Roekeloos
Lars von Trier stel nie belang in jou opinie nie.
Von Trier het by geleentheid gesê hy maak nie films vir gehore nie. En hoekom sal hy. Hy word nie sonder rede gereken as een van die beste regisseurs van die moderne tyd nie. Sy fokus is eksklusief op sy kuns – sy beste werk te alle tye, soos hy goed dink.
Moet nie dink jy gaan hom sommer fout nie. Die inleidende beelde van Antichrist is uitstekend verfilm. ’n Paartjie se seksuele passie word in strak beelde vasgevang, terwyl hul enigste kind na sy dood val.
Dis gewoonlik hier waar die histeriese massamedia inval oor kuns wat dan nou sodanig die grense van betaamlikheid oorskry. Een of twee skote uit ’n film word buite konteks geruk en gebruik om ’n hele film sleg te sê. Geen woord word ooit gerep oor simboliek of iets van die aard nie.
Simboliek is juis waaraan Antichrist ryk is. Studente van die filmkuns sal lank besig gehou word deur dié een. Wat jy moet weet is dat die film jou sal aanraak. Jy sal moontlik nie kan verduidelik hoekom nie, maar jy sal met daai gevoel onder lede die teater verlaat.
Antichrist het net twee (naamlose) karakters. Willem Dafoe is voortreflik as die man en Charlotte Gainsbourg briljant as die vrou. Gainsbourg aanvaar nie sommer enige rol nie en het veral die keer met hart en siel gespeel.
Meer moet jy nie weet voor jy Antichrist gaan kyk nie. Vermy enige voorprente. Die belangrikste is dat diegene wat baie sensitief is en mense wat glo dat hul lewensweg geen verruiming nodig het nie beslis tuis moet bly.Antichrist is die beste filmkuns wat ons nog vanjaar kon aanskou.
Regisseur: Lars von Trier
Met: Charlotte Gainsbourg & Willem Dafoe
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
4.5 / 5
No related posts.
















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.