3D is (nog nie) vir almal nie. Soos in dié geval waar jy nie regtig kan onthou waar dit uitgestaan het nie. Of as jy rêrig ongelukkig is krap die bril, waarvoor jy ekstra moes betaal, jou neus. Die dag as die 3D-films lyk soos die 3D-advertensies wat vooraf vertoon, is die dag wat ek die 3D-weergawe kies – dis nou as ek so gelukkig is om ‘n keuse te kry.
Sit terug, my klagtes begin nou eers. The Adventures of Tintin irriteer met die intrapslag. ‘n Vermoeiende paar minute is eerste aan die beurt waartydens ons moet kyk na wie aan die film gewerk het.
Dan skop dinge af en dis lekker om al die ou gesigte te sien, Mnre. Uys en Buys (Thompson Twins) is daar en natuurlik ook die getroue metgesel Spokie (Snowy). Tensy jy natuurlik nog nooit in ‘n Kuifie (Tintin) boek gekyk het nie. Jammer vir jou, probeer self kruis of munt uitmaak, want die avontuur spring rond soos daai kind van jou suster as hy nie sy dosering Ritalin gekry het nie.
Hoe later hoe kwater, want goeie aksietonele ten spyte, skielik besef jy Steven Spielberg is besig om Kuifie te verander in Indiana Jones.
Uit ‘n tegniese hoek gekyk lyk The Adventures of Tintin heel skaflik. Die algemene ontwerp en aanbieding is goed, die animasie is goed en John Williams se musiek nommerpas. Daar is ook ‘n paar oulike goeie sêgoed uit die mond van die dronk Kaptein Sardijn (Captain Haddock).
Die film het ongelukkig nie veel in gemeen met Hergé se strokiesverhale. Dis jammer, want die skrywer se vertelkuns was juis wat die verhale so spesiaal gemaak het.
Sal ek ‘n opvolg gaan kyk. Beslis, dit kos meer as ‘n middelmatige film om ‘n stoere Kuifie-ondersteuner weg te hou.Die fliek kry 6 uit 10.
Met die stemme van: Jamie Bell, Andy Serkis, Daniel Craig, Simon Pegg, Nick Frost en Toby Jones
Regisseur: Steven Spielberg
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
No related posts.




Ek stem nie saam nie. Die film het my entertain. Ek gee hom 8 uit 10