Gedigte van DF Bothma

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Jissie, Ma?

Dankie vir nog ‘n ongoddelike gelowige gediggie,
ek weet dis met liefde gestuur en opreg bedoel,
maar daar is ‘n plooi op ma se seun se gesiggie,
want dit is tyd om te verklap hoe ek oor die god-twak voel.

Ek is laat glo in ‘n vreesaanjaende kosmiese vader,
maar gewaarsku teen demone wat in die donker vergader.
My delikate skoon kinder-kop droomland toe gelees,
met walglike stories van boeties wat vermoor uit vrees.

Hoekom verhale van kinders offer, massamoord, en tannies verkrag?
Hoekom my dreig met rooi duiwels wat my wil slag?
Hoekom babatjies in ewige valse skuld gevoelens doop?
Hoekom verlossing vry verkondig dan vergifnis so duur verkoop?

As ek glo menslik is soos almal, maak dit my minder
as ek weier om saam te jok oor sinterklaas en die paashaas?
Is ek blind as ek nie my hoop in onsigbare hande wil plaas?
Moet ek voetsek as ek glo blinde geloof maak net blinder?

Na emosionele paradokse oor klei poppies en klokmakers;
Na By-beLaste vertalings en geknoeide weergawes;
Na dit openbaar is as net simbolieke sprokies oor die son;
waar gaan julle woord van tydlose waarheid vandaan kom?

Ek kyk op en sien nie ‘n nuwe hemel kom nie.
Ek kyk af en ruik geen vlamme wat vir my skandes brand nie.
Ek kyk diep en voel hoe opstaan van my knieë af my hart regeer.
Ek kyk wyd en sien die smag na mag om breine en beursies te beheer.

Vêr van stap soldaatjie, koue wetenskap of militante ateïs,
vind ek my nou hier met ‘n hart vol passie en ‘n lyf vol gees.
Leer ek dat die donker en lig nie sonder mekaar kan bestaan,
lewe ek ten volle sonder fantasie, fiksie, of self waan.

So liewe moeder moenie vir my traantjies pik,
vir my versies voer, verskonings maak, of te hard bid.
Vergeet die preke van bloed drink, bose geeste en helse uitskel,
stil die skuld psalms en gesanik, los die maskers en toneel spel.

Sonder skroom of skaam wees is ek trots gode-loos,
lewe ek steeds moreel, eties, goed, getrou en vreesloos,
is ek gebore vir sag, vir voel, en vir ware klaarheid.
is ek hier vir lag, vir liefde, en tot in ewigheid vir die reine waarheid.

– D.F. Bothma

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar