Met: Johnny Depp, Penélope Cruz, Jordi Molla, Rachel Griffiths en Ray Liotta
Regisseur: Ted Demme
Die rolprent Blow is gebaseer op Bruce Porter se nie-fiksiewerk met dieselfde titel en vertel die ware verhaal van George Jung, die eerste Amerikaner wat saam met die Colombiaanse dwelmkartel-leier Pablo Escobar gewerk het om in die sewentigerjare kokaïene na Amerika te begin smokkel.
Die fliek strek oor vyf dekades van Jung (uitsonderlik uitgebeeld deur Johnny Depp) se lewe, van sy eenvoudige begin met die smokkel van dagga op die Kaliforniese strande totdat hy verantwoordelik was vir die invoer van 85% van die kokaïene wat in die 1970′s en 80′s Amerika binnegekom het.
Die verhaal ontvou in ´n terugblik verteltrant, en begin by Jung se moeilike kinderdae waar sy ma (Rachel Griffiths) hom leer dat om ryk te wees ´n edel ideaal is en sy pa (Ray Liotta) 14-uur per dag werk en steeds nie voor kan bly met geld nie.
Liewers as om net nog ´n werker soos sy pa te word, verhuis Jung na Kalifornië waar hy die son, die liefde en die winsgewende plesiertjies van die verkoop van dagga ontdek. Aan die begin is dwelmsmokkelary net ´n manier om geld in die hande te kry vir sy los, onafhanklike lewenstyl, maar gou sorg hy dat sy lugwaardin-vriendin (Franka Potente van Run Lola Run-faam) dwelms na die Ooskus smokkel.
Tydens tronkstraf vir die besit van dwelms, ontmoet Jung vir Diego Delgado (Jordi Molla), ´n praterige tronkvoël wat reken dat hy in die binnekringe beweeg van Colombië se groeiende dwelmhandel. Na hulle vrylating, stel Delgado vir Jung voor aan Pablo Escobar (Cliff Curtis), die multi-miljoenêr grootbaas van die internasionale handel in kokaïene, wat met die jong Amerikaner begin saamwerk om tonne kokaïene na Amerika uit te voer.
Gou rol Jung in die geld, maar terwyl hy Amerika insleep by die groot kokaïene-epidemie van die 80′s, besef hy dat die lewe meer inhou as net hedonistiese plesier. Uiteindelik val sy verhouding met sy vrou (Penelope Cruz), dogter en familie uitmekaar, saam met die miljard-dollar dwelmkoninkryk wat hy gebou het.
Terwyl die eerste helfte van die fliek die kleurvolle jol van die era weergee, vou David McKenna en Nick Cassavetes se draaiboek effens in die tweede helfte omdat dit neergetrek word deur die feit dat Jung se lewe gevolg moet word. Ted Demme (The Ref, Beautiful Girls) se regie is egter so goed, en die akteurs so oortuigend, dat dié swakpunt amper onopmerklik is.
Johnny Depp se eksentrisiteit en effens afwesige persoonlikheid pas die rol soos ´n handskoen. Van sy somber stemoorklankings tot die uitbeelding van Jung se fabelagtige vooruitgang en ineenstorting, is hy só oortuigend dat dit moeilik is om te glo dat jy nie na ´n dokumentêr sit en kyk nie. En of jy hom nou aanbid of nie kan verdra nie, sal dié rol, wat sonder twyfel die hoogtepunt van sy loopbaan tot dusvêr is, jou asem wegslaan.
No related posts.















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.