Gedigte van Annerie Peterson

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Los my

Annerie Peterson
Annerie Peterson
Los my soos wat ek is
ek wil ruik na vis
na mis
na pis
ek wil voel soos vandag
haal jou hande
uit my lag
my soet moerbeie
se sap
is uit getrap
en jy is die een
wat aanhou
om daaroor
te stap

Murg

Ek het nooit geweet wat liefde was
voordat jy my seer laat kry het nie
ek het nooit geweet
dat pyn kan brand
soos ‘n hel vuur
regdeur die nag
tot in vroeë oggendure
wanneer ek jou wil vergewe
maar
jy’t my oop getrek en afgeskil
met ‘n lem skerper as die tong
my binnekant
buitekant gelos
soos ‘n uitgedroogde long …

nog steeds droom ek van jou oë
en ‘n beter dag
dinge sal beter raak
ek moet net wag
as jou lyf langs my kom lê
is dit moeilik om jou te haat
my emosies
is klaar in jou geplant
ek is die water
jy is die saad

die son kom al op
ons het heelnag baklei
nou is ek net seer en oopgesny
maar
ek het jou
deur my lewe laat bloei
ek is water
wat probeer opdraande vloei
al slaan jou blou pyn
teen my vel uit
lê ek nog steeds
rose voor jou voete neer
bid vir God om jou te seën
want so hard soos wat ek probeer
bly jy altyd die murg
en ek maar net die been …

‘n gedig

dit is moeilik om ware woorde op papier te sit
dit is soos om voor ander mense te bid
om ‘n duidelike prentjie van jou hart
vas te pen
op wit en swart
om ‘n film van jou lewe
uit te saai
sonder om die mense daarin
te vergewe

om ‘n vergadering
vol van jou vyande
bymekaar te roep, en
vir hulle die padkaart te gee
van jou siel se elke hoek
die rympies van jou seerkry
die liefdes wat jy vervloek

maar

wat as dit alles leuens was
wat as ek net met hulle wou speel
‘n dief laat jou nooit weet
wanneer hy van jou wil steel …

‘n Skaal, ‘n slagyster en ‘n vloot vol skepe

Om dankbaar te voel
is ‘n skerp koeël
wat vrees deurboor
dit word in vars vleis gestoor
ons almal moet aanvaar
die lewe is ‘n balans
tussen rou en gaar
om die dae vol parfuum
te ervaar
soos ‘n maagdige doudruppel
op ‘n roos blaar
om die dae vol steek
se dorings af te breek
in die gevriesde oomblik
waar jy weet
of jy net gaan val
en of jy gaan breek

Skep die dae vol liefde met diep emmers
sodat
jy die dae vol vrees
kan verdrink
met kalm kennis
kennis in die wete
dat liefde altyd pyn sal toewerk
met tyd se steke
soms vat dit dae
soms vat dit weke
maar ‘n wond
word altyd gesond
dubbel so sterk

Jou hart was altyd net een skip
nou is jou siel ‘n oop see
jou emosies ‘n vloot vol skepe
jou wyer horison, die kompas,
wat vir jou ware rigting gee

Solank jou skaal altyd voller tip
met goedheid
wat in waarheid fluister
kan die lewe maar vir jou honger wolwe stuur
liefde is ‘n onbreekbare
slagyster

Skoon

Ek is water wat geroer word
in ‘n stil meer
wanneer jy deur my rippel
as jou hande op my bewe
ek kalmeer
jou nat energie
wat in my lewe
kring sirkels om my
waarin ek myself kan vergewe

Ek sak af in jou koel dieptes
vir ‘n oomblik
is tyd gevries
terwyl ek praat met my blou liefdes
asem nood
sal my boontoe stoot
ek het jou gekies
om my skoon te was
van al my siel se siektes
ons het mekaar se hart bagasie gekoop …

vas gevries

ek sit vas gevries in my lyf
soos iemand hoog op skyf
voel alles onwerklik verveeld
ek is boom geplant in ‘n hout beeld
as jy baie in jouself lewe
moet jy leer
om jouself te vergewe
anders sal dodelikheid jou kou
terwyl die donkerte jou net wil omvou
steek ‘n kers vir my aan
dans in sirkels saam
onthou
om sout oor jou skouer te gooi
vir geluk
hierdie spook wat ek is
gaan een van die dae
wakker skrik
en
wanneer hierdie hout bene van my
begin brand
sal ek
die koudste ys
verander
in
sand

Vir ‘n onbekende

Ek is oop
‘n oop wond
wat soek na ‘n pleister
‘n helende hand
na ‘n oor wat wil luister

Die sterre in my oë
skyn wit ongesond
wat soek na ‘n brug
wat oorloop in jou mond

Ek buk af van my altaar
en die kosmos van jou
is minder nou
wanneer ek in jou oë staar

verliefdheid is soos anargie

wanneer ek in iemand anders is
is daar net een gesig
wat tussen my oë breek
jy is al wat ek sien
jy is in my are
jy is die mes wat my hart elke keer raak steek
daar is geen reëls
waarmee ek worstel
want
jy is al wat ek weet hoe
jou hande kan my genees
of
jou hande kan my vermorsel
jy maak die nag in my toe
alles is regverdig
in hartstog en oorlog
net jou mond mag my proe …

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar