Gedigte van Celeste Herman

Die lekkerste lekker …

Jy is my pannekoek,
My sausage roll,
My braaibroodjie met konfyt,
My rooibostee,
My druiwesap,
My koffie met beskuit.

Jy’s my oesters op ys,
My mosselsop,
My seafood platter vir twee,
My prawn coctail,
My kreefpotjie,
My kingklip vars uit die see.

Jy’s my wortelkoek
My chelsea bun,
My chocolate van elke soort,
My Oreo,
My Lemon Cream,
My stroop op vars gebakte brood –

Al is die lewenspyskaart ook hoe groot –
Sonder jou sal ek ewig honger ly –
In fact,
Jy’s heel bo aan my lys,
As geliefkoosde lekkerny!

‘n Boompie in ons tuin geplant

Dierbare Engeltjie hier digby my hart,
Hoe lank het dit my nie gevat –
om gewoond te raak aan die wonder …

‘n Fraaie boompie met sy eie aard,
deur Jesus in ons tuin geplant,
om met liefde en wysheid vir God groot te maak,
Met Hom as Hooftuinier aan ons kant.

Deur gebede en genade van Bo,
is jou pad as Jesus-kind,
reeds lankal bepaal,
En daar waar ons as ouers mag faal,
Neem Jesus die snoeiskêr in Sy Hande.

‘n Ma se Gawe …

‘n Ma het ‘n besondere gawe,
Met haar soene genees sy wonde en skawe,
En maak ‘n seer hart weer heel.

Met haar sagte oë, straal sy liefde uit,
Met haar drukkies spreek sy boekdele sonder woorde.

Sy vind haar vreugde in haar kinders se lag,
Sy stort haar trane om hul swaarkry te versag,
Haar knieë is lankal deurgeskuur, van ure se gebede.

In Jesus alleen vind sy haar krag,
Om haar dagtaak te voltooi,
En wondere te vermag.

Sy is die kroon van God se skepping,
Die vonkel in Sy oog,
Sy bring hoop dwarsoor die wêreld,
Deur nooit moeg te raak om kindertrane af te droog –
Selfs al is hul lankal groot, en soms onbewus van haar gawe.
BEA

Jou Hardekool Hart …

Wanneer die son sy strale oor die Kim verloor
En die maan haar kapsel regskuif voor die sterre koor,
Dis dan wanneer ek jou eensaam roepstem hoor

Dis dan wanneer jy my hart ruk dat ek my ore spits –
My jou storie vertel
Terwyl die wind deur jou blare rits –

Dag na dag reik jy na die son,
Terwyl jou wortels grawe,
Na die soetste minerale bron

Almal loop verby jou,
Maar niemand sien jou meer raak,
Niemand besef hoe elke hand wat op jou rus,
Jou diepste boomwees raak

Net ek ken die geheime van jou hardekool hart,
Jou heimwee en verlange,
Jou seerkry en smart –

Jare lank nog sal jy hier staan,
Terwyl elke handpalm lank reeds vergaan –
Die stille aanskouer van elke spoor –
Jou Beste Blaar het jy in’n veldbrand verloor!

Maar more,
Wanneer die son weer herrys,
En die maan terugkeer na haar sterre-paleis,
Droog jy af al die trane
Van jou stille geween,
Word jy weer my skuiling,
In sonskyn en reën

Ware liefde

Ware liefde is ewig
Dis ‘n gawe van God
Dis die bron van die lewe
Dis Sy grootste gebod

Dis geduldig in swaarte
Dis ‘n glimlag in pyn
Dis ‘n sonstraal op reëndae
Wat die mis laat verdwyn

Dit is nie jaloers nie
Dit stook nie die kwaad
Dit is nie verbitterd nie
Dit luister na raad

Met geloof en hoop hand aan hand
Vorm liefde ‘n eenheid –
Van God ‘n pand.

Jy voltooi my

Wanneer ek soggens my oë oopmaak
En die eerste morelig aanskou
Kan ek nie my gedagtes keer-
Hul vind vanself hul weg na jou!

Dit laat ‘n glimlag op my gesig verskyn,
Wat meer as net my oë raak –
My hele wese word vervul
Met ‘n vreugde wat by die dag net groter raak.

Jou liefde en ondersteuning
Dra my op vleuels van die wind
Jou begrip en vetroeteling
Gee aan my die geborge gevoel van ‘n kind

Met jou eerlikeid en reguit manier van sê
Probeer jy niks wegsteek of van my weerhou-
Weet ek altyd presies waar ek met jou staan,
Kan ek jou in en met alles vertrou.

Jy is my liefling, vertroueling
Trouman & maat,
My gelukbringer, sielkundige
Raadgewer en kameraad

Dis wonderlik om te weet
Jou hart behoort aan my –
Ons deel 1 siel, 1 wese –
Jy voltooi my!

Jy laat my lag …

Jy laat my lag
Dat my oë traan
Jy maak my jou feëprinses
Laat my vlieg oor die maan

Jy pluk vir my blomme
Sommer net om dankie te sê
Wanneer die windjie koud buite waai
En jy eerder onder die komberse kan lê

Jy doen moeite om my te bel
Sommer net om hallo te sê
Al sit jy langs iemand anders
Wat graag jou aandag wil hê

Jy maak die wêreld vir my mooi –
‘n Paradys vol betowering –
Selfs nie die donkerste wolk
Laat jy toe om hartseer in my lewe te bring.

Jy bied antwoorde op al my vrae
Jy is ‘n pleister teen my hartseer en pyn,
Sonder jou sal ek soos ‘n veldblommetjie in droogte
Van eensaamheid en verlange wegkwyn!

Wat is Liefde?

Dis ‘n houtkruis teen alleenheid,
‘n Steunpilaar in pyn,
‘n Vuurhoutjie en ‘n olielamp,
wanneer jou lewenslig begin kwyn.

Dis ‘n skouer om op te huil,
wanneer die wêreld jou soms druk,
‘n Hand wat weet wanneer om jou vas te hou,
en wanneer om vir jou ‘n roos te pluk.

Dis ‘n oor wat na jou luister,
Al praat jy soms nie sense,
‘n Stem wat vir jou fluister:
“Jy’s ‘n dierbare mens”

Dis ‘n kombers teen die koue,
‘n Sambreel teen die reën,
‘n Fort waardeur geen wind kan waai,
Selfs wanneer die donderweer buite dreun.

Dis ‘n telefoonoproep uit die bloute,
‘n Drukkie wanneer jy dit die nodigste het,
En wanneer woorde oorbodig is,
word Liefde ‘n stille gebed.

Bo alles is Liefde ‘n gawe van God –
Geen mens kan daarsonder klaarkom –
Dis die kern van Sy grootste gebod.

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar