Eugène N. Marais

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 naby Pretoria gebore. Marais bekwaam hom aanvanklik as joernalis, maar word later advokaat in Engeland waar hy ook medies studeer het. In Egipte het hy in diepte kennis opgedoen oor hiërogliewe en antieke studies.

As joernalis was hy uiters uitgesproke en gekant teen Paul Kruger wie hy as ‘n dom kortsigtige oorlogstoker gesien het. Die negentienjarige Marais was redakteur van die koerant Land en Volk in die Transvaal wat, in Marais se woorde, “… fel, bitter en genadeloos teen ‘n korrupte regering te velde trek”. Gevolglik was Marais en Kruger in verskeie lastersake betrokke. Toe die Anglo-Boereoorlog wel uitbreek het Marais probeer om, sonder sukses, medisyne en springstof na die Boeremagte te smokkel uit Europa.

Polities is Marais deur talle gesien as deel van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy was gekant teen Engelse invloede op taalkundige gebied sowel as Suid-Afrika se politiek. Nie dat hy ‘n konserwatiewe nasionalis was nie. Hy het nie langs dieselfde vuur gesit as die Nasionale Party nie. Marais het gevoel dat mense nie stemreg geweier kan word op grond van hul kleur nie.

Sy skoolonderrig was aanvanklik in Engels en so ook sy eerste gedigte wat in die Paarl District Advertiser verskyn. Gedigte, met ‘n inleiding deur Gustav Preller verskyn in 1925 vir die eerste keer en Versamelde gedigte in 1933. Onder sy bekendste gedigte was “Winternag” (1905), “Skoppensboer” (1921) en “Mabalêl” (1923). “Winternag” was oorspronklik bedoel as die inleiding van wat ‘n langer gedig moes wees.

Eugène N. Marais
Eugène N. Marais
Marais het ‘n besondere liefde vir die dierewêreld gehad. Sy Die siel van die mier (1934) en Burgers van die Berge (1938) word vandag nog beskou as baanbrekerswerk – nie noodwendig vir die wetenskaplike waarde daarvan nie, maar vir die poëtiese beskrywing. Burgers van die berge het ontstaan as ‘n reeks artikels in Die Huisgenoot. Nog ‘n werk van Marais wat in ‘n versameling tuishoort is sy Dwaalstories (1927). Daar word beskou as van die belangrikste Afrikaanse literatuur uit die dertigs.

Volgens oorvertelling was Eugène Marais ‘n sjarmante hoflike en sjarmante man. ‘n Man wat aanvanklik die lewe met ope arms tegemoetgegaan het en sinies gelaat is. Hy was getroud met Lettie Beyers in 1894, maar sy is 11 maande later oorlede na die geboorte van hul seun. Waarskynlik weens werksdruk, het hy in 1892 begin morfien gebruik, ‘n verslawing waarmee hy die res van sy lewe sou sukkel. Hy verloor uiteindelik alles en spandeer sy laaste jare as ‘n kluisenaar op die grond van sy vriend Gustav Preller. In 1936, na dae sonder morfien, leen hy ‘n geweer en skiet homself in die bors. Die wond was nie noodlottig nie, toe druk hy die geweer in sy mond en trek die sneller.

“Gewis is alles net ‘n grap?
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ‘n lanfer-lap
wat selfs die son ‘n skadu gee.”

Winternag

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!

Dans van die reën

O, die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies,

En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy,
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd
en die bruilof is groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond
hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies;
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Wanneer dit reën op Rietfontein

Wanneer dit reën op Rietfontein
en deur die stof ‘n straal van groen verskyn …
dan sit oom Gysbert op die stoep alleen
Hy adem sag die geur
gemeng van stof en reën …
Van agter uit die groot kombuis
Kom daar aanhoudend die gesuis
Van kole op die vuurherd aangeblaas
Van pot en pan die klinkende geraas –
Dis net so seker as die boek,
Tant Malie bak nou pannekoek!

Bronne:

Dekker G. 1933. Eugene N. Marais: Gedigte & Versamelde Gedigte. Die Nuwe Brandwag, Tydskrif vir Kuns en Lettere. Pretoria:J.H. De Bussy

Deloof, J. 1978. Literaire dissidentie in Zuid-Afrika. Ons Erfdeel 21. Rekkem/Raamsdonksveer:Stichting Ons Erfdeel.

Kannemeyer, JC. 1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Pretoria/Kaapstad:Academica.

Schoonees, PC. 1939. Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. Pretoria/Kaapstad:J.H. de Bussy/Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co.

Ter Laan, K. 1952. Letterkundig woordenboek voor Noord en Zuid. Den Haag/Djakarta:G.B. van Goor Zonen’s Uitgeversmaatschappij.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar