Arnoldus Pannevis

Dr. Arnoldus Pannevis is op 16 Februarie 1838 in Ouderkerk in Nederland gebore. Die jong Pannevis het medies studeer en sy eerste werk was as skeepsdokter in die Nederlandse Vloot. Hy het egter twee jaar later ‘n (eervolle) ontslag uit sy pos ontvang weens sy ‘sziels-toestand’. G.R. von Wielligh het later oor verskeie voorvalle geskryf wat Pannevis uitbeeld as ‘n baie senuweeagtige individu; selfs onstabiel. Sommige van sy mede Genootskappers het hom ook as ietwat fanaties beskou.

Pannevis het besluit om eerder in die klassieke lettere te gaan studeer. ‘n Besluit wat sou vrugte afwerp, want hy is as kenner van Grieks en Latyn beskou.

In 1866 verhuis Pannevis na Suid-Afrika en aanvaar ‘n pos as onderwyser by Paarl Gimnasium. Sy besluit om na Suid-Afrika te kom spruit uit sy gevoel oor die onderdrukking van Hollandse nasionalisme in die Vrystaat tussen 1848 en 1854. Sy lewe lank kon Pannevis nooit langs dieselfde vuur sit as Afrikaners wat nie hul Hollandse afkoms wou erken nie.

In Suid-Afrika is hy oortuig is van die bestaansreg van Afrikaans. Hy het sy opinies hieroor begin uitspreek in sy klasse en privaat gesprekke. Hy het hom veral beywer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Sy briewe aan koerante het indirek gelei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Pannevis se persoonlike geskrifte was selde in Afrikaans, dit was meesal in Nederlands. Hy het enkele godsdienstige verse in Afrikaans geskryf, ‘n paar gedigte saam met C.P. Hoogenhout en hy het ‘n paar gedigte van La Fontaine uit Frans vertaal. Sy bekendste gedig was “Groothyd”.

Arnoldus Pannevis is op 14 Augustus 1884 in die Paarl oorlede. Hy word deur baie onthou as die vader van Afrikaans.

Uittreksel uit “Rasende Afgodery (van Engels)” wat Pannevis in 1876 geskryf is:

Ons leef in die da’e van taalraserny,
En daarvan kom Afrika oek nie meer vry,
Mar van die elend het dit bitter te ly,
Hoor hier die geskré van die Engelse gekke:
Ver Engels moet all’ ander tale mar trekke,
Hul seg, hulle taal moet die wêreld o’er dekke
En waar hul die mag het, moet Engels die baas,
Die landstaal kry daadlik die agterste plaas,
En dood moet hij gaan by die Engels geraas;
En wie hom nog ophou, die is nes een stomme,
Hij mag in geen raad of bediening meer komme,
Een vreemdling is hy in syn erfei’endomme.

Bronne:

Conradie, E. 1949. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika Deel 2 (1875-1905). Pretoria/Kaapstad:J.H. de Bussy/H.A.U.M.

Nienaber, PJ & Nienaber, GS. 1941. Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Pretoria:J.L. van Schaik, Bepk.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar