Stuur jou resensie vir ons by
Te midde van 'n suksesvolle verhoogloopbaan waarin sy sterk, aardse vroue uitgebeeld het, gaan Antoinette Pienaar na Mali om haar gedagtes uit te suiwer. Daar doen sy serebrale malaria op wat haar byna laat sterf. Uiters verswak gaan sy huis toe na haar ouers in Beaufort-Wes. Daar hoor sy van 'n ou Griekwa-bossiedokter, oom Johannes Willemse, legendaries vir sy helingskuns.
Toe sy, Afrikaanse sangeres en aktrise, die eerste keer staan by sy plaaswerkershuisie teen die berg op 'n afgeleë plaas sê hy: "Hier kom Juffrou nou eers aan!" Want toe het oom Johannes al byna veertig jaar lank drome gekry van die vrou met die rooi bakkie aan wie hy sy kennis sou oordra. Kennis wat terug tot in die antieke verskiet van oupa na kleinseun aangegee is.
Op byna 90 nog rats en sterk genoeg om daagliks die berg in te vaar agter kruie aan, begin oom Johannes haar stadig na liggaam en gees te dokter tot sy weer so blakend gesond soos hy self is.
Ná sewe jaar se vakleerlingskap volg hierdie boek oor wat Karoo-kruie vir jou kan doen. Hoe dit jou kan roer - want in oom Johannes se benadering kort nie net jou liggaam heling nie, jou gees word saam gedokter. Met 'n weelde aan volkleurfoto's, stories, raad en indekse is dit 'n familieboek vir blaai, lees en naslaan.
In Kruidjie roer my hoor jy die warm stem van Antoinette Pienaar soos duisende luisteraars na haar gewilde rubriek Vrydagmiddae op RSG dit ken. Die boek word uitgegee in samewerking met RSG.
Amore Bekker, aanbieder van Kruie kraai koning op RSG, sê: "Kruidjie roer my is nie 'n mediese gids nie maar 'n harts-gids. Alles kom uit Antoinette se hart uit. Volg dit en jy sal haar heling ervaar."
Uit Kruidjie roer my:
Oom Johannes het my plegtig een middag, kort nadat ek by hom begin leer het, twee verskillende bossies gewys en met 'n breë, selfversekerde glimlag gesê: "Dis nou die twee bossies wat vir Juffrou gesond gemaak het!" Hy het sy hand diep in 'n papiersak gedruk en met 'n klompie kruie tussen sy vingers uit die sak uitgekom: "Dis nou 'n gryp, so as ek vir Juffrou sê vat 'n gryp van dié en twee grype van daai, dan weet Juffrou wat 'n gryp is." Hier het ek die wonder begin ontdek van hoe mens kruie afmeet en voorskryf. My wyse ou leermeester het my geduldig, en altyd met so 'n sweempie van 'n glimlag, oor en oor dieselfde bossie gewys totdat my oë genoegsaam oopgegaan het dat die kruie met my kon praat.
"Gaan drink die kruie en glo!"
Oom Johannes het my plegtig een middag, kort nadat ek
by hom begin leer het, twee verskillende bossies gewys
en met 'n breë, selfversekerde glimlag gesê: "Dis nou
die twee bossies wat vir Juffrou gesond gemaak het!" Hy het sy
hand diep in 'n papiersak gedruk en met 'n klompie kruie tussen
sy vingers uit die sak uitgekom: "Dis nou 'n gryp, so as ek vir
Juffrou sê vat 'n gryp van dié en twee grype van daai, dan weet
Juffrou wat 'n gryp is." Hier het ek die wonder begin ontdek van
hoe mens kruie afmeet en voorskryf. My wyse ou leermeester het
my geduldig, en altyd met so 'n sweempie van 'n glimlag, oor en
oor dieselfde bossie gewys totdat my oë genoegsaam oopgegaan
het dat die kruie met my kon praat.
Ek het getrou elke dag my dasbos en klipkruid
gedrink en gevoel hoe liggaam en gees groei soos die
kruie deur my liggaam werk. Omdat die malaria my
niere en my lewer beskadig het, kon my liggaam
homself nie behoorlik ontgif nie. Soos wat die kruie
my liggaam skoongemaak het, so het die goudkleurige
aftreksel ook my gees begin ontgif van die geweldige
trauma wat my siekte veroorsaak het.
Die gif van trauma gaan sit in die geheue van elke sel en
lank nadat die fisieke organe van die trauma herstel het, het
die trauma nog diep mote gemaak in my selgeheue. Alles wat
met ons gebeur, word in ons selgeheue geberg, en
hartseer en trauma maak baie diep merke. Dit
het gevoel of die trauma van my siekte soos 'n
ploeg diep deur die grond van my binnelandskap
geskeur het. Dasbos en klipkruid het die grond in
my selgeheue begin gelyk maak en hark en só die
grond voorberei sodat die saadjies van genesing
gesaai kon word.
Nadat oom Johannes my my eerste gryp gewys
het, het hy my stip aangekyk, en gesê: "As
mens kruie gebruik, moet 'n mens glo." Ek het
vervaard in my verstand rondgetas en probeer dink
wat moet 'n mens dan nou glo as jy kruie gebruik.
Almaardeur my vakleerlingskap het ek agtergekom
ek moet die dinge wat die oom sê
wat ek nie dadelik verstaan nie, laat lê en
broei totdat hulle eendag onverwags uitbroei
en jy jou hande in verwondering
saamslaan oor die eenvoud daarvan. So
het ek begin agterkom as ek my kruie
sluk met die geloof dat dit na die regte
plek toe sal gaan om te genees, is dit asof
ek die kruie toestemming gee om hulle
werk te doen. Ek hoef nie wetenskaplik te
verstaan op watter manier die kruie met
watter orgaan werk nie.
Partykeer kom die oom met 'n kruiemengsel hier by my
huisie aan en as ek vra: "Nou, waarop werk dit, Oom?" sal hy
ongeërg sê: "Ag, Juffrou, dis maar net om jou sterk te maak."
En as ek hierdie onbekende kruie drink, vertel my liggaam my
waarop hulle werk. Genesing kan sterk en seker plaasvind as
ons die kruie hulle werk met blinde geloof laat doen.
Baie keer as 'n mens siek word, of as die dokter vir 'n mens sê
jy het 'n sekere siekte, word die hart gevul met vrees en angs, en
hierdie emosies strem die genesingsproses. As hier 'n pasiënt
by die oom kom en hy "sien" dat die persoon byvoorbeeld
kanker het, sal hy nooit vir daardie mens sê wat hy sien nie, hy
sal vir so een net kruie gee en sê: "Gaan drink die kruie en glo!"
Toe ek die oom eenkeer daaroor uitvra, het hy geantwoord:
"Partykeer kan gedagtes 'n mens doodmaak. As daai mens
weet hy het kanker, dink hy homself sommer gou dood."
So het ek my dasbos en my klipkruid bly drink en so uit die
hoek van my oog my genesing in geloof dopgehou. Ek moes
'n paar maande lank van die kruie drink voor my liggaam
sterk genoeg was om ver te loop, maar die werk op die werf
het nie stilgestaan nie. Tussen die hout saag, water aandra,
leer askoek bak, buiteskerm pak vir die somer se vuurmaak en
leer slingervel gooi, het my liggaam die kans gekry om met sy
unieke gereedskapskissie die herstelwerk te begin doen.
Die proses van die genesing is net so belangrik as die uiteindelike
genesing self. Die medisyne wat jy oor die toonbank
koop, verlig die simptoom binne een uur en so word die proses
van die genesing oorgeslaan. Ek het ál minder nodig gehad om
my genesing te verstaan; dit was vir my genoeg om dit te voel.
Ek het begin besef dat as jou genesing bly voortgroei, mense
wat na aan jou is hierdie genesing aanvoel, en deur jóú genesing
word die kollektiewe bewussyn van almal om jou verhoog.
Koop / Buy Kruidjie roer my ...
Stuur gerus jou brokkie nuus, bydrae of reaksie vir ons. Ons plaas (amper) alles!
Maak jou stem dik op ons Forum, stuur jou kommentaar / bydrae na of faks dit na 0866668575.
© 1997 - 2008, Roekeloos.co.za, bydraers, skrywers en kunstenaars. Roekeloos.co.za besit kopiereg op alle inhoud vir die doel van publikasie, tensy anders aangedui, uitgesluit die kopiereg van sekere bydraes wat berus by die outeurs. - LET WEL: Die sienswyses hier uitgespreek en die grafiese materiaal wat hier vertoon word reflekteer nie noodwendig die mening van Roekeloos.co.za nie, maar slegs die van die betrokke skrywer, bydraer of kunstenaar.