Gedigte van Daniëllé van der Merwe

Paloeka op die Plaaspad

Hy’s maar net ‘n paloeka op die plaaspad.
Kaal voete verdrink is stof
Sy klere vuil en voorkop natgesweet.

Hy’s soos die stof van die aarde.
Sluimerend in die koelte va ‘n doringboom
Een met die natuur.

Hy’s ongeskoold, maar meester op sy gebied.
Die veld sy handboek, sy lewe ‘n les
Die Meestersplan sy padkaart.

Hy’s arm soos ‘n kerkmuis.
Maar in sy hart is hy ‘n miljoener
Sy nederige modderhuisie sy koningkryk.

Hy’s’n kind van die veld.
Ongebonde deur tyd of plek
Die son sy daaglikse metgesel.

Hy’s maar net ‘n paloeka op die plaaspad
Sorgeloos
Vry.

Lipstick Liefde

‘n Gesmeerde lipstick sonsondergang
Pienk, oranje, rooi.
Die sinkplaat grondpad verdwyn
In die verte. grou getooi.

My hart huil irisswart trane
Soos die ou nag nader sluip
‘n verdwaalde ster, verlief, verlore
Wat stadig die nanag inkruip.

Die vroeë oggend dou
Klou aan die hand van ‘n lipstick veeg
Rooi, oranje, piek
Wat nog sluimerend oor vlaktes beweeg.

Die goue valleie van jou hart
Verwelkom warm lipstick kleure
En in my hand, hou ek die sleutels
Van al jou siel se deure.

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar