in een moment deurmekaargeroer word.

“Dankie.” Hy besef dat hy sy skok minder goed weggesteek het deur te lank te bly kyk.

“Tee of Koffie?”

“Koffie sal reg wees, dankie.”

Midde in hul gesels onthou hy dat hy vanaand nog ‘n afspraak het met Roux, een van sy vriende by ‘n naburige universiteit by wie hy ‘n boek wou leen. Hy moes dit vanmiddag in sy dagboek misgekyk het. Hy knip die gesprek teen sy sin kort.

“So, daar het jy dit. Ek dink dis ‘n geleentheid soos min. Is jy lus om saam te gaan?”
“Wel, ek is bietjie onkant gevang, maar ja, dit klink na ‘n besondere kans. Dankie dat julle aan my gedink het.”

“Teen die einde van die week behoort ek meer besonderhede te hê. Kom maak by my ‘n draai dan gesels ons verder.”

“Ek maak so, en nogmaals dankie.”

Sy het saamgestap deur toe, en, soos die noodlot dit wil hê, is sy die res van daardie aand maar altyd iewers in sy gedagtes.

Die kleurespel in die hotelkamer is ‘n onnatuurlike rooi, of het dit net so gelyk? En daar is ‘n skerp grondreuk; ougrond, soortgelyk aan die middag in die eienaardige winkel met antieke ware langs die wandelroete in ‘n ou deel van Athene. Sy vryf met haar hand oor sy skouer, en in haar oë is daar ‘n blou skynsel wat hom tegelyk ontstel en aanhits. Later, toe die moeilikheid te veel was en hy van alles en almal wat bekend was moes wegvlug, het hy homself probeer troos daaraan dat hulle albei dit uiteindelik eens was. Niemand het die ander een gedwing nie. Hulle het saamgestem, en dit het uitgeloop op saamdoen. En so, besef hy, word die waarheid bevestig of sneuwel dit.

“Jy besef natuurlik dat alles nou gaan verander. My Grieks is sleg, maar daardie vrou in die winkel het vroeër vanmiddag dieselfde gesê, gemompel ons sal nie dieselfde wees met ons weggaan as toe ons gekom het nie. En jy het self erken dat die kortste storie net ‘n versinsel is, ten minste wat betref dit wat dieper lê, dat die lewe mense nie uitlos nie, dat ons gedurig moet kompromieë aangaan ter wille van oorlewing.”

“Hierdie goed gebeur, Joop. Ons het elkeen ons eie redes hiervoor gehad. Die soeke na wat waar is, onteenseglik waar, is een van my redes; ek weet al lankal hoe jy voel, hoe ek voel. Ons kan nie die omgewing of die wyn of blote emosie die skuld gee nie. En na alles, hoe moes ons kon weet dat die laaste referaat sou handel oor die fonds van verlore Griekse tekste oor Eros in die Dialoog? Ek en jy voel altwee die akademie.”

Hy wil haar antwoord, maar die nuutgevonde intellektuele sensualiteit wat van hierdie antieke plek iets magies gemaak het, is te sterk.

Hy kan nie meer langer siek speel nie. Hy moet realiteite in die oë staar waaroor hy voor hierdie reis sou gelag het as dit geopper sou word. Hy moet deurdruk.

“Mnr. Goosen, u kan ingaan.”

Die sekretaresse het op ‘n vreemde, kil manier gepraat, so anders as wat hy haar oor al die jare leer ken het.

“Sit asseblief, mnr Goosen.” Hy het dieselfde kilheid by die Rektor bemerk; hulle wat oor soveel saamgestem het.

“U ken reeds die inhoud van die aanklag. Ons het u verdediging in oënskou geneem, en kon geen versagtende omstandighede vind nie. Ons besef u is albei ongetroud, maar die universiteit het sterk standpunt oor verhoudings tussen dosente en studente, veral as laasgenoemde ook nog in die dosent se klas is. Die paneel het konsensus bereik om u oortreding van die gedragskode te handhaaf.”

Dit is reeds twee jaar sedert daardie dag in Griekeland saam met Rita, en hy wonder hoe dit met haar gaan. Hy hoor die see en proe die sout aan sy verhemelte. Wat eet hy vanaand? Hy dink in die laaste tyd so baie … aan so baie goed dat hy nooit regtig aandag gee aan die alledaagse nie. Hy draai om na die gehuggie wat hy nou reeds as sy huis begin beleef. Terwyl hy stap kom dit by hom op dat ons grense oorsteek en dat ons kompromieë en konsensus bereik omdat ons iewers in die middel is, maar die resultate hiervan is nie noodwendig die waarheid nie. Dit het die akademie hom uiteindelik geleer, en ook hierdie ondervinding met Rita. Maar spyt is hy nie oor die insig nie. Meer nog: net soos die hart nie grense het nie, so het die waarheid en grense, so besef hy nou, nie altyd ‘n hart nie.

“Die see raas baie vanaand”, sê hy vir homself toe hy die deur toestoot.

bydrae: Johan Schoeman

No related posts.


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.