Roekeloos
“Die Groot Biblioteek van Alexandrië was die grootste van sy soort in die antieke wêreld met moontlik sowat 700 000 skrifrolle.” (Wikipedia 2010)
Mense verskil oor hoe die Groot Biblioteek van Alexandrië vernietig is, maar dit is wel bekend dat strydende geloofsoortuigings vir baie skade aan die instelling verantwoordelik was.
Die Spaanse regisseur Alejandro Amenábar se weergawe, Agora, vertel die verhaal met behulp Hupatia (Rachel Weisz), ‘n filosoof en sterrekundige wat gestudeer en onderrig het by die beroemde instelling. Hupatia sukkel met gevorderde wetenskaplike teorieë, onbewus van ’n veranderende wêreld waarin die Christendom van krag tot krag groei en godsdienstige en politieke faksies uiteindelik vir die biblioteek se vernietiging sal sorg.
Rachel Weisz is ‘n indrukwekkende Hupatia. ’n Stralende, intelligente jong vrou wat almal om haar boei en bekoor met opwindende nuwe idees oor die die heelal – idees wat haar uiteindelik die toorn van godsdiens op die hals haal en tot haar dood lei.
Alejandro Amenábar se kamera fokus (met minagting?) op die nietigheid van die mensdom in ’n groter heelal en hy skroom nie om die skares mense uit te beeld as klein goedjies wat los loop oor die hele plek nie.
Die film se grootste probleem is dat die eerste helfte van die film baie sterker is as die tweede. Die verskillende politieke verskuiwings herinner aan oorlopery in die Suid-Afrikaanse parlement en mens moet mooi kophou om te weet wat aangaan. Gevolglik trek die storie swaar voor dit neerslaan in ’n teleurstellende klimaks.Agora is ’n intelligente en uitdagende drama met ‘n uitstekende vertolking deur Rachel Weisz, dit alleen regverdig haar dominante posisie op die film se plakkaat en die geld vir die fliekkaartjie. Dis net jammer die rolprent verloor fokus iewers langs die pad.
Regisseur: Alejandro Amenábar
Met: Rachel Weisz
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
Bron
Wikipedia. 2010. Alexandrië. http://af.wikipedia.org/wiki/Alexandrië (5 September 2010)
3 / 5
Related posts:
















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.