// jy lees ...

Boeke

Afstande

Afstande

Roekeloos

Dan Sleigh se jongste werk is ’n historiese roman.

Waar Eilande gesitueer is aan die begin van die Westerse teenwoordigheid aan die Kaap, is Afstande baie nader aan die grondslae van die Westerse beskawing self. Dit is gegrond op die Anabasis van Griekse skrywer-soldaat Xenophon, waarin hy verslag gedoen het oor wat al bestempel is as een van die groot avonture in die geskiedenis van die mensdom.

Hierdie “avontuur”, wat in 401 v.C. begin het, was niks minder nie as een van die skreiendste gevalle van menslike ontbering en uithouvermoë. Die avonturiers was ’n leër van tienduisend Grieke wat as huursoldate ingespan is om die destydse koning van die Persiese Ryk te ontsetel.

Sleigh se briljante ingewing was om naas Xenophon nog ’n hoofkarakter in te bring, naamlik die Joodse eunug Nagri, wat as ’n profeet grootgeword het in Babilon, waar die Israeliete toe in ballingskap was. Nagri word deur Xenophon in diens geneem om die Anabasis uit sy kriptiese notas saam te stel.

Sleigh se roman is benewens ’n uitmergelend lewensegte voorstelling van een van die merkwaardigste militêre veldtogte in die geskiedenis ’n uitbeelding van die mens se soeke na identiteit en vastigheid in ’n vinnig veranderende en genadelose tyd.

Sleigh wys hoe godsdiens en ideologie hierdie soeke paradoksaal rig én kompliseer. Deur sy twee skrywerkarakters, hul verbondenheid én die wrywing tussen hulle, ondersoek hy ook die hartstog, begeertes, konflikte, maar veral die ontroering wat skrywerskap onderlê. Só maak Sleigh van ’n antieke gegewe iets absoluut kontemporêr en vermag hy wat alle groot skrywers regkry, en dit is om die standhoudendheid van die universeel menslike te bevestig.

Koop / Buy Afstande

Afstande

Afstande

Skrywer: Dan Sleigh
ISBN: 9780624049098
Prys: ongeveer R 275.00
Formaat: Sagteband, 648pp

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)


Share and Enjoy:
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • laaik.it
  • Ping.fm
  • RSS
  • Digg
  • FriendFeed
  • Google Buzz
  • Live
  • MySpace
  • Twitter

No related posts.


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.

Switch to our mobile site