Dit is die jaar 2018 en jou toaster en mikrogolfoond is vasberade om jou gat te skop.
Onthou jy The Terminator, Terminator 2: Judgment Day en Terminator 3: Rise of the Machines? Wel, vergeet daarvan. Terminator Salvation is ‘n oorlogfliek. Die vierde film in die Terminator-reeks raak ontslae van die afwisseling tussen die verlede, hede en toekoms. Dit skets geen prentjies nie, dra geen boodskap nie. Daar is geen hardkoppige boosaard wat nie wil sterf nie.
Terminator Salvation gooi goed rond. Dit is veral stukke metaal wat oor die skerm vlieg, want alles met ‘n LCD-liggie wil die mensdom uitwis en die mens staan mos nooit terug nie. In die movies is die mens nooit sofapokkels, vasgegroei voor die TV, nie. Mans is Christian Bale, wat heeltyd met ‘n hees stemmetjie praat. (Het jy geweet? Sy pa was ‘n Suid-Afrikaner.) Vrouens is Moon Bloodgood, op ‘n stadium op Maxim se Hot 100.
Die grootste deel van die film voel bietjie deurmekaar. Daar is goeie aksietonele, maar geen rigting nie. Dan daag die laaste halfuur op. Dit is ‘n aksie-orgie, soveel so dat jou stoel ‘n veiligheidsgordel nodig het. Dit trek ‘n paar los punte bymekaar en dit gooi ‘n verrassing in die pot.
Terminator Salvation wys mens net weer op die waarde van ‘n definieerbare bad guy in ‘n aksiefliek. Daar moet ‘n karakter wees wat ‘n doelwit stel of die teiken is, daarsonder sukkel dit maar. Die akteurs in Terminator Salvation slaag byvoorbeeld glad nie daarin om die storielyn te dra voor die T-800 op die toneel verskyn nie.
Terminator Salvation se grootste dilemma is juis die storie, en dit sal altyd die probleem bly vir enige volgende films in die reeks. Volgelinge sal weet dat die hele storie word reeds in die eerste twee films vertel deur John Connor. Enige nuwe films sal maniere moet vind om die ou storie op ‘n nuwe manier aan te bied en terselftertyd te voldoen aan die verwagtinge van aanhangers van die reeks.
Hou jou ore oop vir Brad Fiedel se oorspronklike temamusiek wat hier en daar gebruik is deur die komponis. Altyd ‘n wenner in ‘n gewilde reeks. Ons hoor ook “Come with me if you want to live.” en … sit jy … “I’ll be back.”
Christian Bale se poster boy-voorkoms maak ook geen afbreek aan sy goeie spel nie. Dit is moeilik om aan ‘n beter akteur te dink vir die rol van John Connor. Mens wil sover gaan om te sê dat hy ‘n beter Connor as ‘n Batman is. As iemand net vir hom ‘n suiglekkertjie kan gee vir die stemmetjie.
Uit ‘n estetiese oogpunt word kleur baie goed aangewend om ‘n apokaliptiese landskap te verf.
Regisseur: Joseph McGinty Nichol (skuus McG)
Met: Christian Bale, Helena Bonham Carter, Anton Yelchin, Bryce Dallas Howard, Jane Alexander, Michael Ironside, Sam Worthington & Moon Bloodgood
3½ / 5
07 Junie 2009
Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Related posts:















[...] Bloodgood is te sien in die nuwe Terminator Salvation. Moon Bloodgood Deel met [...]