‘n Goeie skrywer maak nie noodwendig ‘n goeie regisseur nie.
Guillermo Arriaga was verantwoordelik vir die teks van 21 Grams (2003) en Babel (2006). In dié films het hy saamgewerk met regisseur Alejandro González Iñárritu en dit lyk asof hy Iñárritu na-aap in The Burning Plain. Maar niks help vir Arriaga se onvermoë om sy storie op die groot doek uit te beeld nie.
In ‘n mistroostige Portland, Oregan, ontmoet ons vir Sylvia (Charlize Theron), wie se buie saam met die weer verander. Sy werk in ‘n restaurant saam met haar beminde John. John is egter getroud. Dit verklaar Sylvia se lang gesig en haar gewoonte om haar liggaam te offer aan die wellus van vreemde mans. Maar daar draai meer duiwels in Sylvia se donker dieptes rond as haar vreemde verhouding met mans.
Gina (Kim Basinger) is getroud met kinders. Haar lewe is op die oog af aangenaam en redelik eenvoudig. Maar haar dogter sien dat alles nie pluis is met haar ma nie en begin haar agtervolg.
Daar is verskeie vrouens in The Burning Plain en hulle het heelwat meer in gemeen as waarvan ons aanvanklik bewus is. Hierdie verband is beide die essensie van die verhaal asook die klimaks.
Arriaga bly getrou aan sy vertelstyl en trek die verskillende elemente van die verhaal elegant saam, maar slaag nie daarin om dit te verweef tot die kwaliteit tapisserie soos die van byvoorbeeld Alejandro González Iñárritu nie.
Kim Basinger maak ‘n terugkeer in hierdie fliek en laat ons net weer besef hoe kwesbaar en mooi sy kan wees.
Charlize Theron steun te veel op die eksterne vir haar karakter. Dié kry nooit behoorlik lewe nie.
Die twee vrouens benut die rolle nooit ten volle nie. Mens kry die indruk dat hulle deur die regisseur ingeperk is. Dit is moontlik die ooglopendste verskil tussen hierdie film en Guillermo Arriaga se suksesvolle draaiboeke. Sy karakters het gewoonlik vrye teuels om uitdrukking te gee aan hul emosies, maar nie die keer nie.
Ironies genoeg word The Burning Plain se storielyn ontwikkel rondom gevoel. Arriaga trek egter die teuels styf, met die gevolg dat die karakters koud voorkom en min simpatie by die kyker verwek.
Met: Charlize Theron & Kim Basinger
Regisseur: Guillermo Arriaga
bydrae: JM
2 / 5
8 Augustus 2009
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.