Gedigte van Andriet van Niekerk

Indeks van digters

ongetiteld
eers was daar die stilte
talmend? bewusteloos
die water in die aardkors
het die see geruisloos volgetap

toe, die laaste maand in herfs
het een uur oopgebreek
woes en onbeheersd
‘n mengsel tussen
sand en mis
en alles rondom vis en voel was
modder

die nag het die skaduwees
tien grade terug geskuif
en erens tussen 12 en 2
het die nuanderman die huis ontruim
(dis toe ek van jou gedroom het)

nou kierang jy
in al my leë vertrekke
en tot op hede
betaal ek nog die huur
vir eendag
as jy weer in my kom woon

Sonder woorde
ek skryf met uitroeptekens
jou stilte teen my mure

soggens stort die son
sy strale weerloos oor my droë mat.
ek vee dit op in stukkies glas
en saans staar ek verstom verslae
na jou verleë gebaar met haar?

Moenie
Moenie oor my oseaan
jou vissersoog laat peins nie
moenie slim jou aas berei,
en ver jou sinker slinger
tot by my nie

moenie wag dat ek moet proe
tot jy my styf vasruk
en stadig inkatrol nie

maak my nie gaar?
neem my nie op
in al die soet versadiglose selle
van jou mond nie

ek wil nie in jou bloed
beland nie
om later in jou dag tot dag
beweging
te verbrand nie….

ek sal onthou
jou Hannie-lied is lankal klaar
my fiets staan reg
soos altyd nog gereed vir my om weg te hardloop

maar stilte is die staanlamp
op die saksefoon gedraai
geverf in watermerkskakering bo die erfklavier
‘n mengsel tussen kolle op die muur
en die sagste deel in my

die verhaal het ek vanaand vergeet…

was dit jy wat drie maal op ‘n dag,
jou vensters oopgetrek, vir my gebid het?
was dit ek wat altyd lewend in jou kis moes klim?
… het jy dit altyd nog geweet?

my lief, herken jy nog die wag voor ek kom lê?
soek jou hande nog die lyne op my rug?
blaas jy nog laatnag soms jou asem
oor die saamgetrekte wêreld in my nek?

eendag sal die storie terugkom
ek sou weer onthou dat jy my glo
en dalk
net dalk sou ek die eenkeer kon begryp
hoe jy kon wegbly hierdie keer

Vir rus
kans is goed dat ek jou hierdie jaar gaan sien
in die ooste druk die wolke teen die wind
die kenners spel dis reën
tien jaar terug het jy vergeet om op te kyk
die jaar daarna was skrikkeljaar
die swaels trek dan ‘n tyd lank in die rondte
daarna het dit net nooit weer stil geraak nie
die voëls verraai soms droogte in die panne
verlede jaar het ek vir jou gewag
maar die hael het jou verdwaald gemaak
want niemand kon die pad herken nie
daarna het ek weer onkruid uitgetrek
en alles oorgeverf vir jou….
nou draai die kerk se hoenderhaan sy
kop in njomalaan se rigting
dis daarvandaan wat jy sal kom
… want in die ooste druk die wolke teen die wind
die kans is goed dat ek jou hierdie jaar gaan sien

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar