Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Verwyt

Verlig, verleë, verlore
Diep binne my lê jou spore
Al langs die kuslyn
Soos die branders breek oor jou en my

Verwoes, verskroei en verlate
Die gedagte van jou vloei deur my vate
Al langs die woud
Soos die herinneringe aan my verkoud

Vergeet, vergewe en versoen
Is dit werklik wat goeie mense doen?
Al langs die bitterheid
So groei die sagte vrug van verwyt

Berou

Ek was die boombas
Jy, was die grond
Verlore raak ek in die opgetrekte hoeke van jou mond
En nou, sit ek, in sak en as, belas

Ek versmoor in verlange
en
Verdrink in verdriet
Ek ag gehegtheid verniet

Soos die seisoene draai
Swaai, waai, blaai ek weg van jou
en jy
laat my in die donker doolhof van berou

Roep hom herhaal

Die gedagte van jou ;
’n gedagte wat klou

Soos ’n ongenooide gas,
daag hy op en vestig homself as tuis
F(v)rommel my denke
&
maak dit sy huis

Versteur my beplanner,
verneuk my slaappatroon
juis omdat hy rondkruip
in elke dônerse droom

Beproef my geduld
begrawe my knie-diep in die skuld
My moed sak in my skoene
hy so roekeloos

soos die seisoene.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar