AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur Solidariteit gestig is, het vanoggend daarin geslaag om by 'n poskantoor in Pretoria 'n aansoek in te dien om van Vodacom se YeboYethu-swart bemagtigingsaandele ten bate van 'n behoeftige jong "wit" inwoner van Bethlehem-nedersetting aan te koop. AfriForum sal monitor of die aandele wel toegeken word en sal regstappe neem, sou dit afgekeur word. Vodacom sal volgens die aandele-reëls binne 30 dae na 11 September 2008 voornemende aandeelhouers inlig of hulle aansoeke om aandele suksesvol was.
Bethlehem was onlangs in die nuus toe mnr. Jacob Zuma tydens sy besoek aan die "wit" armes in dié nedersetting onder meer gesê het dat armoede geen kleur ken nie. Die Bethlehem-inwoner, vir wie AfriForum die aandele wil koop, is 'n minderjarige seun wat tot verlede week nog in 'n bos in die Irene-omgewing gewoon het en oor geen besittings beskik nie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wil sy organisasie met hierdie stap onder meer toets of die YeboYethu-aandeleskema werklik daarop gemik is om armoede en ongelykhede in die land uit te wis, en of die uitwissing van ongelykhede bloot 'n dekmantel is om rassediskriminasie te regverdig. Sou die aansoek om aandele vir 'n behoeftige "witte" afgekeur word, sal dit volgens Kriel op onbillike rassediskriminasie neerkom wat in die hof getoets kan word. Kriel voer aan dat arm "wittes" deel vorm van diegene wat hulle in 'n ongelyke posisie in die land bevind en dus nie uitgesluit moet word van bemagtigingskemas nie.
In terme van die YeboYethu-skema kry "swart" beleggers 'n totale blootstelling van R15 625 in Vodacom SA vir elke R2 500 wat belê word. Dit word bereik deur afslag te gee op die aandele en finansiering uit toekomstige dividende. Volgens YeboYethu se reëls, verwys "swart" persone na Afrikane, Indiërs, bruinmense en Chinese. By gebrek aan wetgewing rakende rasseklassifikasie en objektiewe maatstawwe vir klassifikasie, bestaan daar volgens Kriel geen wetlike raamwerk waarvolgens Vodacom kan aanvoer dat die behoeftige inwoners van Bethlehem nie ook Afrikane is nie.
Kriel het aangedui dat die Bethlehem-inwoners met 'n "bleek" gelaatskleur hulleself as Afrikane beskou, omdat hulle hulleself diep verbonde tot die kontinent voel. In die lig daarvan dat rasseklassifikasie-wetgewing reeds 15-jaar gelede geskrap is, beroep die inwoners hulle volgens Kriel op president Thabo Mbeki se definisie van 'n Afrikaan, soos vervat in sy "I am an African"-toespraak. President Thabo Mbeki het naamlik op 8 Mei 1996, met die aanvaarding van die land se Grondwet in die Parlement, in sy "I am an African"-toespraak gesê: "Die grondwet, waarvan ons die aanvaarding vier, verklaar ondubbelsinnig dat ons weier om te aanvaar dat ons Afrika-identiteit gedefinieer sal word op grond van ons ras, kleur, geslag of historiese oorsprong."
Kriel het beklemtoon dat AfriForum ten gunste daarvan is dat ongelykhede en armoede uitgewis word, maar dat die YeboYethu-aanbod weinig hiertoe sal bydra en eerder ongelykhede in die samelewing sal aanhelp. Hy wys daarop dat Vodacom se rasvoorskrifte sal meebring dat 'n swart miljoenêr byvoorbeeld YeboYethu-aandele sal kan koop, terwyl behoeftige, werklose "wit" inwoners van die Bethlehem-nedersetting en ander gebiede uitgesluit sal word en die meeste arm "swartes" steeds nie geld het om aandele te koop nie. Die nuwe "swart" elite is dus volgens Kriel die enigste groep wat by Vodacom se rasvoorskrifte baat sal vind, ten koste van armes uit alle gemeenskappe.
AfriForum doen aan die hand dat inkomstevlak 'n beter maatstaf as ras is om ongelykhede en armoede uit te roei. Indien die YeboYethu-aandeelopsie aan almal aangebied word wat byvoorbeeld minder as R1 000 per maand verdien, sal dit volgens Kriel help om ongelykhede uit te wis. Die meeste mense wat dan voordeel trek, sal waarskynlik steeds "swart" wees, maar hulle sal voordeel trek op grond van behoefte en nie hulle ras nie, terwyl arm "wittes" nie uitgesluit sal word nie.
© 1997 - 2008, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.
© 2008 Roekeloos.co.za Navrae Die maatskappy
Nuwe voorblad en inhoud elke Maandag. Ekstra inhoud elke Donderdag.
Alle regte voorbehou!