Roekeloos.co.zaRoekeloos.co.za

AFDELINGS

DIENSTE

TEKEN IN/UIT
op Roekeloos
se weeklikse nuusbrief!

Webwerf bepalings en voorwaardes

ARGIEF

De la Rey De la Rey

Wouter W. Wessels

09/03/2006

Daar is soveel kontroversie en sinlose gebabbel rondom die alombekende liedjie van Bok van Blerk en daarom het ek dit goed gedink om ook maar 'n paar woorde neer te griffel oor hierdie lied en die Generaal waaroor daar gesing word. Ek weet wel dat enige iemand met 'n redelike intakte intelligensie ongelooflik gatvol is vir hierdie onderwerp, maar soms het mense nodig om nog meer gatvol te raak.

Wat my gatvol maak en eintlik de moer in maak, is die feit dat mense dink hierdie liedjie skep een of ander sekte met Generaal de la Rey as die leier! Wat my verder de moer in maak, is dat daar sekere stomp, swaapagtige Afrikaners is wat wel in hierdie onnosele droom verval dat almal nou moet voorlaaiers skoonmaak en begin baklei! Wat de hel?

Dit is 'n liedjie - 'n song! Moet nou nie die ding tot volkslied verhef en alle selfwaarde daarmee saam by die kakhuis af wegspoel nie! Ek sê egter hoegenaamd nie dat ek nie van die song hou nie - ek is mal daaroor.

Die vraag wat ontstaan, is hoekom het Bok van Blerk en Sean Els en whoever else hierdie song geskryf? Hoekom juis oor De la Rey?

Ek dink dit rym! Dit klink mooi! En ja, dit gaan oor 'n tyd waarin die Afrikaner onderdruk was en die belangrikste van alles - in hierdie tyd het die volk 'n leier nodig gehad. Het ons nou 'n leier nodig? Gaan ons nou oor die berge fok en terugbaklei onder hierdie leier?

Voor ek aangaan wil ek eers 'n kardinale vraag beantwoord: Wie was De la Rey? Ek dink min mense weet dit regtig. As 'n mens die man op straat (selfs die goeie Afrikaner) stormloop en hierdie vraag vra, sal die antwoord hopelik wees dat Generaal De la Rey in die Boere-oorlog baklei het en dat hy 'n held is.

En ja, dit is seker waar. Maar bliksem, daar is nog baie meer. En laat my tog toe om net vir so paragraaf of veertien die geskiedenis van hierdie held weer te gee (ek het 'n doel daarmee).

Jacobus Herculaas de la Rey is gebore op 22 Oktober 1847 in Winburg. Hy het geveg in die Basotho-oorlog in 1865 en hy het nie 'n baie aktiewe rol in die Eerste Boere-oorlog gespeel nie. In 1883 het hy lid van die Transvaalse volksraad geword en saam met Generaal Piet Joubert teen Paul Kruger se uitlander beleid gestaan.

Tot kort voor die aanvang van die Tweede Boere (Vryheids)-oorlog was de la Rey daarteen gekant. Hy het dit afgemaak as te vroeg, ongegrond en onnodig. Sy opponente het hierdie houding as lafhartig bestempel. Met die uitbraak van die oorlog het de la Rey tenspyte van sy teenkanting, tog sy plig nagekom en as veld-generaal in Cronje se kommando geveg. Dit was 'n junior amp, maar dit was nie lank voordat De la Rey internasionale faam behaal het nie. Hy het veral opslae gemaak in die eerste veldslag by Kraaipan.

Hy het van die begin af met Cronje kopgestamp oor militêrestrategieë. De la Rey was innoverend en Cronje baie dogmaties. Cronje het hom na Kimberley gestuur (hy het natuurlik bedreig gevoel) om daar die Engelse magte te oorwin.

Tydens die slag by Modderrivier het De la Rey besef dat die boere se tradisionele vegmetodes - wat die wegskuil op kruine van kranse behels het - nie effektief was nie. Hy het gevoel dat dit van die boere oop teikens maak en dat dit veel beter sal wees om die Kakies op die grond aan te val. Hy het loopgrawe in die Riet laat grou en dit was die eerste keer wat hierdie tegniek in oorlogvoering gebruik is. Die oorwinning by Magersfontein was grotendeels te danke aan De la Rey se innoverende en relevante strategieë.

De la Rey het 'n groot rol gespeel om die boere te inspireer om aan te gaan met die oorlog ten spyte van hul swak omstandighede en moedeloosheid. Hy het in die midde van Roberts se plaas-afbrand-strategie Britse voorraadtreine beroof, om sodoende genoeg ammunisie en voedsel te bekom. Hierdie taktiek was stormjaag genoem en dit het hom die reputasie as die Leeu van die Wes-Transvaal laat bekom (ek noem dit spesifiek, omdat Van Blerk daarvan sing).

Na afloop van die oorlog was die Boere arm, plaasloos en moedeloos. Generaals De la Rey, Louis Botha en Christiaan de Wet het na Europa gegaan om fondse te bekom wat die verarmde volk sou kon help.

Met uniewording is De la Rey verkies tot senator. Hy het nie Smuts en Botha se siening rakende die Eerste Wêreldoorlog ondersteun nie en eerder gevoel dat dit meer nodig is om die Unie op te hou as om in ander lande se slaai te gaan krap.

Siener van Rensburg het in 'n visioen van De la Rey gesien waarin hy huiswaarts keer met 'n kaalgeskeerde kop in 'n wa wat versier was met blomme, terwyl 'n swart wolk met die nommer 15 bloed laat reën het. Die boere het hierdie droom gesien as 'n vryheidsbelofte - de la Rey sal hulle bevry! (Let asseblief op die ooreenkoms met sekere Afrikaners se reaksie op Van Blerk se liedjie.) Die Siener het dit egter as 'n teken van dood gesien.

In 'n rebellie teen die inmenging van die Unie in die wêreldoorlog en die inval van Suid-Afrikaanse magte in Suid-Wes Afrika, het baie senior amptenare besluit om te bedank en daardeur hul teenkanting daadwerklik te toon. So het Generaals Beyers en de la Rey op 15 September 1914 na Potchefstroom vertrek om met Generaal Kemp te vergader om hierdie rebellie te bespreek.

Die twee generaals was baie senuweeagtig en het met 'n ompad vanaf Pretoria vertrek. Hulle het verskeie polisieblokkades teëgekom en gedink dat dit vir hul bedoel was. In die werklikheid was die polisie opsoek na die Foster-bende. By Langlaagte het die generaals deur 'n blokkade gejaag en 'n polisieoffisier het op die voertuig gevuur. Die dwaalkoeël het De la Rey getref en met die woorde: "Dit is raak" is hy in die arms van Generaal Beyers oorlede.

In kort is dit wie Generaal Koos de la Rey was. Wat vir my uitstaan (en die rede is, hoekom ek hierdie helse lang relaas geskryf het) is dat die generaal nie wou veg nie - nie omdat hy bang was nie en nie omdat hy 'n hensopper was nie. Hy het nie saamgestem met die totale teenkanting teen die uitlanders nie. Hy het nuwe maniere gesoek om die boere se omstandighede te verbeter. Hy het nuwe strategieë ontwikkel om die vyand te uitoorlê. Hy wou nie daar op die kranse sit en kwesbaar wees en 'n paar skote in die donker skiet nie. Hy wou dus die vyand van aangesig tot aangesig stormloop. Eienskappe van 'n goeie leier. De la Rey is nie 'n simbool van rassisme nie, maar eerder 'n simbool van leierskap en Afrikanerskap.

Dan kom ek terug na die vraag: Hoekom 'n song oor De la Rey? Theo Venter, 'n politieke ontleder, is in die Mail and Guardian aangehaal en hy is van mening dat die song 'n emosionele gatvolheid aanspreek, alhoewel De la Rey 'n vredemaker was. Hy sê dit moes eerder 'n lied oor Christiaan de Wet gewees het, maar hy sê ook dat dit nie sou rym met "lei" nie.

Van die Daily Sun tot die New York Times word daar berig oor hierdie song. Nogal voorbladnuus in die Times!

Met die agtergrond wat ek geskets het, voel ek dat ons die song moet vat as 'n song, maar ek voel dit is great dat die Afrikaner jeug wil opstaan en skree: "De la Rey, de la Rey, sal jy die boere kom lei!"

Die grootste probleme met ons as Afrikanervolk, is dat ons nie saamstaan nie en dat ons 'n moerse jammergathouding het. Ja, ek weet dit is 'n cliché-stelling wat al so oud is soos die terme hervormde en verkrampte, maar dit is belangrik dat ons moet besef dat saamstaan nie beteken dat ons eenders moet wees nie. En my hel, dit beteken ook nie skiet, skop en donder elkeen wat anders praat en lyk nie. Ons gaan nie nou op ons perde klim, FAK-liedjies sing en veg teen die onderdrukkers nie.

En nog minder moet ons nou jammer sê oor die verlede. Meeste van ons was in 1948 nog nie eers 'n gedagte nie; ons het nie saam met die leiers van ouds om die kampvuur gesit en marshmallows braai nie! So hoe kan ons as Afrikaners, verantwoordelik gehou word vir dit wat gebeur het in die verlede. Te hel met regstellende aksie - ek is wie ek is - en ek het regte!

Ek mag lyk en praat en skryf net soos wat ek wil, maar ek mag myself nog steeds 'n Afrikaner noem - ek mag nog steeds trots wees. En trots wees beteken nie om soos 'n verkrampte siel die ou vlag rond te waai nie.

Verandering is verandering. Die regering is die regering. Maar ons as taal- en kultuurgenote mag saamstaan, ons monde oopmaak en opstaan teenoor die ontneming van ons regte.

Ons mag opstaan teenoor regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, grondeise, plaasmoorde, en nog meer. Wat die liedjie oor De la Rey wel vir ons leer, is hoe om op te staan. Generaal De la Rey was gekant teen 'n onnodige bloederige gemors, maar as hy moes veg, het hy. Sy woorde het tot dade oorgegaan. Hy het nie op die kantlyn gesit en kyk, soos 'n tipiese politikus nie. Net soos wat hy gesien het dat die tradisionele strategieë nie werk nie, moet ons nou sien dat terreur en verregsheid ook nie gaan werk nie. Ons moet soos die Generaal na versoening en vrede streef en gelei word na die beloofde land. Die beloofde land beteken nie vir my 'n volkstaat nie - dit beteken dat Suid-Afrika 'n land sal wees waar elkeen ongeag van ras of geslag hul plekkie en vryheid gegun sal word; 'n Suid-Afrika waar 'n Afrikaner 'n Afrikaner en 'n Sotho 'n Sotho kan bly.

Die leeu van die Wes-Transvaal gaan ons nie kom lei nie - dit lê inherent in ons almal om leiers te wees. Lei jouself na die beloofde land met trots en 'n moerse lot Afrikanerskap!

  

© 1997 - 2006, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.

© 2006 Roekeloos.co.za   Navrae   Die maatskappy
Nuwe voorblad en inhoud elke Maandag. Ekstra inhoud elke Donderdag.
Alle regte voorbehou!

Huisgenoot Buitelugkos
Huisgenoot Buitelugkos