My Land
My land, my land
my land se voete brand
My land eens wild
Gemaal tussen roer en skild
My land getem
met swaard se lem
My land verkrag
siel gestroop met myn se skag
My land verdeel met byl se smart
Langs naat van wit en swart
My land tot snik versmoor
Onreg skree in slawe koor
My land het swaar gely
Deur gister se bandiet bevry
Hy word president van presidente
Lei ons land na swaaverdiende lente
My land staan op
Lig sy kop
Maar … , my land se voet haak vas
In sy aar dra hy sware las
My land baklei met virus
Wat sy mense uitdroog soos papyris
My land het nuwe stryd gevind
Vyand wat almal vir eens saam bind
Gesiglose soldate
Veg stryd in die strate
Halfhartige pogings laat nie vyand wyk
Moet ons nog verder wag en kyk?
Vat voor vat vas
Skud af hierdie las
Wat sy vra is nie veel
Al wat sy vra is doen jou deel.
My Kruis
Aan dié Psalmdigter op die ritme van my hart:
Donker is die strate
Grafstil my huis
Vensters dig toegetrek
Uitgeverf in swart
Volvloer met bloed bevlek
Speld-flits pynlik lig val teen my deur
Dan weer duister
Onrustigheid roer
Dorings pynlik laat meer lig deur
Ek spyker hom van binne toe
Gróter spykers buig myne om
Spies breek my deur
Tref my aan die binnekant waar ek die lig probeer keer
Laaste asem versmoor in pyn
Die bloed wat bloei is nie myne nie
Bevlek my huis bo elke koesyn
Traag neem donker die wyk
Dan vinniger wen die lig se ryk
My huis word glas
Die lig se kas
Buite het `n nuwe aarde gekom
Genade genesing staan blink in die blom
Vloei uit my huis ‘n helder aar
voed ‘n nuwe boom swaar in die blom
In oorvloed hang eden se vrugte daar
Ek kniel verwonderd en verstom
Dankie Heer – niks verder vra ek meer
(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za)
Gee jou mening