Gedigte van Daryl Bredenkamp

Wintersoggend
Honger lywe wat styf teen mekaar inlê,
(en dit is toe hy dit vir haar kon sê)
met koppe vol gedagtes wat deurmekaar
(van die ding met haar pa se ploegskaar)
op die koue kant van die kussing rus,
(wat klip getref het en nou stukkend is;)
en wedywer om woorde op die lippe
(verdomp, hy het vir Petrus gese om die klippe)
van twee vurige verliefdes te word.
(in die stukkende dam te stort.)

In die draai, in die lies omvou, met die warm
reuk van haar vroulikheid wat hy omarm –
(Pappie het nog skare daar op Klipwerf
en ek en jy ‘n kleinding op ons kerf.)

Wie’s Jy?
Wie’s jy om vir my te sê waarmee die sin
van ‘n digter hom nou eintlik moet begin?
En, waar lê jy – as ek dalk mag weet,
sonder om te vra in wie se arms jy nou sweet?

Is daar ‘n einde of begin van al die vrae?
Nietemin, is die tyd net te kort om te kla
of vir verwyt oor die kiekie wat nie kyk
en die spyt dat ek nie net ‘n bietjie jonger lyk.

Wie’t vir jou gesê dat ek dalk van jou kan hou
of nog meer, jou reeds begeer. Al sou
Meneer soos die son soggens in jou oe opkom
sonder verweer bly ek nog staan, bly ek stom.

Net een kans om te begin. Soveel te verbrou.
Ek sien jou, en ek vra jou – hoor my nou.

Anna bit
Ek kanit nie mee vattie.
Jullese wat van als wiet;
en ik wat wiet van stoep vee
en koffie aandra wa jullese sit
en praat en skoffelmerke skop
in die blink van my pollies-stoep.
Want more sal ik wie kom
en wat moet ‘n meit doen
as jullese nie mors en ongeërg
praat van poltiek asof my ore
so bot soos my gesig kan bly
terwyl ik verbystap waa jullese
Got se naam verydel. Ja, jullese
het ons geleer van Hom,
en ons buig ons neer vi bit
as jullese snags neerhalend sê
dat die “Oubaas” jullese oppas.
En ons dank Got vi die petrolbom
en die klippe wat ons gooi,
want more sal vertel hoe helde
met net gebet ‘n bloedrivier
van vryheid lat vloei het.
En ons wonner in die stilhyt
wat sal gebeer as jullese ok
op jullese knieë gaan en weer
needrig vra dat Got
jullese nasie van ons bevry.

Jy en die Donkerman
Jou steenkooldos wil nie deurmekaar wees nie,
maar jy wil dit graag so hê.
Gisteraand was jy myne, maar het jy
dit geweet terwyl jy incognito daar lê?

In die oomblik was jy vasgevang en beskryf;
skraallyf en skoon belustig bevind.
Skurf ontbloot was ‘n enkele oomblik
doelbewus toegevou in jou vingerpunt,

en ek kon Braille gaan lees in die nag
oor die sysag en die sonvlek
terwyl asemdiep elk’ slaapsug verberg hoe erg
die plesier van strelings oor die nek.

Niemand kan vandag sê waar ons gister was;
selfs jou “lucky packet”-lippe bly gestol
in ‘n nikssê glimlag, maar jou oë verklap
jy weet van als en jou hart klop vol.

Was jy ietwat ouer, was ek effens jonger,
daar’s perke aan wat mag…wat kan,
en mag ek sê; was jy sy of was ek vry – ag,
in die nag stap die alleenloop donkerman.

Van die Skryfblok
Skeurbladsye lê aan duisend flarde
waar woede woorde was; nou uitgewoed.
Waaidokumente wat windlangs skarrel en harde
hande moet gaan haal, bepaal die boete
deur vou-folios netjies vasgelê, gepos
en koevertstyf origami-drakies ingesit –
om te ontvou waar roosrooi plakkers pas.
Die amper seer van pampiersnye in wit
satynsag sneesdoekvelle toegetroetel,
of die gewalgde geur van deurgetrekte
toiletrol is wat bly. Frommelpapier wat was
verbrand, verstik en uiteindelik net as.

Verweer
Hoe vreemd klink die klanke nou
van ‘n lank verlore moedertaal
as ek weer per pen en tong gevou
my verweer teen die vreemde haal
uit ampervergete, waar soetsuur
herinnering teen my stamp en dring
en kleurvol geure my skouerskuur-
teensinnig terug tot die hede bring.

Ek wil vlug van dit wat stukkend is,
veeg blindelings verby ‘n sinkplaatkamp
wat ongenooid in my voorhuis rus
en banaal verklaar hy dra die amp.

“Sikelele!” galm geplakte vlaktes nou
en ek, “My God, my land ek’s lief vir jou.”

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar