// jy lees ...

Gedigte

Gedigte van Babs van der Merwe

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Nuwejaar op Geluksdam

Môre is weer Nuwejaar (en Oupa Jan
verjaar).
Almal sal hier vergaar:
familie, vriende nogeens almal bymekaar.
Ouma Sarie hou die leisels met geduld en
liefde vas –
die tannies – tannie Miem, Miempie en
Tiena – moet die disse netjies pas.

Boeboe bring die droë skaapbossies van die
veld,
stook die buite-oond met toewyding en
geweld-
die Ounooi wil ‘n warm oond vir die tertjies
hê.
So nie sal die volkies les opsê.

In die koeler agter die huis onder die
bloekom
kom die gemmerbier tot wasdom.
Kinders probeer kort-kort proe
van konfyttertjies en bier, maar Boeboe
sien alles en maak betyds alarm.

Dis somer en op die plaas is dit warm,
soos dit net in die Karoo kan wees.

‘n Loomheid hang oor die veld, skaap en
bees.
Van vroeg af kom die pêrekarre by die
voorhek in,
ry windmaker by die laning peperbome in
en gooi ‘n wye draai voor die opstal.

Hartlike gegroet en gelag vul die lug.
Kinders verlekker hulle met neefs en niggies
lanklaas gesien, hardloop en gil van pure
plesier.
Aanstons moet die oudste niggies gaan
help.
Dan staan die tafels gedek,
Jy kan maar solank jou lippe aflek –
maar vandag eet die kinders eerste
(anders as by meeste familie feeste).
Die tannies bedien hulle, aartappels, vleis,
groente, beetslaai, rys
en eindelik gestoomde poeding.
Daar was trippense in, eers gekook.
As jy nie één raakgebyt het nie, het dit lank
by jou gespook.

Die grootmense sit aan met wyn by die ete.
Die kinders het al weer gaan speel met die
wete,
vandag is die verpligte middagslapie

vergete.
Tussendeur eet hulle konfyttertjies,
drink hul gemmerbier en kry by oupa
winkellekkertjies.

Laat-laat middag word die pêre weer
ingespan, die kinders geroep om te kom
groet.
Selfs na die laaste pêrekar deur die voorhek
verdwyn,
bly die gees van welwillende samesyn
soos balsem oor die opstalle en lanings
hang.
Herinneringe sal deur die jare nog getuig
van Oupa Jan en Nuwejaar op Geluksdam.

 

Hennie

Kreukels van lag by die hoeke van jou oë
onder gevlerkte wenkbrouboë.

Jou songebruinde vel verhelder deur flitse
van kerslig se blitse.
Ek kyk peinsend, betower.
Jy kyk op en verower.

Jou stil, bedaarde glimlag,
soos lente na die winterwag,
laat dit warm word in my,
maak my menswees bly.

In die donker in jou arms gevou,
koester ek my en bly vertrou
dat dit altyd so sal wees -
JY my vesting teen vrees.

Jy word my skild teen leed
wat my met liefd’ oorreed
om elke nuwe dag
met blyheid te verwag.

Ek dank die Heer vir jou
en bid dat Hy jou veilig hou.

 

Kromdraai se boeresport

By Kromdraai se boeresport
is die broekies styf en die rokkies kort.
Die lywe rooi gebrand,
speel die kinders in die sand.

Die spiere bult en lywe sweet
tussen baie lag en lekker eet.
Perde maal in die stof
tot hul langmaanhaar in die eerste skof.

Wulpse meisielywe vlug en lok
so om die beurt die bok,
tot hy rasend hyg,
oor vrou en kind maar swyg.

Die vrouens lag so uit die keel,
is min gepla met soentjies-steel.
Genoeg om stil te sit en puf,
hul susters met ‘n pouz te bluf.

As die son die aand kom sak
word alles opgepak -
ook die wellus van die dag.
Vergete is die skril gelag.

Môre dra hulle weer
“mevrou-skoene” – egte leer -
trek die rokkie oor die knie
sê nie pruim nie.

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.


Bespreking

Geen kommentaar vir “Gedigte van Babs van der Merwe”

Gee jou mening