Lazarus
As ek so na die sterre kyk
en dink aan hoe die blink
hardloop teen die jare
en in my oë kom skink
wonder ek of dit ook is
soos wanneer ek terug kyk
oor alles wat ek dink en weet
en dit my nou eers bereik
dit bestaan nie meer nie
die dinge wat ek onthou
en tog kan ek dit nog raak vat
en in my palms hou
kan die nooit-vergeet-goud
daaruit sif en daarin krap
kan die heelmaak-stroop
uit die tyd se basse tap
kan dit plant hier in my boesem
na waar ek kan ontvlug
as die kaf hier in my oë kom waai
en my kop vol dorings druk
ek praat die taal van vele lewens
en my woorde dra die merk
van iets wat wakker word na eeue
en verby die gister vlerk
ek voel die gedreun van môre
deur my liggaam stormloop
en waar die sterre uitbrand
daar bly my dwerge oor
vir iewers iemand anders
se staar so deur die vaak
na my sterre agter gelaat
na my lazarus ontwaak
Skimmel van die maan
As die lug grou word
en die asem my ontglip
sug ek ver diep in die nag
as die misterie kom tik
tik tik aan my venster
met sy oë pruimpies gespleet
klim hy deur die wasem
soos die krakies koue breek
hy kom lê hier langs my
in die poele van my staar
vra vergeefs: wat is ons meer
as die skimmel van die maan
vang die ure in sy hand
sluk dit dorstig een vir een
in my oë kyk hy peilend
laat al my vrae versteen
tik tik aan my lyf
skilfer al my stilte af
tot my gedagtes eensaam eensaam
oor die donker heuwels draf
Stofdruppels
Jou son lê op my skouers
swaar langs die eindelose pad
jou wind keer my van voor af
soos die stofdruppels my spat
Jou oë verstil my gedagtegang
jou roep verhonger my hart
jou woorde sweef saam met die tyd
jou trane bloei my vingers nat
Ek dra jou hartseer in my hand
tot waar jou sterre val
en as jy iewers agterbly
sal ek jou weer gaan haal
Jou spore sleep vermoeiend
van die swaarkry op jou rug
jou arms hou die storms vas
en die koue ruk jou terug
Jou vrae skiet verby
verby die maan se rant
die ure eggo deur jou
verdowend teen die sand
Ek dra jou hartseer in my hand
tot waar jou sterre val
en as jy iewers agterbly
sal ek jou weer gaan haal
Jy was
Jy was groot en ekke klein
jou hande was my hart domein
jou stem die spore van die trein
wat my huistoe dra as die son verdwyn
die jare vat ‘n slukkie pyn
as ek soms jou oë in die nag sien skyn
jou laaste woorde jou gesig omlyn
bly vermis al langs my lewenslyn
Ek is groot en jy verklein
soos jy stuk-stuk elke dag weg kwyn
jou graf is leeg en so my hart domein
ek verloor jou in die tyd refrein
Die idee van jou
Die idee van jou bars lemoen in my mond
ek vryf jou sap krummels van my hande
en jou suikertaai kom plak herinneringe
oral oral waar ek raak
deur die dag waar ek gevat het
kleef al my geheime
elke een wat ek so bêre
vir die wêreld te aanskou
Kom klim hier in my oë soos poele
en swem totdat jou vingers pruim
Related posts:



Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.