Roekeloos.co.zaRoekeloos.co.za

AFDELINGS

DIENSTE

TEKEN IN/UIT op Roekeloos se weeklikse nuusbrief!

Webwerf bepalings en voorwaardes

Die Reformerende Kerk en Gays
Na aanleiding van verskeie briewe wat op Roekeloos verskyn het oor homoseksualitiet, veral dat die Reformerende kerk soos een skrywer beweer "besig is om ´n klop ruggraatlose Jelly visse te word" die volgende:

Die Reformerende Kerk is in 1992 gestig en was die eerste kerk in Suid-Afrika om uit te reik na die gay gemeenskap met die boodskap dat God gay mense liefhet - net soos hulle is. In hierdie opsig staan ons alleen, aangesien die hoofstroom kerke in Suid-Afrika amptelik verklaar dat gaywees sonde! Ons voer dus ´n worstel-stryd om ons klein stemmetjie dik te maak teen die geweldige oormag van ander kerke wat nie met ons wil saam stem dat iemand gay èn Christen kan wees nie.

Is ons ´n sekte? NEE, want ´n sekte is ´n groep mense wat hulleself doelbewus van die res van die gemeenskap afskei om in afsondering te funksioneer. Ons wil egter graag deel wees van ´n bestaande kerk, maar nie een van die groter kerke is bereid om hulle gay lidmate onvoorwaardelik te aanvaar nie! Ons funksioneer dus alleen - nie uit keuse nie - maar omdat niemand ons wil hê nie!

Wat verkondig ons?
Ons verkondig dat gay mense, gay en Christen kan wees! Ons wys op die algemene sondetoestand waarin alle mense verkeer en dat redding deur Jesus Christus vir alle mense moontlik is. Ons verkondig God se liefde vir alle mense (Joh 3:16; 1 Joh 4:9). Ons fokus op die feit dat ons uit genade gered word, en nie op grond van die slaafse navolging van die wet nie.

Ons verkondig NIE ´n sogenaamde"gay teologie", waar ons Jesus en sy dissipels as gay mense voorstel, of dat Rut en Naomi lesbies was NIE! Ons is ook nie oop vir enige vermenging met ander godsdienste, kultusse of esoteriese denke nie. Ons staan vir hoë morele waardes en verwerp alle vorme van sedeloosheid of losbandigheid. Ons hoofdoel is om gay mense na Jesus Christus te lei, sodat hulle vrede met God, met hulleself en met hulle medemens kan kry. Ons bely die Drieënige God: Vader, Seun en Heilige Gees as die enigste Verlosser. Ons verkondig bekering van ´n sondige lewenswyse, waar God misken en verag word en ons roep mense om daagliks saam met GOD te lewe. Bekering beteken NIE dat ´n gay persoon se seksuele oriëntasie moet verander nie!

Wat is ons siening oor die Bybel?
Ons glo in die Bybel as die Woord van God, maar ons eis van die Bybelgenootskap om al die sinspeling op homoseksualiteit in toekomstige vertalings weg te laat, aangesien dit nie ´n korrekte weergawe van die Hebreeuse of Griekse grondtekste is nie. Ons glo dat die Skrif kultuur-histories gelees moet word en dat elke teks binne die groter konteks verstaan moet word.

Wat van die gay veroordelende tekste?
Die "gay veroodelende tekste" Gen 19:5 (parallel met Rigt 19: 22); Lev 18:22; 20:13; Rom1:26,27; 1 Kor 6:9 en Tim 1:10 handel oor homoseksuele dade, maar het niks te doen met homoseksuele oriëntasie nie! In die oorspronklike tale praat die Bybel nêrens van gaywees soos wat ons dit vandag verstaan , naamlik ´n fisiese en emosionele aangetrokkenheid tot iemand van dieselfde geslag nie. Wat die Bybel wel veroordeel is (homo) seksuele dade as magsvertoon en intimidasie, of as afgodsaanbidding en prostitusie. Die agtergrond waarteen Lev 18:22; 20:13 geskryf is handel oor die Kanaänietiese vrugbaarheidskultus en tempel prostitusie. Homoseksuele prostitusie was ´n gewilde en wyd beoefende praktyk in Kanaän. Homoseksualiteit is deur hetroseksuele mense as ´n kulties-religieuse praktyk (praktyke wat deel van godsdienstige handelinge uitmaak) gebruik Hierdie gebruike word dus hier afgewys en nie homoseksualiteit per-sé nie. Die Afrikaanse Bybelvertaling skep ongelukkig die indruk dat gaywees per definiesie sonde is, maar dit sal hopenlik in toekomstige uitgawes van die Bybel reggestel word.

Pieter Venter (Media Skakeling)

Die Reformerende Kerk kan gekontak word by reformerendekerk@hotmail.com

© 1997 - 2004, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.

© 2008 Roekeloos.co.za   Die maatskappy
Alle regte voorbehou!

My Life
Boek
Bill Clinton
My Life