Kieslys

Close


*/

15 November
2017
Gedigte
1274 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Anzé Bezuidenhout

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Wie is ek

ek is die een wat met bloupers gebede
my sinne op papier laat rank
my donderstorms in ink kom huil
en my hosannas aan jubelverse hang

my gedagtes skeur rivierbeddings
van verborgenhede oop
as stemme hadida deur my kop
waar die lewe veldlangs loop

genade omsoom my daagliks
soos die pêrelwit van varkore
wat treinspoorkranse met geloof
binne stellasies van hoop vasbou

berge boggel en breek van dankbaarheid
met ‘n simbaal geskal van erkenning
dit laat my kniel met krummelwoorde
van opregte dank

© Anzé Bezuidenhout

My denke

huilend wolf my verlange
oor die krom van die sekelmaan
aandblomreuke salf die
kneusings van my siel
terwyl bidwoorde fetus
op die hemel van my tong

blindelings
klingel windklanke
in braille deur die
heilige branders
van my denke
wat in algeblaar huil

dan kry my woorde
nuwe voetvlerke
en ry sorgloos
oor die pieke
van ‘n saffierwind

© Anzé Bezuidenhout

Geykte gedagtes

arendsvlerke wat op skadu’s wag
kruis silhoeët wat mimiek
golwend oor riffels
sandkorrels romantiek

vry, vry, vry
van gister se simboliek
wat inkennig
‘n nuwe skadu plant

doodgewone sand
waar geykte
gedagtes tot
nuwe hoogtes brand

© Anzé Bezuidenhout

Goue bergbeloftes

klippe fluister woordsag
waar varings soos rietfluite
teen die hange rinkink;
ek het jou goue berge beloof
vóór die kansel soos roustof
sal ek jou nuwe bouplek wees
met jou gewortel in my gees
hier én daar, toe én nou
breek brose beloftes
wat ek eintlik
teenoor jou moes hou

die grou van gekneusde lig
in oomblikke tussen luister
deur beter en slegter
kaats genadeholtes versoening
opreg nes newellae goudstof
in vryheid waar eenvoud glans

as ek in peinsing versink
kom my wrang toesegging
en plunder jou hart
wat ek in ‘n mankolieke vers
én berou – met lanfer –
wil verbind

© Anzé Bezuidenhout

Jou dagbreek skeur my grense

waar jou dagbreek deur my grense skeur
het jy my kom leer van neem en gee
om met minsaamheid ‘n nuwe dag te groet
terwyl my ink sjor-sjor kantates komponeer

het jy my kom leer van neem en gee
sodat ek geknield die trots kon begraaf
terwyl my ink sjor-sjor kantates komponeer
en my siel opnuut lof psalms berym

sodat ek geknield die trots kon begraaf
om met minsaamheid ‘n nuwe dag te groet
en my siel opnuut lof psalms berym
waar jou dagbreek deur my grense skeur

© Anzé Bezuidenhout

Onverdiende splinterhoeke

broosheid storm deur my en
my binnetrane brand soos kolevuur
vertroue en omgee is vernietig
in milli-sekondes van ‘n uur

versteekte hulpkrete
kruip gebukkend
waar tree nie meer
spontaan wil trap

tóg haal ons asem en;
tóg klop ons harte
smagtend na iets om
weer te kan verstaan

emosies agter ystergordyne
van luidkeelse lag
dra die vreugdelose pyn
van iets wat eens was

tevergeefs probeer ek legkaarte bou
met verskerfde brokkels
wat onverdiend druppel in die
splinterhoeke van my hart

© Anzé Bezuidenhout

Spore van reën

my kleurespel bars
in dubbelspore oop
deur die groen loof
knars hitte van die son
wat tortel deur die lug
baldadig span ek seile
geheilig soos nardus
in windadem

in my bloeselrok se nate
bou sysies hul nes
en met ‘n bakhand klei
tempel die swael
‘n rusplek gevul met genade

en my voete;
my voete akker
in spore van reën

© Anzé Bezuidenhout

Koggelgedagtes

gebeure word in
gruwelprentjies gesien
en my verse breek
soos die oewers
van die Jordaan
dit staan gewal
van kant tot kant
maar my voete,
my voete weier
om droogvoet
deur te stap

dit voel of
goedheid en guns
my kruik verlaat het
en al wat nou oorbly
is ‘n babelse verwarring
wat my treiter

koggelgedagtes
klipstapel in my kop
terwyl my keel
droog aan ‘n nuwe nagmaal sluk
biddend dat ook hierdie beker
in stilte sal verbygaan
en ek weer opnuut
nuwe vrede sal vind

© Anzé Bezuidenhout 

Kerende seisoen

skarlankenrooi bloeiselbreek
klanke van ‘n nuwe skeppingsdag
verby natwimper worstelings
van gisterdae
wat stil dolosgooi in my onthou

benede Hemelse vaandels
reënboog ‘n wedergeboorte
onder hisopstingels
wat edik
verruil vir wyn

dan bars ‘n drie uur duisternis
oop in die soel songroet
van jou vat
terwyl jou mond warm
in myne
‘n nuwe herberg vind

sag daal nuwe vrede soos ‘n duif
wat fontein
deur die kronkels
van my wese

© Anzé Bezuidenhout

Woordbokkoms

soos bokkoms
lê die woorde brak
op my tong
terwyl versteende gedagtes
leiklip in my kop en
my hande stil
halleluja’s berym

in beleë oomblikke
het my blik soos
swaelsterte weggevurk
‘t my ryloopwoorde
op klamgroen treë
gehunker na geluk

daar sal ek dan met
verdwaalde rietwoorde
weer versmandjies vleg
dit met pikmetafore besmeer
sodat die droogtesluiers
kan dwaal tussen doof en blind

en ek weer my pad
gevoelvol sal vind

© Anzé Bezuidenhout

Kartering van liefde

in die rookspiraal
wat stadig na bo wentel
spartel my psige asemloos
vol afwagting tuur ek
van agter skuilgordyne
wat vlerk oor jou

dán breek granaat-emosies
knallend uit die boeie in jou bors
teken jy ontsnap-roetes
in snelskrif deur
honger krake
van ‘n dorre kors

koepel ‘n uitbundige son
chaoties in skakerings
van bontgeel
die wydheid van die liefde
wat oor die O N S
van ek en jy karteer

© Anzé Bezuidenhout

Oggendstond

die son breek
soos ‘n rooi papawer
oor die kim
terwyl die wind
met sy rietjiesasem
oor boomtoppe fluit en
onder die Wildesering
buig die roosknop
eerbiedig
soos ‘n bruid
onder die kir-sang
van die tortelduif

© Anzé Bezuidenhout

Seisoenspore

die maanblom se geur
rank vanaand ‘n sirkel
om die sekelmaan
terwyl my woorde
bruê bou
tussen gister en nou
die geroep van die kolganskuikens
breek die son en
weef ‘n altaar
met brokkies goue lig
so draai die seisoene
altyd op hul spore terug

© Anzé Bezuidenhout

Carte blanche van die natuur

waar die winterson wydsbeen
oor heuwels sit
brand die dorsverlange
na ‘n nuwe somer
waar ek tot na die middernaguur
met droomoë
na die sterre kan tuur

in die krummels
van die Bosveldvuur
wat seine na die Hemel stuur
sien ek in die konstelasie
spore van dit wat was,
is en weer sal kom
met ‘n dorstige heiligheid
uit die sekelkom val

in die carte blanche
van die natuur
ontwaak die hunk’ring
na die vrede
vir nog
‘n pasgebore dag
wat nuwe verlossing bring
vir die wat soos ‘n duif
na antwoorde
en vryheid
smag

© Anzé Bezuidenhout 

In die begin

pruttel -gedagtes
versamel bont-letters
in dryfhout uit my hart;
nes ‘n hemelse lullaby
versamel dit nektar
deur skrefieswimpers
om inktrane
op papier
te drup

skei dit die lig
van duisternis
(soos in die begin)
en daar staan geraam
die verskil tussen
goed en kwaad
in dié boom van
mensgemaakte
wraak

so kom die dae dan
waar die son sy tree
moet maskeer
sodat gevegstyd
stil kan staan
vir ‘n nuwe vrede
om te begin

(soos in die begin)
– en ook dit
was goed

© Anzé Bezuidenhout 

Verwronge ongeloof

vandag kom jou
groot askies
soos n glas
yskoue water
oor my spat
vergewe my,
my onvermoë
om my verwronge
skok uit te spreek
want julle wat my
bestaan vir
so lank ontken het
(maar vir wie ek
al jare sonder ophou
bid) hoe kyk ek dan
vandag so effe skeel
ja staan ek soekende
na die skerpioen
se gif
ek sukkel om
te kan verstaan
dalk is hierdie
die lank afgebidde
vredeskus of is
daar nuwe agendas
met gewere
vol gelaai
geteiken teen
my holgetrekte
rug

© Anzé Bezuidenhout 

My bastion

in die donker dae
toe my asem stom
(soos kameelboggels)
in my oë gehang het,
het jou omgee en
stil verstaan
soos ‘n Josefskleed
om my gevou

toe die aasvoëls
se aanhoudende gepik
my uitmekaar wou skeur
en hadidas se stemme
my mal wou maak
het jy ystermure
om my broosheid
gebou

deur stormwinde
wat riete in my pols
wou knak en buig
het jy deur die git
van my hartsmandjie
gebreek en saggies
vir my nuwe vlerke
gekweek

jou wese is my bastion
want in jou stilte
het ek my vrede
gevind en
in jou palms
die wonder
van ons toekoms
gesien

© Anzé Bezuidenhout

Flankeer gedagtes

soos ‘n lanterfanter*
drentel jy deur bos en dal
daar by Tafelberg se kant
neurie jy jou omgee
sing jy van blomme en
die blou-blou see

spoorlangs verby die storm-en-drang
wat steeds flenter en fladder
deur die omwenteling
van jou onthou
dan sing jy maar weer van blomme
en die blou-blou see

flankeer jou oë deug’loos
tussen lettergrepe rond
gryp jou vingers
na’n nuwe môrestond
en prewel jy vir oulaas
van blomme en
die blou-blou see

© Anzé Bezuidenhout

*lanterfanter – leegleer 

Doodsangel

die kosbaarheid
van elke geleefde oomblik
is in voortyd reeds vasgelê
eertyd’s visioene wat solo en
uitbundig kon sweef

dan onkeerbaar
op die ouderdom
se skuifelpad stap
ons drome nou
kleintree saam
in melankoliese denke
van dit wat was
reeds in vergeelde rame hang

want die vrotasem
van die dood
wat in jou nek hyg
stap ons elke geleende tree
in ‘n uurglas, wat onstopbaar
na onder dribbel

in ‘n anderdag lê
ons wees soos spoelklippies
met slegs die eggo’s van kluite
wat op kisdeksels val en
asof in nagedagte
die gedroogde blaar
van ‘n eens bloedrooi roos
wat my polsslag
van eens moes
ewenaar

© Anzé Bezuidenhout

As hosanna’s brand (Taal waarskuwing)

lispelklanke
breek in
stotterwoorde
val deur die fondasie
van my gebede
wat vandag
in ligtelaaie staan
handevat met
aspris mense
wat my lewe
betas
maar ook
tot die dood
belas

so onnodig
my vlerke
tot ás verbrand en
my hosannas
aan geskroeide
palmtakke
hang

denke aan ‘n nuwe môre
verdoof die donker
in my kop en
vervalste hoop
verdrink in ‘n
wanhopige
uitgeroepte
F O K

© Anzé Bezuidenhout

Die seën van jou kindskap

vir die musiekleier ‘n psalm van Jakobus
‘n kneg van die Alleshoogste welgeluksalig is hy
wat die liefde van ‘n moeder besit
die hitte van haar omarming beleef
in die geheimenis is jy kunstig
in haar lende geweef
met moedersmelk reeds
is jou siel gevoed met ewigheidsspyse
jou hoof met olie geseën en;
het jou tree in groen weivelde vertoef
wyl jou tafel oorloop van liefde
omdat jy in jou kindskap haar eer
sal jy jubel in jou grondgebied en
geen onheil by jou tent ervaar

© Anzé Bezuidenhout 

Manchester

‘n Televisie in die hoek
blêr harder as die woorde
uit my skoot in die storieboek
van moord en rape,
politiek en skokgolwe
in portale wat kinders uitmekaar ruk
selfmoordbommers wat in skerfskiet
té vroeg open nuwe grafte
ouerharte uitmekaar geskeur
in hierdie donker
skokkende uur

© Anzé Bezuidenhout

Wegglipgedagtes

in suiwer vreugd’ kaats jou gelaatstrekke
oor die troebel resonansie in my brein
en asof gemesmeriseer soek ek na bekende klanke
wat in erosie aan ‘n vergane firmament hang
lank gele’ se odeur van varsgeplukte granaat omhels my
in versplinterde nostalgie wat iewers diep binne
toegegroeide bladsye woed

drome lê verkalk by die sluise van gister se slikdam
waar my hande ondurig ritsel in die voue van my skoot
as my hoop futloos in gisters sweef
en onder erosie skade breek drogbeelde oor die kim
waar vergete woordkrete tevergeefs in stilte baklei
in die Swarbergklowe hang onthou-stemme
wat skadu deur my kop en my wees is futloos

terwyl my gedagtes hondmoeg loop
breek krummels swart in my oë en
suur water stort oor die grense van my wang
waar eensame nagspore labarint verdwaal deur as-tree
vergeetgedagtes kruisig my weer én weer
as eensaamheid deur vlees en gedagte skeur
en ek hulpeloos die edik-reuk afweer

terwyl my onthou uit swartgat na uitkoms smag
kom die toeklap van herkenleeg se vergeet
uit die oogsverduisteringslewensboek
en vergeefs word deur glansblaaie geblaai
sal die waarheid van môre se geheue
moontlik deur die klowe van grys
beloftes in fynhoutjies breek

© Anzé Bezuidenhout

wegglipgedagtes

slegs ‘n sabbatsreis vêr lê
die vreemdelingsbesoek
waar woordleegtes sawwe akkers saai
prikkel lekkerkry reuke van anderland se onthou

deur tronktralies flets die lewe verby
word brûe gebou van sand en gruis
en die warboelwind wat duine skuif
het die hekke van klein-onthou toegewaai
tussen die geel van gister se goueson
en vandag se donkermaan

drome hang vaag aan die Swartberge se hange
en onthou-stemme wat skadu deur my kop
aan geroeste spykers hang my wese futloos
terwyl my hoop hondmoeg loop

woordkrummels breek swart in my oë en
suur water stort oor die grense van my wang
waar eensame nagspore labarint
verdwaal deur as-tree

vergeetgedagtes kruisig my weer én weer
as eensaamheid deur vlees en gedagte skeur
waar ek hulpeloos die edik-reuk afweer
terwyl my onthou uit swartgat na uitkoms smag

met die toeklap in herkenleeg se vergeet
van die oogverduisteringslewensboek
vergeefs word deur glansblaaie geblaai
sal die waarheid van môre se geheue
moontlik deur die klowe van grys
beloftes in fynhoutjies breek

© Anzé Bezuidenhout

Sal jy …

sal jy na my kom soek
as daar in ons huis
net stilte woon
as mure net stil kan staar
na daar waar eens ‘n
asem was

sal jy na my kom soek
as die son verdwyn
oor Westerkim
en die maan sy
laaste strale gooi

sal jy my kom soek
as my naam uit sterrebrug
so stil-stil verdwyn
herkenning moeg
my brein verlaat

sal jy my kom soek
as wrede monsters kom,
my na niemandsland
wreed wegvoer

sal jy . . .

© Anzé Bezuidenhout

Jy kruisig my

onder erosie-skade
breek drogbeelde
waar woordkrete
tevergeefs
teen die stilte
woed

nagmaalbrood
breek in my oë en
suur wyn stort
oor die grense
van my wang
daar waar jy jou
fynbeplande
sinsdolke hang

onwaardig kruisig
jy my weer-en-weer
as bitter sarkasme
deur vlees skeur
en ek hulpeloos
die edik-aanval
probeer afweer

deur die drie-uur
verduistering sal
waarheid wel
deur die klowe
van grys
beloftes
breek

© Anzé Bezuidenhout

Intieme evangelie

waar ons liefde naelstring groei
fetus ek in die trallies van jou ribbes
lê ek vasgegroei in jou hemel
geankerd in jou bloei

hoor jy die knetter van my hart se vlam
sien jy die bosbrand in my oë woed
daar waar my asem in karmosyn
oor my lippe gloed

smeulend kool die liefdesvuur
in hierdie een-word-uur
as winterys tot smelt kom en;
ek ‘n nuwe seisoen proe

dankie-sê bedes gloei tot as
in griffelwoorde wat
by evangelie pas
op sagte,

sagte papierbas

© Anzé Bezuidenhout

Intieme evangelie

waar ons liefde [‘n] naelstring groei
fetus ek getralie in jou ribbes
lê ek vasgegroei in jou hemel
geanker in jou siel

hoor jy die knetter in my vuur
sien jy die bosbrand in my woed
daar waar my asem in karmosyn
oor my lippe gloed

smeulend kool die liefdesvuur
in hierdie een-word-uur
as winterys tot smelt kom
proe ek ‘n nuwe seisoen

dankbedes smeul tot as
in griffelwoorde
op sagte papierbas
om by ons evangelie in te pas.

© Anzé Bezuidenhout 

EK

my lewe is naïef blanko en
my woorde, my krabbel
het ‘n narratiewe obsessie
diep binne my geword
wat verwoed om uitkoms veg
my oog word feitelik
wat gebeure met ink
(so-as bloed)
in sitasie verbaal verf
die mooi en ook die bar
uit seerkryhout kom kerf
en ek, ek bly maar net
ek

© Anzé Bezuidenhout 

Oopbreek bloeisels

woordvlerke stoei om uiting in die asem van my siel
skoonwas woordgenade druppend na benede
breek grendels van die verstand
grafiek die skerm tot sand en as

lomp val woorde oor die oewers van my hart
deel ek die smart en oopbeklag
van my verdwaalde binnekant
wat om erkenning veg

kwesbaar lê ek my wortelhartsgedagtes
vir ander om met modderhande te betas
dalk die roete van my binnetrane te vind
en ook te wandel deur my woestynland

waar die son ongenadiglik brand en;
uit vier windstreke kom woorde gesweef
wat legkaarte voel- voel in my weef
na oopbreek bloeisels op papier

© Anzé Bezuidenhout

Papier bloeisels

gevlerkte teks stoei in my
breek deur grendels
en drup genadig na benede
skrýf leë papier tot sand

waar woorde lomp val
in smart en ook oopbeklag
openbaar my binnekant
wat om erkenning veg

kwesbaar lê ek
met modderhande betas
deur roetes van my binnetrane
tree jy deur my woestynland

uit vier windstreke sweef
tirades wat legkaarte
tot nuwe bloeisels breek
op papier

© Anzé Bezuidenhout

Sterwende skadu’s

amber skadu’s flits in jou oë
waar jy rug gedraai na my toe staan
verklaar jy ‘n slagveld op ‘n blanko bladsy
sny grafiet maer erts waar jy toe-oë
my woorde steel en slukverteer
word n lewe nuut in Godspraak
met lood gegrys, gebaar
uit die bas van olifanthout
vir behoud van talekuns

hou die natuurwet van liefde
jou in ysterkettings en bind jou jukke
met tronkdeure wat wil-wil konfetti in loodgrys reën
deur woordvreugde word jou verdriet ontmasker
in die tempellanings wat deur jou oë bloei
en vryheid fladder deur die vlaktes van jou siel
en ek jou verjaag uit die spasie
waar hart en kop en hande
soos ‘n keramis, graffito’s in gryspulwer
teen die ééns witflets skilder

wysheid en inkspraak word die harnas van jou behoud
waar die son na jou waarheid gryp,
dit aan die goue woordstrale hang
en jy, jy vry van doolhofverbannings swerf
in die grys môrestond herrys die goue middaguur
wat aan my verstand vleuels verskaf
my denke nakend op papier kom verf

as skadu’s sterf kry my woorde ‘n voetpad deur my hart
van mitiese tydgleuwe en sommer oor niks
ek begin lewe en is daar is groei
waar jy volkome op die ritme van my asem leef

© Anzé Bezuidenhout

Brokkelstukke – Uitdaging 7 (Lied)

tussen lewensstasies
waar treinspore gly
spoed die lewe verby
los my met gebroke spasies

tussen brokkelstuk en skerf
asems van gister se goed en sleg
word my palet geverf
vind ek daagliks my weg

my asem wasem teen die ruite
lewe stoom voort daar buite
skakerings van groen en blou
sien ek deur my asemdou

tussen brokkelstuk en skerf
asems van gister se goed en sleg
word my palet geverf
vind ek daagliks my weg

gedagtes by gister se seer
my verlange word net meer en meer
vlug ek na nuwe drome wat wag
klik-klak klink die spore sag

tussen brokkelstuk en skerf
asems van gister se goed en sleg
word my palet geverf
vind ek daagliks my weg

© Anzé Bezuidenhout

Korale van moederliefde

in die ooptes van die velde
waar ribbokke vry kan wei
tortel jou koesterwoorde
teer deur die gange van my hart

met die krag van geloof
aan moedersknie geleer
loop ek ‘n stormbende plat
word my tafels met olie gesalf
en Vrede bedrup my lewenspad

meer suiwer as diepsee korale
kosbaarder as pêrels, is die kyk in jou oë
as jy vir my berge wil versit
welg’luksalig wandel ek met jou voorbeeld
op God’s pad word my liefhêdade nimmer moeg nie

© Anzé Bezuidenhout

Ons nuwe seisoen

waar sterre herberg in jou oë
in bitterheid breek die magtige Eufraat
‘n massa eksodus na ‘n geseënde land
wat die sieraad oester om my hals

dis in die wedergeboorte
van ons liefde in karos
wat aan ‘n bloedmaan hang
daar sterf in skarlaken
die donker verlede
in die palm van jou hand

Eden ons nuwe seisoen
soos kelke in die son
met reënboogstrale
alom

© Anzé Bezuidenhout

Sterstatus

in die rommel van my hart
het jy sterstatus bereik
toe jy frummels kaf
skei, flenters
aanmekaar lap
en; vir my ‘n dasvel
liefsag met
growwe hande
brei

© Anzé Bezuidenhout

Jou wese . . .

jy baadjie my met jou kalmte
daar waar soveel onnodige vrese
sekel aan die koepelruim

met jou warm kyk strooi jy bosse
geel magrietjies vol in blom en
jou asem, jou asem laat my stom

op gure reëndae knars jou hitte
vir my die Soutsee in die geurigste,
lieflikste patee soos die anker
van my rustelose troebel see
is jou wees
die hitte
van die
son

© Anzé Bezuidenhout

Geen waarde

naak
lê my wese
op die dorsvloer van die lewe
dit spook om behoue te bly,
spartelend voor die kake van
die verdoemde draak
wat spore van slagting en
dood agterlaat

deur die erosiebanke
van my wange breek
vergiftigde branders
gevul met
suurreën
uit die aarde
met geen
waarde

© Anzé Bezuidenhout

Skenk jy . . .

skenk, ja gee daagliks
mildelik troos;
mirre goud en
diamant uit die skatkis
van jou binnekant

salf my met jou bekoring
in koring se bronstige geel
stuur jou reddende boodskap
in rooi, helder soos die son

sprei jou vlerke deur engellig
heilig dan veersag die brakwater
van ons onseker tye met
die roer van jou hand
genees die siek
wat soos wurms vreet
deur ons brose gees

herstel so die wind se seer
wat wonde oopwaai
en waarheid verdraai
skenk, ja gee daagliks
mildelik troos; mirre goud
en ‘n diamant

© Anzé Bezuidenhout

Skenk jy . . .

skenk, ja gee daagliks
mildelik troos;
mirre goud en
diamant uit die diepte
van jou binnekant

salf my met jou bekoring
van safraangeel koring
stuur jou boodskap
in rooi
so helder soos die son

sprei jou vlerke deur engellig
heilig veersag die brak water
van ons onseker tye
met die roer van jou hand
genees die siek
wat soos wurms vreet
deur ons brose gees

skenk, ja gee daagliks
mildelik troos;
mirre goud en diamant

© Anzé Bezuidenhout

* Interteks strofe 2 – Breyten Breytenbach.

Kruispad

oor die dooier
van gemufte brood
se skewe grafieklyn
breek muwwe brokke
van nagmaal en
ou bitter wyn

daar hang my siel
in verbleikte slierte
oor geroeste doringdraad
stuur vervaard noodseine
oor hak en steek
en prewel woorde
deur kou en sluk
stry met die keuse
te lag of om te verstik

D A N

uit die skemerskadu’s
tree ‘n begeerte na hoop
om ook hierdie kruispad
heelvoet te kan loop

© Anzé Bezuidenhout

Kruispad

oor die dooier
van gemufte brood
se skewe grafieklyn
breek die muwwe brokke
van my nagmaal

D A N

uit die skemerskadu’s
tree ‘n begeerte na hoop
om ook hierdie kruispad
heelvoet te kan loop;
oor geroeste doringdraad
en oor hak en steek;
prewelend, kouend
en slukkend
met kíés:
sal ek lag of verstik

© Anzé Bezuidenhout

Koue vuur

tyd se koue vuur brand
deur die gange van my
treurende siel wat na
die aarde smag terwyl
klanklose hosannas
deur die alfabet spoed

© Anzé Bezuidenhout

Die yin en yang van die lewe

sien ek die wêreld in vyftig skakerings van grys
kom verf jy in teerheid die donker van my gemoed
knalrooi en immermooi met jou liefde as eerste prys
ons saamwees doen my altyd goed

as die ligglans dan agter my stiltes wil verdwyn
lees jou vingerpunte (in braille) my lewensboek
tot gebrokenheid breek en geluk oor die ‘spansel skyn
klee jy my opnuut in ‘n josefskleed en glansryke broek

knuffel dans soms die hooglied-wind
laat die granaatsmaak van die warm son
my oopmond skaterlag soos ‘n uitbundige kind
omvou dit my teer in ‘n goudgeel sonkokon

want in die yin en yang van die lewe
warrel emosies in malse speserygeure
elk met sy eie wil en strewe
soms ook agter geslote hartsdeure

@ Anzé Bezuidenhout

My boekanier

op die wieke van ‘n boekanierskip
is my liefde deur jou gekaap
daagliks hang flenter emosies aan die mas
vleg lint en brokaat ragfyn deur my gedagtelyn
wapper jou ruwe seerower dors
op elke asemteug wat klop-klop
in die holte van my bors

op soet klanke van ‘n vroetelwind
wat dwelm en bottelnek trek en dan
skuilte soek in die kuiltjie van my nek
word jou liefde bely in die mooiste neurie-klank
wat sag vlindervlerk in die skulp van my hoor
en guitig oor my vel hoendertrek

teen jou bolyf wil ek my honger en dors les
nagmaal met genadebrood breek en wyn skink
in die amber van die son wat perske oor die dag
terwyl ons wegvaar oor die oseaan wat wink
net ek en jy met jou boekanier hart

@ Anzé Bezuidenhout

Ligkaatser

as ek bidblind broos
in die skadu staan
die son kartelbreek
oor verskanste horison
tas ek blind deur
verskeurde lanferlappe
van gister se grou onthou
biggel vrae oor die
bontstiltes van my praat

D A N word J Y

die ligkaatser van my bestaan
daar waar ek my werklikheid
(druppel vir druppel in jou kyk)
in minnewoorde sien blom
dis in jou innige liefde
wat die son weer opkom

© Anzé Bezuidenhout

Katvoet

verskeurd staan
jy goedgelowige
voor geelmagrietjieblom
wat kwyl onder godsdienskleed
met aroma van lemoen en
warm kaneel, maar agter
reënboogmaskers staan verskuild
‘n geslepe tong wat skindergif
op sosiale media kan spu
jou flenters kou en
diepste menswees vergruis
kyk mooi een oog wil na links
en ander een wil na regs wink
as woorde uit die mond sy loop neem
soos ‘n windhond sonder plan
weet dan wel dat God elke
maskerhart van binne bekyk
dat Hy weet dat sonde
jou innerlike besmet
maar dat Hy ook vir
jou omkeergenade het

© Anzé Bezuidenhout

Jou dade het die Woord opnuut vertaal

toe alles woes en leeg was
het jou wese in die takke
van die boom van
kennis van goed en kwaad
(daar waar die Gerubs waak)
gaan lê
jou liefde vir my geoffer
in heilige offerbakke met die
geur van jasmyn en kleur
van die mooiste robyn
in die vloed van jou oë het
jy die see vir my oopgeskeur
my gedra op die vlerke
van ‘n spierwit duif
in teerheid vul jy my
met die soetheid van
manna en ‘n dagoud kwartel
soos n goeie herder
gee jy aan my rus
van vermoeienis
as my mure val soos die
van Jerigo en jy
jy my met ‘n rooi koord
van verkrummeling red
daar waar jy vir my
wysheidstempels bou
in teerheid my met brood
en wyn bedien loop my beker oor
op die Golgotaheuwels
van menswees het jy die kruis
staangemaak met die opskrif
vir almal om te lees
my Mannin – my Eva
en het jou dade die Woord
opnuut vertaal

© Anzé Bezuidenhout

In die hart van Korinte

ons liefde is vasgenaelstring
by die dieper lees van Korinte
daar waar genade immer
dorstong na nog meer wil lek

jou omgee maak blink
natspoorpaadjies
soos ‘n slak se spoor
en dit is in die hak
van die Wag-‘n-bietjie-bos
waar ons liefde dan vasklou

daar onder die Mopanie
op die eentonige note
van die sonbesie se sang
word die troebadoer
(diep binne jou)
se lied getoonset

dan in die flouflikkervuurvlieg
se skitter lig
drup jou gebede vir ons
met klanke van reën
op ‘n dorre somersdag
daar iewers in die
hart van Korinte

© Anzé Bezuidenhout

Die hoergewaad van skaak

stortend vloei bloedwoorde
uit my pen in ysige matrys
soos gloeiende yster om in blou-wit te stol
met opdraande en afdraande wat moeisaam
deur vier ontrou-seisoene stoei
oor die skerp van skulpstrande se deinings
terwyl my binneste dolleegbloei
met b(r)oosheid in jou hoergewaad bly jy maai
met ‘n ontblote swaard – sonder om links of regs te kyk
kap jy aan die dieptes van my siel, dans slu ‘n hekse riel
terwyl jy dertig vervloekte Judas silwer sikkels
om jou buite-egtelike laehals hang
en slagspreuke fluit op jou versoete tong
word chaos wild in ‘n donker wantrou-tornado gesaai
én ek, ek verval in die revolusie van onkeerbare haat
is daar dan niks wat jou storm ooit sal stuit nie?

wurgend strik die alge-seer, waar dit akkumuleer
in die dooier van gister wat hardgedop (ook
aanvallend) die swaarde van onverdiende
vergelding lig in ‘n vervloekte bliksemskig
lê jou verwaandheid dan doodsverstil
tussen tralies van ‘n brose ribbekas
wat deur ‘n ontsielde kadawer na doodsheid tas;

jou tot s k a a k m a t gekalibreer

© Anzé Bezuidenhout

Ek onthou

vroegoggend
as die spasies broos vasgedruk
tussen lig en donker lê
groei ‘n donkeronthouseisoen
om weer op treurboggels te ry

terwyl verlange
uit die kruike van my oë drup
sien ek hoe die son poeier oor my bed
en daar buite nuwe botsels
aan boomgeraamtes bot

dán roep die beeld van jou dood
rou in my slaapwarm asem
uit die piet-my-vrou se keel;
dit is dan wat ek witduiflik
om nuwe aanneming bid

hoor ek die windfluit
wat kreukelwolke met letters
van jou naam, sag oor die kim kom verf
en in blindepalms het ek jou beeld
van my wang gevee

© Anzé Bezuidenhout

Die laaste vertrek in die huis

daar waar banale winde in swye na binne buig
mure in stom silhoeëtte mimiek
breek jou stille heengaan in ‘n ritselraas knal,
trillend soos sonbesies se skree
ego dit deur die gietystertralies
wat druk in my kop
in die kaggelvuurvlamme
hoor ek hartseer panfluitklanke
verlangend treur;
binne my groei die swart seisoen
spookvingers dartel oor die fresko
van die eens goudgeel sonneblom
tóg, nou’s my aandoening gesluit
my trane in git geraam
en gebede slegs ‘n vae H O O P

© Anzé Bezuidenhout

Mensboom – Pastiche (René Bohnen- Mensboom)

(my hartklop fluister in braille)

gisternag het geraamtes uit my lendene gekruip
uit brakslote het nuwe botsels gespruit
in nigromansie die geel van soetdoringboom –
my verafkyk vermolm tot mos, muskaat en meet
die droomkern van ’n dieper weet
wat na ’n Hoër mag opskiet
van woorde wat in my eb en vliet
ek is die geheimekluis van oerou seëstraat
hier regeer pêrel, saffier en algedraad
daarom sal neptunis koppig die vloei rangeer
daarom is my woordfaam tot swart verkleur

© Anzé Bezuidenhout

Mensboom

(my hartklop fluister in braille)

die geraamtes van gisternag
het uit my lendene gekruip en
uit brakslote het nuwe botsels gespruit
asof in nigromansie – met die geel van
Soetdoring- het my verafkyk in mos muskaat
met die kern van ‘n dieper weet
wat opskiet na ‘n Hoër mag
van woorde wat in my eb en vloed
na die geheime wêreldsee
hier regeer pêrel, saffier en algedraad
met Neptunis wat koppig die vloei rangeer
en dán word my woordfaam in swart gekleur

© Anzé Bezuidenhout

Lyflandskap

vingerroetes wat vlietend dartel
oor gepunte heuwels en verborge dal
sensueel stadig tot fyndraai spartel
vingerroetes wat vlietend dartel
talmend dog hortend en uitasem kartel
in stygende crescendo eindig met ‘n knal
vingerroetes wat vlietend dartel
oor gepunte heuwels en verborge dal

© Anzé Bezuidenhout

Knysnatreë

as Knysnatreë trippelsag
onder my dondervoete val
ristelbreek blare onder sware vrag
as Knysnatreë trippelsag
sonder om vir skadu’s te wag
wat geluidloos in sonkolle knal
as my Knysnatreë trippelsag
onder my dondervoete val

© Anzé Bezuidenhout

Murasies van tyd

horlosie se sekelmaanhang
koggellag grysgrou
met snawels van raafswart rawe
tydtentakels tik-tok sonder end
as sekondes weggetou en
kieriemank dwaal asof
soos ou- en feëverdigsel
die plaveisel word
waaroor ons tree
tot anderdagmôre
as deure van dood
en ewigheid ontsluit

© Anzé Bezuidenhout

Skeppingsoes – (Lai gedigvorm)

daar was lig gewees
uit Sy stem en Gees
gemaak
die ribbok en vlees
elke mens en bees
getaak
om eerbaar te wees
sonder angs en vrees
te waak

© Anzé Bezuidenhout

My liefste lief (1)

my verlange skeur droog
uit verstarde grafieke in my bors
terwyl my vingers tevergeefs soek
na ‘n nuwe dialek om in fonetiek
jou van my liefde te vertel

in die asem van die waaigraswind
hoor ek die vergote klingels
van jou eens geliefde stem
wat voetslaan deur die vaaltes
van my denke – my leemtes

ek wil jou dag oopbreek
soos afdraaipaadjies in strale
van doudruppelhoop
terwyl my hart hosannas berym
in die sprankel van jou oë

mag jy, my lief –
in die ink van my smagting
die geel van jou sonneblom vind
en my hartklop se rammel
jou drome stil

© Anzé Bezuidenhout

My liefste lief (2)

‘n biegery is altyd slordig en my gekrabbel senuweek
as my woorde net perdalks nie in goeie grond sal val
en in jou hartgrond ontkiem nie
ek erken dit moeilik selfs aan myself
dat ek jaar in en jaar uit jou bemin het
maar jou nie vertel het nie

my verlange skeur droog uit verstarde grafieke in my bors
wyl my vingers tevergeefs soek na ‘n nuwe dialek om in fonetiek
van verborge moed pen teen papier jou van my liefde te vertel

in die asem van die waaigraswind hoor ek vergote klingels
van jou eens geliefde stem wat voetslaan
deur die vaaltes van my denke – my leemtes
ek wil jou dag oopbreek soos afdraaipaadjies in strale
van doudruppelhoop terwyl my hart hosannas berym
in die sprankel van jou oë
mag jy dan my lief in die ink van my smagting
die geel van jou sonneblom vind
en my hartklop se rammel jou drome stil

ek het jou gesê hierdie bieggeskenk aan jou gaan dalk
onagsaam wees nou weet jy egter al pos ek nooit dié brief

© Anzé Bezuidenhout

Sleepselstorms

ek ruik die kneusing in die lug
die blou lyk ineens nou geyk
as my hartsbetogings weier om te wyk
en saam met swaeltjies sweef op vlug

in my oë brand wegwaaiwoorde
wat vreesaanjaend bly refrein
swanger knal die stilte in wanakoorde
holderstebolder soos ‘n wegholtrein

die aksente van my hart
murmureer deur mompel –
spel net stomsielsmart
in ‘n vreemde taal

sag word sleepselstorms nou stil
waar ons saam kniel, soos God dit wil

© Anzé Bezuidenhout

Winterdraai

as winterwind sy asem waai
dood breek sag in eenvoud
asof gevries, vergete, ysig koud
is sade skelm in ys gesaai
met vriendewoord se tortelkraai
‘n wintertraan benoud
verskans in wagbehoud
atmosfeer bly koud en gelaai

die nuwe seisoen is ‘n lied o Heer
as papies teer tot vlinders beur
alle moeg en seerkry weggekring
buig ek in ootmoed voor U almag neer
vreugde kom uit my geskeur
wyl kiewiet ‘n nuwe lentelied bring

© Anzé Bezuidenhout

Papier bloeisels

gevlerkte teks stoei in my
breek deur grendels
en drup genadig na benede
skrýf leë papier tot sand

waar woorde lomp val
in smart en ook oopbeklag
openbaar my binnekant
wat om erkenning veg

kwesbaar lê ek
met modderhande betas
deur roetes van my binnetrane
tree jy deur my woestynland

waar die son ongenadiglik brand;
uit vier windstreke sweef
tirades wat legkaarte
tot nuwe bloeisels breek

op papier

© Anzé Bezuidenhout

In grysepulwer

amber skadu’s flits in jou oë
waar jy rug gedraai na my toe staan
verklaar jy ‘n slagveld op ‘n blanko bladsy
sny grafiet maer erts waar jy toe-oë
my woorde steel en slukverteer
word n lewe nuut in Godspraak
met lood gegrys, gebaar
uit die bas van olifanthout
vir behoud van talekuns

hou die natuurwet van liefde
jou in ysterkettings en bind jou jukke
met tronkdeure wat in loodgrys reën
deur woordvreugde word jou verdriet ontmasker
in die tempel-lanings wat deur jou oë bloei
en vryheid fladder deur die vlaktes van jou siel
en ek jou verjaag uit die spasie
waar hart en kop en hande
soos ‘n keramis, graffito’s in gryspulwer
teen die ééns witflets skilder

wysheid en inkspraak word die harnas van jou behoud
waar die son na jou waarheid gryp,
dit aan die goue woordstrale hang
en jy, jy vry van doolhofverbannings swerf
in die grys môrestond herrys die goue middaguur
wat aan my verstand vleuels verskaf
my denke nakend op papier kom verf

as skadu’s sterf kry my woorde ‘n voetpad deur my hart
van mitiese tydgleuwe en sommer oor niks
ek begin lewe en is daar is groei
waar jy volkome op die ritme van my asem leef

© Anzé Bezuidenhout

Kruispad

oor die dooier
van gemufte brood
se skewe grafieklyn
breek die muwwe brokke
van my nagmaal

D A N

uit die skemerskadu’s
tree ‘n begeerte na hoop
om ook hierdie kruispad
heelvoet te kan loop;
oor geroeste doringdraad
en oor hak en steek;
prewelend, kouend
en slukkend
met kíés:
sal ek lag of verstik

© Anzé Bezuidenhout

Skenk jy …

skenk, ja gee daagliks
mildelik troos;
mirre goud en
diamant uit die skatkis
van jou binnekant

salf my met jou bekoring
in koring se bronstige geel
stuur jou reddende boodskap
in rooi, helder soos die son

sprei jou vlerke deur engellig
heilig dan veersag die brakwater
van ons onseker tye met
die roer van jou hand
genees die siek
wat soos wurms vreet
deur ons brose gees

herstel so die wind se seer
wat wonde oopwaai
en waarheid verdraai
skenk, ja gee daagliks
mildelik troos; mirre goud
en ‘n diamant

© Anzé Bezuidenhout

Ligkaatser

as ek bidblind broos deur emosies kolk
en die son kartelbreek oor verskanste horison
tuimel onthou nes ‘n ylwind se sing-sing
soos verskeurde lanferlappe met jubelsange
oor die bontstiltes van my hart se kyk

waar verse soms soos ‘n ou-ooi gaan lê
kronkel jy my toe in ‘n trooskombers
met verskillende kwaste van helder pers
dan word jou skadu ‘n vagevuur wat binne my stoei
die refleksie van my denke word om jou gebou;
en oor die stom-oewers van my praat
blaar jy lowergroen om my sinne

want

J Y

is die ligkaatser
van my diepste wese
waar ek my werklikheid
druppel vir druppel in jou kyk
in minnewoorde sien blom

© Anzé Bezuidenhout

Gekerkerde kristal

sand palet saffraan in eb en vloed
en jy, waarom het jy in jou wegstap my lag vol
gate geloop en my drome langs die pad verkoop
nou lê ek getronk (soos ‘n vergete songodin)
gekerker in kristal en wag om die son te groet
in my oë dwarrel ‘n leë gesmeek na jou
sodat ek my dors in jou wees kan les
fladderende gevoelens tortel in die kluisterglas
brandend dog weerloos lê my smagting opgedam
terwyl my vingers, reeds stukkend
deur glas gesny, na uitkoms grou
weggespoel, verlore staan ek dan
droomverlore tussen dooie gras terwyl ek
smagtend in vingerverf met geel skakerings
oor traantralies lyne trek met iewers versteek
‘n bitter blou en ‘n d i e p e onthou

© Anzé Bezuidenhout

Koue vuur

tyd se koue vuur brand
deur die gange van my
treurende siel wat na
die aarde smag terwyl
klanklose hosannas
deur die alfabet spoed

© Anzé Bezuidenhout

In die hart van Korinte

ons liefde is vasgenaelstring
by die dieper lees van Korinte
daar waar genade immer
dorstong na nog meer wil lek

jou omgee maak blink
natspoorpaadjies
soos ‘n slak se spoor
en dit is in die hak
van die Wag-‘n-bietjie-bos
waar ons liefde dan vasklou

daar onder die Mopanie
op die eentonige note
van die sonbesie se sang
word die troebadoer
(diep binne jou)
se lied getoonset

dan in die flouflikkervuurvlieg
se skitter lig
drup jou gebede vir ons
met klanke van reën
op ‘n dorre somersdag
daar iewers in die
hart van Korinte

© Anzé Bezuidenhout

My ghantang

My reis het in jou lyf begin
daar waar die tortelwoorde
van jou sagkyk en trekke
van jou mond
omgang plant
in sagte aalmoes-grond.

Minnedigte sonder tal
word in jou bloed ontgin
want jy’s my einde en
ook weer my nuwe begin;
my mallemeule
wat rondomtalie spin.

Jý ja jy’s die ghantang
van my binnekant wat
onbeskroomd maanligstrale
vir my vang om dit met die
donsgeel van ‘n soetdoring
tot ere-kranse
in my hare vleg.

© Anzé Bezuidenhout

My pruttel woorde

Pruttel liefhê-letters
soos dryfhout uit my hart
nes ‘n hemelse lullaby;
versamel dit nektar
deur skrefiewimpers,
want in jou beelt’nis
het ek my vrede gevind.

In die warm klanke
van jou hartstaal
gekaart soos druppende note
uit ‘n basviool,
wat die Melkweg roekeloos
nét vir my inkatrol.

Ek verdwaal in die
lagkreukels om jou oë,
ek dryf in jou muskusreuk
wat soos rivierbane deur my psige
kronkel in mosaïek van dieprooi.

Jou hartklop staan in duet
en ek bid dat die son sy tree maskeer
vir tyd om stil te staan…

D A N

by aanskoue van hierdie geluk,
het ‘n glimlag (van puur genot)
aan God se mondhoek gepluk.

© Anzé Bezuidenhout

Ligkaatser

Jou skadu
is die vagevuur
wat binne
my gloei
die refleksie
van my denke
word om jou gebou;
J Y
die ligkaatser
van my diepste wese
waar ek my
werklikheid
in jou oë
druppel vir druppel
in minnewoorde
sien blom.

© Anzé Bezuidenhout

My gebede(m)uur

Iewers in die verre
Jerusalem staan ek
gesluierd (ook denkbeeldig)
op kreukel-knieë
biddend voor hierdie
ó so vreemde
gebedemuur.

Gebedsnotas orals in
gebarste stene gedruk,
hartsbedes van suiwer
geluk, maar ook trane
uit die wese geruk
wat die muur as
verskuilde graffiti versier.

Smekend om te mag lewe
na die heilige gebod, liefde
tot my naaste
en my Almagtige God.

Ware ligfakkel in
elke donker uur. Dis
die rede vir my
lewensduur.

© Anzé Bezuidenhout

My labirint (Dwaaltuin)

Spartel my ontroeringe
soos ‘n fynbos-verlange
wat deur my labirint
tot ‘n voltooide sirkel
waarin ek ongeveinsste
liefde vind.

Verwonderheid wat
uit blomverdorde-kokon
tot skoenlapperskoonheid
bloei in lewegewende
nektar van die liefdeson.

Fladderende emosies
wat ewigdeur eb en vloed
in jou oë se vurige gloed
kom kolk soos lawavure
deur my bloed.

© Anzé Bezuidenhout

Koue vuur

tyd se koue vuur brand
deur die gange van my
treurende siel wat na
die aarde smag terwyl
klanklose hosannas
deur die alfabet spoed

© Anzé Bezuidenhout

Arabiese lente – Haikoe

lewe sielesmart
Arabiese lentebloed
deurdrenk die erfgrond

© Anzé Bezuidenhout

My boekanier

op die wieke van ‘n boekanierskip
is my liefde deur jou gekaap
daagliks hang flenter emosies aan die mas
vleg lint en brokaat ragfyn deur my gedagtelyn
wapper jou ruwe seerower dors
op elke asemteug wat klop-klop
in die holte van my bors

op soet klanke van ‘n vroetelwind
wat dwelm en bottelnek trek en dan
skuilte soek in die kuiltjie van my nek
word jou liefde bely in die mooiste neurie-klank
wat sag vlindervlerk in die skulp van my hoor
en guitig oor my vel hoender trek

teen jou bolyf wil ek my honger en dors les
nagmaal met genadebrood breek en wyn skink
in die amber van die son wat perske oor die dag
terwyl ons wegvaar oor die oseaan wat wink
net ek en jy met jou boekanier hart

© Anzé Bezuidenhout

Jou dade het die Woord opnuut vertaal

toe alles woes en leeg was
het jou wese in die takke
van die boom van
kennis van goed en kwaad
(daar waar die Gerubs waak)
gaan lê
jou liefde vir my geoffer
in heilige offerbakke met die
geur van jasmyn en kleur
van die mooiste robyn
in die vloed van jou oë het
jy die see vir my oopgeskeur
my gedra op die vlerke
van ‘n spierwit duif
in teerheid vul jy my
met die soetheid van
manna en ‘n dagoud kwartel
soos n goeie herder
gee jy aan my rus
van vermoeienis
as my mure val soos die
van Jerigo en jy
jy my met ‘n rooi koord
van verkrummeling red
daar waar jy vir my
wysheidstempels bou
in teerheid my met brood
en wyn bedien loop my beker oor
op die Golgotaheuwels
van menswees het jy die kruis
staangemaak met die opskrif
vir almal om te lees
my Mannin – my Eva
en het jou dade die Woord
opnuut vertaal

© Anzé Bezuidenhout

In die hart van Korinte

ons liefde is vasgenaelstring
by die dieper lees van Korinte
daar waar genade immer
dorstong na nog meer wil lek

jou omgee maak blink
natspoorpaadjies
soos ‘n slak se spoor
en dit is in die hak
van die Wag-‘n-bietjie-bos
waar ons liefde dan vasklou

daar onder die Mopanie
op die eentonige note
van die sonbesie se sang
word die troebadoer
(diep binne jou)
se lied getoonset

dan in die flouflikkervuurvlieg
se skitter lig
drup jou gebede vir ons
met klanke van reën
op ‘n dorre somersdag
daar iewers in die
hart van Korinte

© Anzé Bezuidenhout

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?
15 November 2005
Gedigte
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.

Onlangse kommentaar

kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:37:03
[…] TEATERONTWERP: Jaco Bouwer – Liewer: Stel Marthinus Basson – Die koninkryk van...
kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:36:45
[…] AKTRISE: Anna-Mart van der Merwe – Liewer Antoinette Kellermann – Asem Illse R...
kykNET Fiëstas-toekennings 2018 | Roekeloos
2017-12-07 08:36:29
[…] AKTEUR: Albert Pretorius – Wild De Klerk Oelofse – Nêrens, Noord-Kaap Pa...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.