Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Afrika Nag
Eenduisend Afrika nagte
brand in my gemoed
eenduisend kampvure
pols my swerwersbloed
In die vuur se flikkervlamme
dans my nagvuur skadu
’n stomstil ballade
teen spook boomstamme
Die middernaguur
doof my vuur
Afrika sluimer
n bleek maan huiwer
beklee die nag
in ’n silwer sluier
’n Leeu se brul
verskeur die nag
en ’n jakals huil
in die wind
Die naguil staar
’n kiewiet klaag
en die riete
wieg in die wind …
op maat van
die ewige
Afrika ritme
Seisoene van Gister
Seisoene van gister
en eergister
waai in die wind
vergete en verlate
soos laas jaar
se najaarsblaar
Gister se glans
en glorie
verdof
in die stof
Die uurglas
loop leeg
sandsekondes
gly
deur die oog
van die naald
moeiteloos
mateloos
soos die sand
van die see
Gister se najaarsblaar
krimp tot kompos
in die ewige
kringloop
van die kosmos
wyl die winterswind
langverlore
voetspore
vul
met die sand
van die tyd …



Bespreking
Geen kommentaar vir “Gedigte van Boerseun”