’n Vernuftige ontginning van woorde en woordbetekenisse, ’n aweregse sin vir humor en ’n ongewone kyk op die wêreld rondom ons kenmerk Daniel Hugo se poësie.
Die spel met woorde val in hierdie bundel ook op, soos in die gedig “Naguil”, waar die oorspronklike betekenis van die uitdrukking opgeroep en nuut ingeklee word. In “Kokon” en “Huwelik” weer word die werkwoord “spin” se verskillende betekenismoontlikhede ondersoek en word katte, spinnekoppe, sywurms én vroue met mekaar verbind.
Die klein lewende wesens – voëls, ’n kriek, ’n trapsuutjies, ’n padda – is die fokus van ’n hele aantal gedigte. Hulle soms steurende aanwesigheid word met humor geduld. Ook in die liefdesverse – dit sluit die liefde vir die aarde en die aardse, die letterkunde ( veral die digkuns) en die liefde tussen man en vrou in – skemer die digter se humorsin deur. Die digkuns, byvoorbeeld, word nie juis verheerliking nie, maar meestal lig spottend ontluister, soos in “Lees by lamplig” waar die poësie met die “skril, frenetiese woord” van ’n muskiet gekontrasteer word: “Digterwoorde, daarenteen, is onskadelik:/selfs die skerpste hou jou selde uit die slaap.”
In talle verse kom spieëls en weerkaatsings, skaduwees en die spel van lig en donker voor. Reeds in die eerste gedig, “Voyeur”, word die maan voorgehou as die spieël waarmee God na sy skepsels en die aarde kyk. Die beeld word telkens net so effens versteur sodat die leser op ’n nuwe manier na die werklikheid moet kyk en in die slotgedig, “Die lang pad”, laat die “ontstellende panorama” in die truspieël jou “in ’n enkel oogwink jou perspektief verstel.”
Koop / Buy Die Panorama in my truspieël …
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Die Panorama in my truspieël
8 Desember 2009
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.