Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Padkaarte
(vir Doreen Spies)
hoekom sukkel ons só
om ons ritme
seisoen in
jaar uit
te vind
hierdie skoene is te groot vir my
sal ek ooit
soos jy
ys
met my woorde
kan sny
sal my oë ook
geheimsinnig
‘n padkaart
agt-en-sewentig jaar
verbloem
ek is nie fiks genoeg nie
selfs al sou ek
ys
met my woorde
wou sny
sou ek sukkel
want ek is altyd
tien grade
kouer as jy
en selfs al sou ek
my eie padkaart
drie miljoen myl
moes skryf
sou ek dit
kaalvoet
moes doen
hierdie skoene is te groot vir my
ek is nie fiks genoeg nie

Die Strop
klokslag 3:34 staan my oë op aandag
die dag is jonk
slaap is vir die oningewydes
natuurlik het ek ‘n hoofpyn
nie van die tekort aan nikotien nie
maar die chemiese onttrekking uit jou
wat maak dit tog saak
as my borskas op drie verskillende plekke skeur
ek gaan elkgeval heeldag net hier lê
en die aaklige breuk tussen jou hand en my mond dokumenteer
dis ‘n argiewelike ding
die kru kreukels slegs leesbaar
as jy reeds verstaan
(wil verstaan, verstaan het)
dat wat ons aanmekaar gehou het
nie ‘n uitstorting van hart aan hand aan bloed en sweet was nie
maar ‘n aangebore onuitgesproke verpligting
vol verwagtinge waartoe nie een van ons in staat was nie
so lê ek nou nog hier
ses-en-twintig jaar later
en saag eentonig en aanhoudend
aan vader-dogter-dogter-vader

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.