Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Teen die agtergrond van die woelinge en onsekerhede van vandag se Suid-Afrika is hierdie waarskynlik die intiemste verhaal wat Brink nog geskryf het, sê die uitgewer van die boek, Human & Rousseau. Ruben Olivier se lewe is besig om uitmekaar te val. Sy vrou is dood. Die biblioteek wat die passie van sy lewe was, het hom ´n pakket aangebied om plek te maak vir ´n jong swart opvolger. Sy beste vriend is sinneloos vermoor. Sy hede word deur drie figure oorheers.
Daar is sy huishoudster, Magrieta, wat hom nie toelaat om te vergeet van die werklike wêreld rondom sy soliede ou huis in Nuweland nie. Daar is Antje van Bengale, ´n jong slawemeisie wat drie eeue gelede tereggestel is en nou nog in die huis bly spook. En dan is daar Tessa, wat een nag uit die reën opdaag op soek na blyplek en soos ´n donker maan die landskap van sy lewe belig met die teenstrydige onthullinge uit haar verlede en die uitdaging van haar troebel seksualiteit.
Met ´n aanslag wat wissel van die ligte en speelse tot die nostalgiese en ontstellende, word Donkermaan ´n besinning op liefhê en oud word, op skuld en onskuld, op verlies en wanhoop en hoop, op drome en werklikheid, op verantwoordelikheid teenoor hede, verlede en toekoms.
“Peter Carey, Garcia Marquez, Solzhenitsyn – André Brink is in dieselfde klas” – The Gaurdian.
Die Engelse weergawe van die boek word uitgegee deur Random House as The Rights of Desire.
No related posts.















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.