Kieslys

Close


*/

07 Desember
2016
Flieks & TV
457 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Die Rebellie van Lafras Verwey

Die bekende radiodrama en verhoogstuk, Die Rebellie van Lafras Verwey, uit die pen van bekroonde skrywer, Chris Barnard, gaan binnekort lewe kry op die silwerskerm met gesoute akteur, Tobie Cronjé, in die hoofrol.

Hierdie tragedie-komedie is gebaseer op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek. Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Hy werk in die Staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander. Wanneer hy Petra (Chantelle Phillipus), ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg, begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word. Komedie, drama en elemente van fantasie, word verweef in ’n aangrypende storie, van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom, van ’n beter wêreld vir almal, te verwesenlik.

Die Rebellie van Lafras Verwey word vervaardig deur geliefde aktrise en regisseur, Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr, onder leiding van opkomende filmmaker, Simon Barnard. Laasgenoemde maak ook sy debuut as regisseur van ’n vollengte speelfilm met dié boeiende verhaal.

Simon, seun van Katinka Heyns en Chris Barnard, het in die vermaakbedryf grootgeword. Sy eerste rol in ’n fliek, was as die jong Benjamin Komoetie in die treffer, Fiela se Kind. Buiten vir die regie en vervaardiging van ’n dokumentêr oor sy pa vir kykNET en musiekvideos vir Die Heuwels Fantasties, is hy ook die skepper van 60 programme, in samewerking met kykNET en Medihelp, oor geestesgesondheid (’n Lewe met … / Living with …) saam met psigiater, Dr. Franco Colin. Sy eerste professionele kennismaking met ’n drama was op die stel van Die Wonderwerker, met sy pa as skrywer en ma as regisseur, waar hy fotografie, redigering en regie van materiaal agter die skerms behartig het. Simon is tans mededirekteur van Sonneblom Ateljees, wat in 1975 deur Katinka gestig is.

Katinka Heyns is bekend in radio-, televisie-, film- en teaterkringe, as aktrise en regisseur en is al met verskeie toekennings bekroon, waaronder die internasionale Crystal-toekenning vir Vroue in Rolprente, tien MNet Vita-toekennings, die Rapport City Press Vrou van die Jaar-toekenning, die Ere-Kanseliersmedalje van die Tswane Universiteit van Tegnologie, ’n FAK-erepenning en ’n SAFTA-prys vir lewenslange bydrae tot die bedryf. Sy is ook die eerste vrou wat in die Nasionale Rolprent- en Televisiestigting se Hall of Fame opgeneem is en deur die Departement van Kuns en Kultuur as raadslid van die Nasionale Rolprent- en Videostigting aangestel is. As verhoog- en rolprentaktrise, het sy al saam met die room van Afrikaanse kunstenaars opgetree, met hoofrolle in verskeie flieks soos Pappalap, Jannie Totsiens, Eendag op ’n Reëndag en Babbelkous en Bruidegom saam met Tobie Cronjé. In 1987 maak sy haar debuut as rolprentregisseur en –vervaardiger, waarna ’n rits suksesvolle films soos Fiela se Kind, Die Storie van Klara Viljee en Paljas, volg. Laasgenoemde was ook die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat aanvaar is vir ’n Oscar-benoeming. Haar mees onlangse film, Die Wonderwerker, is ook met lof ontvang. Haar D Phil (ere-doktorsgraad – TUKS) en onlangse erepenning van die Akademie van Wetenskap- en Kuns, gee erkenning aan haar oorkoepelende bydrae tot die bedryf.

Die Rebellie van Lafras Verwey sal op 9 Maart 2017 by die Woordfees in die Kaap bekendgestel word. Bekendes soos, Neels van Jaarsveld, Chantell Phillipus, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius het ook rolle in dié fliek wat op 7 April 2017, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik word.




2 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Flieks & TV
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Flieks & TV
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Flieks & TV
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
15 November 2005
Flieks & TV
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.
24 Mei 2012
Flieks & TV
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

State Fracture | Roekeloos
2017-06-16 13:03:07
[…] span wat verantwoordelik was vir Pay Back the Curry is verantwoordelik vir State […]...
Gert vd Merwe
2017-06-08 09:28:55
JAN JACOBS. Dit is n skreiende skande. Geen mens op aarde kan in Marius Louw se voetspore volg nie, ...
Die intimiteit van ons greep | Roekeloos
2017-06-01 13:52:50
[…] Chameleon se eerste selfgeskrewe en selfgekomponeerde Afrikaanstalige album sedert 2009, j...

Advertensie