Kieslys

Close


*/

15 Januarie
2010
Gedigte
4463 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Deon van Wyk

Aandblom
Kom hang jou jas
aan die sekelmaan,
teen die helfte van half
aan my kwart bestaan,
waar die aandblom
leef in dissel-strik,
weerloos wagtend
op ‘n blinde prik!

Skink dan vir my
‘n kommetjie lig,
dat die sekel kan groei
na ‘n vol gesig,

want ek het geglo
die maan is van kaas
maar nes ek wou proe
is’ie kers uitgeblaas!

Bring tog vir my
die aandster aan,
da’ ek ka loop soek
na my heelgesig maan!

Saam kan ons
die sterre skyn koop,
en so die aandblom
in poeier gloed doop,
want in sirkel-siklus
sonder end,
kan net jy,
die blink in duister prent!

Gegroet
Aangename kennis,
ek is Jou Jy!

Ek ken jou naam
jou kom en jou gaan,
koester jou drome
in ‘n stille bestaan!

Aangename kennis,
ek is Jou eie Jy!
Stringe vol woorde
om net bietjie sin te kry!

Aangename kennis,
ek is Maar net Ek!
‘n doodverlore eiland
op ‘n bekende, vreemde plek!

alom bekend
Op elke trein
wag ‘n stasie,
paronne en bankies,
vreemde gesigte,

-maar, helaas,

gelaai met dieselfde,
immer ou bagasie!

TYD VERRAAI !
Op ouma se bed
lê ‘n lappieskombers
vrolik in kleure
van geelrooi tot pers,
wyl splinter lig
van die vaal-wit kers
skadu’s laat dans
oor evangelie vers.

Woorde winde tyd verwaai,
êrens het ‘n haan gekraai!

Langs ouma se bed
teen die kamer se muur,
tik ‘n horlosie
genadeloos, geil sekuur,
loop die sekondes
al sestig, aan nog ‘n uur
wat verby moet gaan
alvoor sonlig môre mag stuur.

Woorde winde tyd verwaai,
êrens het ‘n haan gekraai!

Nog een dag
altoos ‘n maand en jaar
wanneer seisoene
langs ouma se bed verjaar,
aldan ons weer
gaan lawaai en baljaar
kinners opsoek
na die geelrooi akkerblaar!

Maan
Op ‘n aand soos vanaand
binne ‘n oog se knip
as die maan agter wolke
in dowwe silwer gaan sit
soos ‘n outydse foto
swart, grys en wit
word ‘n stukkie van gister
in rekord gestip
verlede word weer hede
in lank t’rug se onthou
as geraamte murasies
weer na dakhoogte bou
op ‘n aand soos vanaand
binne oomblik in tyd
word die donker verlange
ge-graniet in bitter verwyt.

vaart
In stormsee,
het ‘n boot gekantel.
Kansel, kantel, lood!
– matroos oorboord,
asemlose donker-dood!

Kaja
Onder my kaja se stukkende dak
het ‘n spierwit swaeltjie ‘n nessie kom pak,
stukkie vir stukkie uit modder en klei
het sy sonskyn aan my hart gebrei.

Teenaan die sink en geroeste muur
het sy dag en nag haar vlerke geskuur,
stadig maar seker met die son se sak
is die gate een een toegeplak.

‘n Krakende deur het olie gekry
en hortjieraam vensters gordyne van sy,
in die kombuis het ‘n vuur gebrand
weg was die winter se korrels van sand.

Saam met die wiel wat seisoene laat draai
luister ek fyn of ‘n haan dalk kraai,
wat die swaeltjie se stem
in die noorde laat sing.

Vuur
In die rooi van die
wingerd in my glas,
dans rinkink die vlamme
van die bitter bessie bas.

Erens in die verte
agter die miere se hoop,
het my gedagtes
jou skielik raakgeloop.

Diep in die donker
waar eerlikheid brand,
aan die einde van
elke woestyn se sand.

Waar sin en rede
ophou om te bestaan,
somer en winter
in tyd vergaan.

Daar het ons gepraat
sonder woord of taal,
ek het stil gewonder
wanneer jy my kom haal.

My liefde is gebêre
oorkant die maan,
sonder mot of roes
vry van arg en waan.

In die trane van
twyfel en verdriet,
het my hart vir
ewig wortel geskiet.

Môre is maar net
‘n dag se onthou,
nooit hoef jy te wonder
ek is ewig lief vir jou.

In die droesel van
die wingerd in my glas,
gloei nou net die kole
van die bitter bessie bas.

Karoo
Langs ‘n potloodlyn wat in verte verdwyn
het ons gepraat oor die telefoondraad,
van koppie tot rant is die woorde geplant
onder kraaie se vlug op Karoo droë rug.

Jou hand het gewink binne spieëlbeeld blink
waar my drome sou giet in die verre verskiet,
met verlange wat bloei in die geel-rooi gloei
is aan liefde gelam langs ‘n stukkende dam.

J’t my hart gekoop met net bietjie hoop
op ‘n eendag later se komme vol water,
langs ‘n potloodlyn wat in verte verdwyn
waar ek hotklou hou oppad na jou, sou jy wou!

Karee
Op die ou karee
se skadu kombers,
speel die son se strale
nes na-nag se kers,

flikker en vlam
van helder tot vlou,
bo span die hemel
agter wolke in blou.

Proe jy die somer
en ruik jy die grond,
wanneer stilte wandel
in ewig verbond.

Sou klippe kon praat
en bome kon sê,
dan sal jy verstaan
waar die liefde lê!

Kleinman
Sag suis die snuifie
Kreuntjie dra die droompie
Babbel, Krabbel is nou soet
Klaasvakie het kom groet

Ogies wat loer
Woordjies ratel sloer
Handjies draai tongetjie knoop
Waar gaan daardie voetjies loop

Lag luier die rinkink
Bolwangetjies laat weerklink
Kleine kuifie kantel
Bewe beentjies wankel

Giggle jil en roep
Maak gou gou droog my doek
Vinkel en koljander
Ek jy geen ander

Lyfie teer en rein
Hartklop van safryn
Babamensie in die sand
Jy’s die palm van my hand

(pappa se karnallie
baba bondeltjie
woelwater wonder’kie)

Middernag-uur
Wanneer die laataand sagte stilte bring
en geen voëls meer aan die hemel sing,
dwaal my gedagtes langs die bekende pad
wat my telkens terug na jou toe vat.

Ek wonder of jy slaap of bid
of dalk nes ek in die donker sit,
sonder woord het my hart gepraat
iewers op die hoek van ‘n verlate straat.

Van ‘n droom en verlange wat brand
net om te mag raak aan jou sagte hand,
om my baadjie om jou skouers te hang
en jou warm te hou teen die koue se bang.

Een laaste teug van jou bloeisel geur
voor ek stadig weer huiswaarts beur,
pas jou op en gaan jou goed
tot ons weer in die na-nag ontmoet!

Kombuis
Om te kan droom
en te mag wens,
is om te kuier
in die kombuis se spens.

Rakke vol blikkies
van kruie tot stroop,
in die lug hang die geur
van môre se hoop.

Sakke vol meel
om gebak te word,
al wat ek vra
is brood op my bord.

Los maar die botter
droog sal ek sluk,
stil net die honger
na ‘n bietjie geluk.

‘n Porsie van liefde
en ‘n skeppie met lag,
dit is die droom
waarop ons almal wag.

In die kombuis
is die tafel klaar gedek,
kom sit maar aan
dit is immers jou plek.

Breek my die brood
en skink die wyn,
laat in jou spyse
die verlange verdwyn.

Ink Gedagtes
Aan die einde van
my pen se punt,
sal jy die begin
van my gedagtes vind.

Op die wit papier
waar woorde sink,
in ‘n pulp woestyn
wat dors na ink.

Van voor tot agter
in lyne geplant,
is jy geplot
in my hart se brand.

Blink is die naald
in die lig van die kers,
waarmee ek brei
aan ‘n verlange kombers.

My beker loop oor
van dit wat brou,
telkens as my woorde
jou skouers omvou.

Sonder jou wete
is jy ewig hier,
in die ink geskribbel
op my wit papier.

Stil wonder ek
hoe dit sou lees,
as my verse deel
van jou kon wees.

Is dit die geheim
wat ek nooit sal weet,
of jy wil onthou of
sommer net vergeet?

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD