Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Sing vir my ‘n Koos-doep song

Skep vir my ‘n emmer son
vir die donker op my pad,
blinddoek my met liefde
vir die onweer in my hart

rol my toe in jou donskombers,
stook die kaggel met dennebolle;
maak die deur dig toe
vir die storm wat buite woed

sing vir my ‘n Koos-doep song
en laat my terugverlang,
na lang dae en winteraande
met warm melk op die stoof

bring vir my reën uit die noorde
vir die droogte in my oë,
lees vir my stories –
vir die honger in my siel.

© Ernst Fernando Dos Santos

Woorde vlam in my oë

Want soos lettergrepe
– ‘n lendelam steierwerk –
uit my mond klouter:
daarheen nie terugkeer nie,

‘n uitgebrande gloeilamp
– in die sterrehemel –
met haar laaste groet
‘n flikker in my oë word,

woorde my roep – asem
wat ruik soos hout wat brand,
vokale en konsonante hande vat –
ligdraers in die nag.

Sal ek dan psalms kerf
uit dieper diep diepte,
ook groter vuur in my hande vou
die aarde met bloed afkoel:
vir oulaas voel hoe dit is –
om mens te wees.

© Ernst Fernando dos Santos

Die hemel weet

ek is nie ʼn digter nie:
om vir ʼn oomblik God te wees
– hoër állerhoogste –
ontoereikbaar vêr

mistige klowe onder my vel
wat stiltes in asem grawe
laat my toe (vir ʼn wyle)
om gronde op my tong te proe

op die dag voor die eerste dag
het God homself omskep,
ʼn potloodpunt op skoon velle papier
en dit was aand, ook weer môre

en die hemel weet
hierdie hoofstuk is geskryf
oor die lengte en die breedte –
óópgeskryf

sou my woorde terugrol in tyd
en my geheue wasig raak
– soos spore in die sneeu –
sal ek weet: dit was goed gewees

maar as dit dan moet,
maak my ʼn herfsblaar –
álles is vlietend.

© Ernst Fernando Dos Santos

Profeet

Daar is glas en vuur in jou oë
winter in jou kyk, dood in jou hande,
yster brand diép in jou are
slaan jy, spat vonke soos sterre.

En as swart swane – soos woorde –
uit jou mond ploeter:
droom ek van strome
wat na kouer bergpasse lei.

Want daar is stilte in yswinde,
in waaigras wat my vingers vleg,
in die geel roes van ou staal.

Maar bowenal is daar stilte
in vore wat skud en skommel
óórloop na die eerste lentereën.

Ontmoet my vir oulaas
in ‘n Koorsboom woud
– wég van die gedrang –
groet my vir die laaste keer —
profeet uit die ou testament.

© Ernst Fernando dos Santos

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar