“And now for something completely different”, sou die Engelse sê. Op zyn Afrikaans kan mens seker sê: “Hier kom ´n ding!” Want ´n boek soos Draaijakkals tel mens nie elke dag op nie – veral nie in Afrikaans nie. Die naaste onlangse soortgelyke boek is seker André P Brink se Duiwelskloof, daardie rondomtalierit in Gamkaskloof – Die Hel – waarin jy nooit seker is wat die werklikheid is en wat nie. Maar Draaijakkals is tog ´n heel ander ervaring as Duiwelskloof – en beide is hoogs boeiend en vermaaklik en bly by jou, lank nadat jy hulle neergesit het.
Op die speelse voorblad van die boek word dit al beskryf as ´n skelmroman – ´n interessante kategorie. Die flapteks van die boek sê Weideman sluit hom met Draaijakkals aan by die pikareske tradisie wat uit die 16de eeu in Spanje dateer en wat in die moderne tyd uiteenlopende gedaantes gekry het by skrywers soos Thomas Mann, Günter Grass, Louis Paul Boon, Jorge Amado en André P Brink.
Draaijakkals is ´n dik boek – 569 bladsye – maar dis beslis nie ´n swaar boek nie. ´n Mens kuier ligvoets daardeur en verkneukel jou in Weideman se speelse gebruik van Afrikaans, vol ou Noord-Kaapse, Jiddisje en San-woorde soos revinnis, handjiekaie, feygel, ja-oempie, vasget’kam en n’tgoe. Daarmee vang Weideman jou ook uit, want mens blaai kort-kort na die agterblad toe om uit te vind wat die woorde beteken, maar daar’s geen amptelike lys van verklarings nie. En jy wil nie die naskrif lees nie, want jy wil nie hê die spanning oor wat met die onwaarskynlike held gebeur, moet verbeek word nie. Maar as jy met ´n sug aan die einde van die boek kom, en dan die naskrif lees, kom jy agter dis waarin al die vreemde woorde uitgelê word – sommer so as deel van die gesels. Maar die woorde pas so gemaklik in die storie in en dis so deel van die karakters dat dit nie keer dat jy die stof van droogtes en die skrik van oorstromings saam met hulle beleef en voel en proe nie.
Waaroor handel Draaijakkals? Basies oor Niklaas/Nicolaas/Vossie se epiese soektog na sy pa en sy herkoms, met behulp van onder meer ´n obskure rympie en ´n paar ander raaiselagtige dokumente. Maar so prosaïes is dit beslis nie. Weideman gee op die eerste bladsy ´n subtitel en ´n opsomming: “Draaijakkals, oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus – stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die Onderveld waarin die verteller se wedervaringe oor sowat drie dekades aan die leser voorgehou word, beginnende met ´n ontvangenis in ´n bakoond, padlangs verder verby Samaritane wat op hulle moer kry, gehoorsame en ongehoorsame meisies, ´n spul Nazi’s en diverse holmolle, en eindigende met ´n tuiskoms tussen ´n klomp skewe brode in ´n anderster bakoond.”
As dit jou nie lus maak om uit te hardloop en die boek onder hande te kry nie, sal niks nie. Dis nie ´n boek vir hiper-preutses nie, seks word eenvoudig en intens geniet en van die uitdrukkings sal mens nie in teologiese handboeke kry nie, maar dis nooit banaal nie en mens sal baie bekrompe moet wees om hieroor aanstoot te neem.
George Weideman het ´n groot deel van sy vulletjiejare, soos hy dit noem, deurgebring in die wêreld waaroor hy in Draaijakkals skryf – en dit wys. Op 18 het hy gedebuteer met ´n digbundel Hondegaloppie en nog ´n handvol het daarop gevolg. Hy spog met twee verhalebundels en verskeie jeugromans. Los my uit, paloekas!, Die optog van die aftjoppers en Dana se jaar duisend is al drie met Sanlampryse bekroon. Sy roman Die onderskepper het die W A Hofmeyrprys en die tweede prys in De Kat en Sanlam se romanwedstryd verower.
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.