Kieslys

Close


*/

22 Maart
2017
Boeke Gedigte
7530 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Evelyn van der Merwe

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Evelyn van der Merwe se bundel Dans van die vlammevers is nou beskikbaar by Amazon.com.

Drie dekade ketting

Drie dekade ketting
se kil klingel grafstil
verrotte voet geamputeer
sonder emosie, sonder gil

Eenkant op ‘n geroeste stapel
waar geen lewend’ gees beweeg
daar by die die voete van die Heer –
lê dit eensaam stil en erodeer

Bitterbessie beloftes

Bitterbessie grys beloftes
in ’n laning in ’n ry
word gepluk, gestroop
ongeorden gestapel
op vuurwa van hoop

Onnet – onbeplan
in grys sakke verseël
om aan oorversadig
emosievolle mark
wild en wakker
voetstoots uit te deel

Sou jy dan besluit
om dit spotgoedkoop
in ontvangs te neem
weet maar vir ‘n feit
jou totale menswees
word kaalgestroop

Bekoring

Ek sien en ontleed
die boodskap in jou oog
sonder enkel klank
wat oor lippe breek
voel hitte uitstraling
van jou bors en buik
lank voordat jou vingers
strelend my wange stryk
hoor die ritmiese klop
van jou hart in my oor
dis net hier waar ek tred
met die samelewing verloor

Goue genade geluide

Heimwee van verre verlange
sing weemoedslied in duet
om hoeke, op wieke van wind
fluit sag met harsteer geblaas
deur stegies, strate en gange

Vreugde- dans volmaak inpas
huppel – lag uitbundig te hard
rondomtalie kaalvoet – nat
as Liewe Jesus reëndruppels
op rooi plaaspad spattend plas

Dankbaarheid vyfgang- trippel
in reguit horisontaal sonstreep
want die aanvoel van ultraviolet
geskenk deur dierbar’ vader son
laat liggaam, gees vrolik huppel

Goue geluide van Sy genade
word wyd en syd luid weergalm
elk dier, boom, wese en plant
slaan majestueuse skilderprent
van Hoërhand stil- stom gade

Minnelied in die Berg

In ’n koel-lawend bergpoel
hoog teen die berg se hang
rangskik ek goue liefdeskrale
in lowergroen mos vasgevang
groot-oog waterskilpad
loer uit verweerde skuit
as palmtak se minnelied
ons na vêr droom verskiet

Meganies retireer deur
magies-waterval sproeireën
waar hand, hart, honger lippe
mekaar vleg-strengelvind
skoenlapper in Skepperkleure
meesterlik uniek gekwas
fladder-vlieg, flikflooi speels
met lawwe naaldekoker-kind

Visarend stagneer halfweg
deur swiep-vryval-aksie
gewaar waterval toneel
en deel in hoof attraksie
takbokke huppel-trippel
ritmiese horing-tanga
as Waterlelie mallemeule
walsend sirkelkring bring

Bergvarings buig laag
as stil- waardeer ovasie
en figure amalgameer
wyl natuur luid apploudeer
as suiwer water, volmaak
liefde en elk’ unieke dier
voor Sy skepping-oog
rondomtalie seëvier

Net ‘n wens

Ruisende gebruis,
van borrelmassa water,
wat vloeiend kronkel,
laat haar stil raak, versteen,

Hoog- bo nooi geelvink sy wyfie,
om nes weer te inspekteer,
met koppie skeef, tenger lyfie,
beduie sy hom – probeer maar weer.

Eenkant op ’n spieëlglad rots,
slaan koggelmander alles gade,
as hooggeagte- natuur se trots,
blou koppie omhoog, vol bravade.

Elkeen kort ‘n volmaakte maat,
vink, reptiel en selfs die mens,
‘n opregte, eerlike kameraad,
is dit dan nie wat almal wens?

Reën-lelie

Hartseer wieg jou kelk in die wind
wreed deur voëlsnawels verslind
deur reuse omring wat bo jou troon
verhoed kosbar’ sonstraal op jou kroon

Wagtend op die uur van tien
om dierbar’ son se strale te sien
stammetjie beur swaar na bo vol pyn
amper middeldeur, vinnig aan’t kwyn

Hierdie seisoen is gedoem vir my
aanval enorm van natuur en by
met blare geskeur, druppende gom
vaal en verlep die kleur van my blom

Kelkblare omhels stuifmeel en vrug
stammetjie knak met hoorbare sug
my tyd is verby – ek kon my nie skaar
so ondergrond wag vir volgende jaar

Kaalnaeler

Dit was ‘n wyle in die verlede gewees,
Toe kefferbrak nie sy bek kon hou
In my soete slaap het hy my kom steur
En voor ek my mooi kom kry, sit ek agterna
In Adams gewaad uit by die deur.

Eers na bykans vier bloke vêr,
Met mense wat gil en toeters wat blêr,
Kom ek tot ware skok ontnugtering.
Probeer toe bedek so al wat ek kan.
Maar dit was nie ‘n geslaagde plan

So breek ek die 200 meter rekord.
Want ek nael in helder beligte hoofstraat af,
en met weinig om my lendene gegord.
Dit was nou vir jou ‘n hengse petalje
Ek haal uitasem die huis – sonder medalje.

Bitterboet skatte

Soos stofdele tornadodraai,
aan die Skedelkus se punt,
Is dit dodelike skerpioen,
wat tussen spierwit beendere,
sy lewensmaat loop vind.

Geroeste kantel skeepswrak,
halfmas begrawe in sand,
verberg sy bitterboet skatte,
deur erosie van al die jare,
wreed aan sy wande verpand.

Kraai en aasvoël sirkel bo,
met pupille starend verbaas,
asof hul niks hiervan kan glo,
want tussen spierwit skelette –
pronk ‘n tekort aan maaier-aas.

Die een se dood

Met jou horisontaal,
glad, pienkstreeplyf,
wydsper gapende bek,
beur jy onverpoosd voort,
skubbe lank reeds vodde,
soos jy swem vir ‘n plek.

Stroom-op bly jy spartel,
met jou einde na in sig,
waar water nie meer kartel,
jy wyfie-eiers moet bevrug,
witpens nou hemelwaarts,
dis water onder die brug.

Maar op die oewer oorkant –
kreun meneer van ‘n beer,
reeds trommeldik gevreet,
smagtend na meer en meer,
want sy tyd het aangebreek,
om rustig te loop hiberneer.

Onpaar skoene

Daar was twee rye spore,
langs Bloubergstrand geëts,
en wie dit daar getrap het,
sou swaeltjies oor kon klets.

Die wolke, winde, water,
het skemer wag gehou,
maar toe het see se bruinspoegskuim,
dit seewier toegevou.

Met sonop die verrassing,
want kyk daar teen die rots,
het twee kleur onpaar skoene,
oorkruis met mekaar gebots.

Sandkorrels versteen

Die woorde was weereens,
soos woelende marmotte,
wat luid labirinties,
in grou gedagtes doolgang.

Siende blind, horende doof,
het konkawe handpalms,
oorskulp met mening bedek,
so klanke terug weerkaats.

In ‘n geestesoog wals,
dolgelukkig’ dansfigure,
onder maanlig op die strand,
wyl oseaan hul apploudeer.

Gedagtes rol rustig, ritmies,
as uurglas sandkorrels versteen,
wieg haar boot na horison,
waar sterre en vrede wink.

Skitterlig wink

In ‘n silwer rivierstroom,
tussen eggo-kranse en klowe,
het sy haar hart in mos gevou,
wyl rooivinke ritmies in riete wieg.

Daar waar spookasem wolke kolk –
staan sy kelkhand, palms na Bo,
om genade en vrede aft e smeek,
die kettings van glisters los te breek.

Haar spieëlbeeld weerkaats,
op kartels van die water,
en dis eers (wat soos eeue voel) later,
dat sy volkome berusting vind.

Wanneer gees sweef na waterval,
waarsku eggo’s vanuit die krans,
haar siel is vry soos sy sag-sink,
as Sy skitterlig haar naderwink.

Skommel-sirkel-siklus

Op koue kronkel ysterspoor,
vol roes en woes erodeer,
rol gister- waens hoeka verlore,
se wankel wiele eens weer.

By die eerste aandoen stasie,
wag daar staande ovasie,
met polka-kol rokke in rooi,
helder lipstiffie , wig-haak getooi.

So flits stasies van vêr verlede,
in oogwink onge-orden verby,
heildronke en luide lawaai,
wuif sy vol emosie koebaai.

Die skommel sirkel het siklus voltooi,
deur herinneringe van toeka se mooi,
hoekom kon sy nie maar trein verpas,
nou klou sy verbete aan more-drome vas.

Ai die Waagmoed

Daar het ‘n kleine skilpad,
waggel-waggel aangestap,
waar monsterwiele daagliks,
massiewe swart spore trap.

Hier moet hy dan binnekort oor,
sy waagmoed op die proef stel,
want vandag wil hy haar bekoor,
omdat sy miljoene punte tel.

Die swaarste toets is eerste meter,
dan wegkruip in dop, met intrek-kop,
moed hou, van hier word dinge beter,
geduldig wag tot monsterlawaai stop.

Met nuwe krag bereik hy halfpadlyn,
witstreep brand pootjies met hittepyn,
dan durf hy aan – laaste meter gevaar,
oorkant die pad – kan hy haar gewaar.

Iets bots skrams hard teen sy dop,
en vyf rolle vêrder kon hy eers stop,
met pote wat spartel in sy halfmaan rug,
staar hy hulpeloos na hemelblou lug.

Deur die gras beur sy tot binne bereik,
en draai hom vinnig terug op sy buik,
hul nekkies vryf liefderyk teenmekaar,
as hul met kraalogies na mekaar staar.

Verflenter

Met jou ou flenter-vodde hoed,
oë stokstyf starend na niks,
diep-kerf plooi vergete glisters,
slegs ‘n hand wat bedelend bewe,
hoe kan jy so mors met jou lewe?

Die steeg en karton as jou woning,
daar’s vir jou geen ander plek,
hoeveel lange, koue winters,
lê jy hier plat, vuil uitgestrek?
met kankervlekke oor jou lyf.

Niksseggend, taai-strak gesig,
word neus aan repiesmou gevee,
is dit hoe mens boedel oorgee?
Voete haas snel- stil verby,
te trots of besig om jou uit te vra,
kan ons kos of ‘n geldjie bydra?

So gaan jou lewe ongestoord voort,
jou belange, gawes, siel oorboord,
een ding sou ek graag wou weet –
was jy dalk ‘n dokter, prokureur
almiskien ‘n springbok atleet?

Die goudson hou wag

Tussen distels en dorings
het sy ligvoet getrap
want die lewe se sweepslag
het ritmies bly klap

Die silwer rivierstroom
kon geen lafenis bied
want galbitter marawater
is oor haar stilsiel gegiet

Half versuip struikel
oor bakhand spoelklippe
wat as brood moes dien
vir honger barslippe

Olyflyster se roep
eggo onhoorbaar êrens
waar sy sleepvoet skuifel
na iewers tog ook nêrens

Maar die goudson hou wag
as sy mompelend strompel
trots, fier orent probeer beur
met ’n verwronge dwanglag

Kies die regte Held

hoe word jy as held vereer
deur menige oningeligte
wat geen niks wil hoor
oor jou wraak gesweer

al hoër op die podium word jy geplaas
soos wat jou einde nader haas
is dit wat ons uit die Woord verstaan
dat moord en wraak maar sy weg mag baan

sodat ‘n enkeling
sy eie beuel mag blaas
triomfantelik as held
uit die stryd kan tree
al is gelowiges
onnodig uit sy pad gevee

hoe draai Godvresende volk
se papswak verstand
om boedel oor te gee
in ‘n eens vreedsame land

kies oplaas die regte Held
wat jou weg vir toekoms
met sekerheid kan baan
anders gaan jy duur ontgeld

Net eenmaal nog

net een maal nog
sou ek haar wou help
om yl haartjies saggies
om ‘n kruller te rol

net een maal nog
sal ek tjoepstil
op haar skoot loop sit
en saam met haar bid

net een maal nog
kan ek haar skadu volg
lief en leed met haar deel
as sy my trane wegstreel

net een maal nog
wil ek haar bitterseer
op my alleen neem
sodat sy ophou ween

maar ek berus volkome
want Hy kyk na haar
elke dag en elke nag
laat Hy haar vreugde ervaar
op aarde vir haar nie beskore
maar nou sing sy in engelkore

Koue vrees

skerp snydende swaard
van berus, berou en haat
kerf, verskeur en verweer
kloof worteldiep tot op been en murg
tot laaste snikke uit lyf ontsnap
en in sy herhaalde doodsgreep wurg

onegalige flou hartklop
wat met iedere pomp
meganies bloed vrylik laat vloei
soos nagmerrie riller rolprent
met swart gedrog in hoofrol
hoendervleis koue vrees
weer en weer laat groei

Ek wonder net

ek wonder oor noodlottige implikasies
wat dit op oorbevolkte mensdom sou hê
as hemelkanale skielik, summier gesluit word
en geen druppel reën van seën meer stort

ek wonder oor die unieke prag
in reënboog kleure wat dans in blomme
wat skielik vaal en onaantreklik vertoon
sal dit dan wees ons verdiende loon

ek wonder oor die reuk van vars mis
wat stomend in krale,velde en kampe
vroegoggend stomend warm oprys
want sonder reën word spesies uitgewis

ek wonder oor die infrastruktuur
wat reeds meerendeels moeder aarde bedek
met hemelhoë betonoerwoude en stapelwonings
kontrakteurs wat noodgedwonge staak en onttrek

ek wonder oor wat ons kan doen
om hierdie gebeurtenis te probeer verhoed
kom in knielende, eerbiedige houding neer
en gee aan Hom al die glorie en al die eer

Spierwit Lelie

daar het ’n spierwit lelie
regs langs ‘n rots gestaan
almal het dit bewonder
wat daagliks verbygaan
skielik hoor mens die donder
en weerlig teken’n pad

nou vries ieder en wonder
sal lelie die aanslag vat
bekommernis was oorboord
want plantjie staan ongestoord
en op sy spierwit blomblaar
skyn reëndruppels wat terugstaar

Moeder Oseaan

kragtige wind struktureer jou hemelwaarts
sonstrale word op jou pieke weerkaats
met skuimbolmassa tol jy om en om
tot jy kalm, rustig aan jou einde kom

waar jy skewe voortjies deur poele trek
en saggies teen sywaartse krappie bots
jou bruin spoegskuim teen rotse lek en klots
met ritmiese karteling soos ‘n skilder se hand
lê jou speeksel van seewier en skulpe op strand

jy het verskeie enorme skip met kosbaar’ skat
verorber, geknak, fyn en flenters gebreek
sonder moeite oorblyfsels in buikbodem versteek
met ‘n horison ontoereikend, wasig, misterieus
word jy deur menige bewonder, maar tog ook gevrees

Die Tuinier

reënboogkleure sprei ’n kombers
van wit, geel, pienk en pers
grasgroen grondbedekking
met spikkels hier en daar
deur natuur se eie verfkwas
sag sorgvuldig aangebring

lelies, jasmyn en katjiepiering
waai sterk geur en aroma
van soete stuifmeelstof
dartelend oor grasperk rond

rose kelk oop met prag
staan dan penorent
trots vir die son en lag
en tuinvoëls besing lente
met vrolike harmonie

tuinier skaterlag tweetand
terwyl hy snoei, spit en hark
want elke nuwe lente
aanskou hy selfgemaakte trots
van hierdie unieke speelpark

Bittere boete

spookagtig jou waarsku- roep
wat skeur deur swanger stilte
van snikhete Bosveld nag
en iewers in donkerdiep holte
beskerm moederboom
haar kosbar’ donsige vrag

knaagdiere skarrel haastig
na beskutte wegkruipplek
want hul eien die stem
van hul geveerde vyand
waar naguil grootpupil
mikroskoop skandeer

hul besef maar alte goed
dat kom reën of wind
een van hul maters
gaan in hierdie stil nag
bitter vir sy lewe boet

Jy is dit alles

my oggend, middag en aand
’n glimlag vir jou bewaar
en wanneer ons dan
herinnering liefderyk streel
saam in drome wegvaar

eensame koggelmander
wat ek versigtig gevang
getroetel en bewaar het
sodat jy kan luister
na sy hartseer verhaal

die aangemaakte sement
wat my hartmure omsluit
om krake en skeure
dig toe te messel
en indringers te stuit

die smaak van my heuningmond
as ek jou bewonderend aanstaar
en daarmee saam
die geheim van my menswees
sodat ons dit saam kan bewaar

my omgee, lief en leed
deel dit dan saam
sodat ons beide weet
en nooit ooit sal vergeet
waardeur ons vasbyt moes vreet

Afgrond

soos strome klots oor klippe
van vinnigvloeieinde rivier
en kronkelend deur klowe
in malende massa
oor waterval se rant stort
om as skuimende maalkolk
weer onder dowwer te word

dan rustig verder voortvloei
tussen geil groen oewerbank
selfgevormde weg vind
tot by die oopmond wag
van massiewe oseaan

so ook ons lewenswandel
oor rowwe rotse gedurig ploeter
wat skerp oor ons weë wag
hoë berge en pieke aanpak
tot ons eie afgrond bereik
wat soms onoorkombaar lyk

daar waar ons opnuut weer vind
ons pad is lank reeds uitgelê
hou ons, ons starende blind
want volg net die korrekte pad
wat jou gewaarborg onomwonde
na Sy wye Koninkryk sal vat

Hoeveel van hierdie

hoeveel keer in vergane jare
bakhand gedrink by bergstoom
rouvoet gestap deur barre land
en bloots op esel se rug geknyp
kosmos loop pluk in niemandsland

hoeveel druppels soutsproei geproe
langs strande met skulpe en seewier
en in halfson hand aan hand gestap
herinneringe aan daardie tye saam
met skitteroë en lenteharte
het liefde alom oral beaam

hoeveel sakke sout is saam gedeel
en agter kraalmuur op plaas
kamtig skelm soene gesteel
teen windpomp met kindervermaak
speels geklim en klouter
dan bo luister na sy kierie kraak

hoeveel ure het volmaak afgetik
wyl ons natuur en omgewing indrink
sal daar ‘n skitterson weer skyn
durf ons waag om wedloop te herhaal
of gaan die blink in dof verdwyn
gaan harde samelewing ons laat faal

Verbale windvlae

’n maanligstraal
het jou pad belig
en teen jou vel
rein soos porselein
dit terugweerkaats
in jou stram gesig

kalmte het sagkens
veerlig neergedaal
soos son en waters
mekaar ontmoet
sielswater so rein
wat krake heel en stop
het jou hartseer illusie
vinnig weggeraap

in verbale vlae
van wind weggedra
soos winterasem
wat in lug verdwyn
in snikhete hitte
van dorre woestyn

Haar brief

ek vou haar brief versigtig oop
ruik aan ou bekende geur
en wyl skeurwoorde dans
word ek hard en werklik
van menswees gestroop

sy skryf ek moenie treur
haar liefde het verdwyn
en in blou nat traneklad
wat vanuit my hartkamer spat
voel ek die intense pyn

hoe kan dit totaal en finaal
hier op purperpers papier
onomwonde net staan
dat haar liefde nou taan
weggeblaas na die maan

my ooglede sukkel
ek knip en kyk stip
kus haar dan sagkens
op haar brose wang
verlig ontsnap my sug
want amper ja amper
was ek in nare nagmerrie
vir ewig vasgevang

Ode aan Langenhoven

kom nie met jou agterkant
na iemand anders aan
hul mag dalk net
verkeerd verstaan
dat jy alkant
dieselfde vertoon

was daar geen winter
sou lieflike lente
nie aangenaam wees
met geen teenspoed
sou welvaart onwelkom wees

al is jy op regte spoor
word jy dalk omgery
indien jy net daar sit
maak nie ‘n deur
onomwonde toe
jy mag dit dalk benodig
iewers vorentoe

ouderdom laat plooie
op eens mooie gesig
maar plooie op siel
word deur gebrek
aan geesdrif aangerig

wees nie bevrees
vir donker skaduwee
want iewers naby
bring dit lig mee

hou dus jou woorde
soet en aangenaam
jy mag dalk net
in nabye toekoms
dit self moet sluk

Ek wens jou

ek wens jou
oneindige vreugde
sodat jou barre gemoed
transformeer na lente

ek wens jou
bitter smart en pyn
om klein lewensdiamante
grotesk vir jou te laat vertoon

ek wens jou
hittestrale van die son
omdat dit juis jou uitkyk
en houding manipuleer

ek wens jou
God’s bloubeker reën
vir trane van geluk
as jy reënboog gewaar

ek wens jou net genoeg
om dag vir dag te neem
met geen bekommernis
en berusting in jou hart

Dood se gloed

Flappend, klappend
spikkelvalkvlerke
lense vasgenael op –
niksvermoedende prooi
dan tjoepstil, blitsig
die snel wissel-aksie
sy vaartbelyn veerpyl
klief koud deur die lug

Vlymskerp kloue
soos kaak van draak
pen soogdier vas –
in veld met geweld
kragtige snawel
verskeur, verslind
vou dan netjies
om pap binnegoed
in twee piep-glasogies
weerspieël dood se gloed

Hanepootkroos (2)

Geelgroen, half oorryp
hang jy hoogdragtig
in hanepoot wingerd

Wag jy in stil geduld
vir snoeiskêr vroedvrou
om naelstring te knip

Soos uurglas leegloop
swel jy tot barstens, wyl –
soet vrugwater drup

Ovaal kinderkorrels spat
soos jy plons in die krat
so word jul versigtig
op die wa weggevat

Bitterbessie beloftes (2)

Bitterbessie beloftes
in lanings, in rye
word gepluk, gestroop
onordelik gestapel
op vuurwa van hoop

Onnet en onbeplan
in grys sakke verseël
om aan oorversadigde
emosievolle mark
woes, wild en wakker
voetstoots uit te deel

Sou jy dan ook besluit
om dit spotgoedkoop
in ontvangs te neem
weet dit -vir ‘n feit
jou totale menswees
word kaalgestroop

Rypskade

Soms word ons woes
deur lewenswind gebuig
met kronkelkrom stingel
draai ons gebukkend
elk rug op mekaar

Besigtig sorgvuldig
neonlentekleur,
wat gesig openbaar.
Word nie so geflous,
want diep daarbinne ̶
vreet wurm dalk klaar

Gee geel geurig’ roos
uit God se eie tuin
sny skerp dorings stomp
so sal jy dan ook vind
dit bring opregte troos

Sprei ’n donskombers
oor rypskade aangerig
spog nie met eie bloeisels
maar let sorgvuldig op ̶
na krom knakke en kneuse
in ander se stam en blom

Konkawe gedagte

Grysgroen oë gluur terug
uit ‘n stil-spieël-refleksie
sy merk bekende glinster,
hoor ‘n skaam, skugter lag

Staar na sagte, skewe strate
deur lewenspotlood geskets
wasem en verberg- vinnig –
vodde-flentersiel-venster

Gesamentlik deel hul mee
in vreugde, vrede en smart
as son skerp weerkaats,
word hul gevoel getart

Sy eien jou elke gedagte
deel jou grys-grou gewete
onthou toeka- herinnering
van drome reeds vergete

Leer my die kuns

Om myself te gee
nog ‘n bietjie meer
salf aan eina’s –
van gister te smeer

Leer die wag
voor my mond –
om te oordink,
slegs dan te praat

Leer my arms
om uit te reik
na flenterharte –
binne my bereik

Leer my om meer
as net lief te hê
aandagtig te luister –
na wat ander sê

Leer my lense
om prag te aanskou
afstootlike beelde –
ekstern te hou

Leer my oorskulp
om golwe te blok
kras, kru-woorde –
te bêre in hok

Leer my tog net
om myself te wees
sonder voorgee –
niks te mag vrees

Vredesvuur

dis donker, dis nag
êrens in die verte
‘n hiëna wat lag

dansende vlamme
wat knetterend knars
en druppende hars
wat plons in die as

‘n helder kampvuur
in oranje getooi
bo die sterrehemel
wat skitterkombers
na horison gooi

brulpadda gekwaak
vul die rietjiesvlei
word ritmies mooi
deur krieke begelei

moerkoffie aroma
vul die atmosfeer
en heuning druipsous
op vlakvarkrib
verleen aromatiese geur

hoe wonderbaarlik
om als te hoor en ruik
en hoe salig die vrede
in die Bosveld se buik

Refleksie skerwe

Deur konkaaf-refleksie
drog ’n spieëlbeeld –
aan haar welbekend
tog deur die splinters
van glas en skerwe
gruwelooslik geskend

Die eens porselein gelaat
nou rimpelend geplooi
litteken letsels wat dryf –
laat starende ewebeeld
met snikke en rukke
in eie spoor verstyf

Spasma balvuis tref
met dowwe donderslag
die gedrog in sy raam
soutdruppels rimpel
op ‘n enkel skerf glas
gillend weergalm haar naam

Solank ek kan

solank my menselense
onderwerpe onderskei
sal ek uitkyk op die lewe
aan noodsaaklike wy
raaksien wat die res
blindelings ontwyk
geslote ooglede so
strompelend aanstryk

solank my brein
normaal funksioneer
wil ek ander om my
lewenslesse leer
herinner aan hulle
wat minder besit
op my eie knieë
nederig vir hul bid

solank stembande
trillend vibreer
sal my twee lippe
suiwer taal formeer
om daarmee dalk
vertroosting te bied
of net onse Vader
se wil laat geskied

solank my hande
raakvat en rondtas
moet ek as my plig
mede-gelowiges
wat lewensbus verpas-
se bose gedagtes
die wyk laat neem
en positiewe denke
nie laat vervreem

solank spiere in bene
sterk breinseine kry
gaan ek voortstap
die verlede vermy
dalk die nouste –
swaarpad probeer
dit alles sal ek doen
tot Sy lof, wil en eer

Wens ek kon net

wens ek kon net
van nuuts af leer
kruip, praat, loop
kronkelpaaie stroop
wandel in geharkte lane
van menswees se hoop

wens ek kon net
wrede woorde uitwis
nie ooglopende betwis
wag voor die mond
in die wonder van –
Sy genade berus

wens ek kon net
vrede en liefde omvou
sonder diep grysgrou
van gisters se berou
ware drome aanhang
soos gom dit vasklou

wens ek kon net
kosmos loop pluk
met sagte pastelkleure
in ’n vreemde se land
met aroma van geluk
dit in my eie hare druk

wens ek kon net
sewentig keer sewe
oortredinge vergewe
want dis soos dit hoort
net huppellag en neurie
vir die kromskewe lewe

wens ek kon net
stil-stil – tog haas verdwyn
na Sy gloed wat skitterskyn
tussen berge en klowe
gemoed en siel verkwik
met God’s propvol kosblik

wens ek kon nie
talmend kerm en kla
my pad is reeds beplan
al wat ek dan nou vra
Here – nie my maar U wil-
maak net my vrese stil

Ek is maar kosmos

Saamgebondel in
geen spesifieke vorm
gerangskik in pastel
langs roes doringdraad
’n paar indringerbome
bied skadu-beskerming
oor ons wit, pers, pienk
sagte skakering

Ons neurie treurige wals
op die wieke van wind
halfpad deur skrapse
reëns, stof verslind
ons bly die natuur
se pragportret
deur Sy hand self
gesaai, neergeprent

Natuurpalet

As die vuurbal se strale
goud spikkels verskiet
word kosbaar’ ultraviolet
oor kloof en vlakte gegiet

Sonneblom bloos skaam
in hul heldergeel raam
wyl gesiggies en rose
sag wieg in die wind

Eenkant blêr ‘n verlore lam
in die stoomwolk van ‘n kraal
maar as die mis eers gaan lê
sal sy ma hom wel kom haal

So ontwaak die wonder
van God’s natuurpalet
want die lewens horlosie
tik-tik om dit snel te belet

Skenk my

Skenk my genade, geduld,
sonder strompel-struikel –
hierdie heel laaste myl
op lange lewenspad,
elk enkel tree vir tree,
in U genadebaan te gee.

Skenk my lewenslang-lense
wys my U lig vir my voet,
ook U lamp vir my pad,
ek wil waarneem, wandel,
waar U kompas my vat.

Skenk my langdurig’ lugweë
teue vol aroma-geur,
van U wonderskepping,
wees U my sielsgenoot,
skenk my vrede, genade,
onverdiend – want U is groot.

Vergewe my dit

Vergewe my onbedagsaamheid,
wanneer jy water vra –
ek slegs sand aandra.

Vergewe my selfsugtigheid –
deur son vir my te hou,
terwyl jy in donker rou.

Vergewe my onverdraagsaamheid –
as dorings in vlees steek,
my nuwe blare deurbreek.

Vergewe my onnoselheid –
in stede van plek te maak,
ek jou kroonblare kraak.

Vergewe my onbetrokkenheid –
as jy alleen eenkant staan,
ek blind is vir jou traan.

Vergewe my negatiwiteit –
oor blomtuin hoeka verlore,
deur toeka se geslote ore.

Vergewe my nie realiteit –
dat ek steeds knielend bid,
God sy Tuinhand hier spit.

Ek skryf vir jou …

Ek skryf vir jou met skulpe op die strand
onderstreep met die palm van hand,
‘n hoepelsirkel trek ek met sagte wier
en verlig dit helder met droë palmtakvuur.

Ek krap harte met ‘n tortelduif se veer
(in die bosveld) teen die stam van ‘n soetdoringboom;
met ‘n harde doring krap ek die pyltjie deur
en plak met boomgom ons foto onderaan.

Jou naam staan gespel in marmerwit spoelklip’
(in die spruit aan wal) met grassade perfek in ‘n vierkantraam;
tevrede staan ek terug om te betrag
‘wyl jou naam in my keel aangenaam vibreer.

Ek noteer met my wese
(in jou hart) liefdeskodes wat net ek en jy ken –
sodat jy dit binnekort, blitsig kan ontsyfer
en ‘n antwoord kom laat dat jy my tóg stellig ken.

Jy is my

Eerste doudruppel op roosblaar,
stewig’ anker in stormwind,
’n voortbeur wind-tentseil,
deur onweer en onheil.

Rots waarop ek vastrap,
as wankelvoete sou gly,
kus van my oggendson,
sy-sag toeweef kokon.

Tarentaalkolle in my skets,
met skitter- goud omraam,
voortdurend’ brulpadda-klets,
stewig in geheue afgeëts.

Onthou my net

As ek binnekort vergeet,
om bekende gelaat
duidelik te eien
strelend-helend’
omgee-aanraking,
soms as dreigement,
met afsku beskou.

As my eens atletiese,
ferm beenstruktuur,
goudbruin-seepglad,
vel, lyf en gelaat,
verander in skewe
kronkel padkaarte,
bruin oumakolletjies,
angstig aangluur.

As ek jare lange –
troetel-naampie,
nie kan herroep,
want met dekades,
het uitveër onverpoos,
gewis en leeggemaak,
byna elk denkbar’ groep.

As ek kopknikkend –
starend- nikssiende,
na saffier-blou oë staar,
sal jy my kreukelhand,
stewig in joune verberg,
my steeds beskerm,
teen vreemde gevaar?

Miljoene myl–mymering

Pikswart perdepote
skets halfsirkels in sand,
stomend’ neusgate vleuel,
in sy grynslag geen teuel.

Maanhare wind-wapper,
ruiter raak weer kind,
miljoene myl–mymering,
verberg in stofwolk was.

Figuur en fors-hings,
smeltend stil saam,
raak stippelklein ets,
teen die rooibalgloed.

Snel so ongestoord,
op duet tog voort,
as hul vry – vol vrede
oor horison verdwyn.

Ek wil maar net

Ek wil maar net reik –
na ontoereikend ster,
uitbundig, uitspattig,
rondomtalie om maan,
met walvis, haai, dolfyn,
formasie- rugslag-swem,
nie ‘n flenter omgee,
sou wêreld vergaan.

Ek wil maar net ruik-
aan Namakwaland-prag,
druipnat deur reënwoud,
skaars spesie soek,
vrede, vrywees, geluk,
maar nou is dit als –
in die stukkende,
wêreldweb gekoek.

Ek wil maar net luister –
na vader tyd se tik-tik,
dit stadig terugdraai,
sandkorrel-versteen,
maar gaan die maan,
se laaste lang straal,
hard en onwerklik,
my na aarde pluk?

Vir jou

Wat weinig ontsien,
om my sterk te maak,
op swewende vlerke,
van wuiwende wind,
aan elk’ wolk laat raak.
Jy verf my karige bestaan,
vol spektrum van kleur,
skenk dan die aromas,
in sagte jasmyngeur.

Wat saam struikel-stap,
daagliks hand aan hand,
huppelend, giggelend,
oor berg, koppie, rant
verskaf jy aan my,
oorweldigend’ hoop.
rede vir voortbestaan,
sorge kaalgestroop.

Wat emmers vol koester,
in sagte holte van arm,
met oë rustig geslote,
hou hartklop my warm,
slaggereed om lewensgevaar,
wyd buite bereik te hou,
wanneer jy beskermend,
streel-arm my toevou.

Vra my dit

Vra my nie
My verdraagsaamheid –
dis in ‘n put gedompel,
na ’n vreedsame land,
se helse verdeeldheid.

Vra my nie
my geduld en hoop –
dit het verlore geraak,
want ek is totaal kaal,
van menswees gestroop.

Vra my nie
my skatte wat blink –
krummels word gevreet,
neffens kerkmuis in spleet,
want die bo-wêreld stink.

Vra my wel
My vrede en geloof –
want my lewenstou,
is stewig geknoop,
in Sy Hand van Hoop,
niemand maar niemand,
kan my daarvan stroop.

Woorde akkoorde

Aanhoudende kusse,
liefderyk geplant
ooglede, wange,
sagkens in voorraad.

Soos tintel van lou lippe,
onverpoos voortbeweeg,
tap uurglas-spanning,
in enkel minute leeg.

Gedagtes, geraamtes,
blaas asemhaal wind,
as woorde akkoorde,
toe oortonnel vind.

Buite in bosveldnag,
skree sonbesie-kind,
elders opdryf-lelie,
het ‘n brulpadda –
ook sy maat gevind.

Verbale tornado

Verbale vuur sweepslag,
kloof-spleet hoof aorta,
tot organe stom protesteer,
ongeloof kom manipuleer –
doofstom, starend, vraend.

Eens sprankel-skoon stroom,
ligte bries en glaskasteel,
sprokiesverhaal drome,
word wreed van betekenis
deur woord-wind gestroop.

In die plek daarvan –
ruis en druis dof,
onstuimig’ pekel-see,
kegel ‘n tsunami,
tol-draai die tornado.

Langsaan loei leweloos –
sirene-wind in barre woestyn,
ineengekrimpte parapleeg,
moet kruipend, sukkelend,
dieper in grot beweeg.

Leef jou droom

Vang hierdie mal mot,
voor hy dwaas en blind,
sy fladdervlerke –
in kersvlam verslind.

Hang hoog halfmas,
oor gevaarlike krans,
tot die kloof se wind –
in jou kuif kom dans.

Jaag vir koggelmander,
streel sy growwe kop,
hoor die brulpaddakoor –
tot net duskant sonop.

Voel ronde rivierklippe,
jou voetsole masseer,
drink uit helder fontein –
naby die berg of meer.

Klouter aap-voet op,
in die hoogste boom,
staar na die horison –
en leef jou droom.

Ou doringboom

Wortel-anker in Bosveld,
pronk jou volkleurprag,
getooi in duisend blomme,
geelgoud-son in jou drag.

Jy bied die lawe-koelte,
op ’n warm snikheet-dag,
so herwin ons daagliks,
kosbaar’ lewenskrag.

Skurwe, donker bas,
wit doring-wapen,
drup jou eie hartseer gom –
oor ’n stam lank reeds krom.

Somer-soet liefde

Soos die sagte ritseling,
wind deur boomblare,
tokkel smeulend jou sjarme,
op my reeds teer hartsnare.

Soos diamant-glinstering,
doudruppel op blom,
weerkaats unieke boodskap,
in pupille vol gevoel getap.

Soos sekelmaan waghou,
oor sterrestelsel saans,
wieg ons in beswyming
‘n droomvanger-dans.

Soos ontelbare korrels,
styf-pers woestynsand,
flikker ons omgee-kers,
wat nimmer sal uitbrand.

Soos sappige lippe,
smagtend ontmoet,
is geluk vervolmaak –
in liefde se somer-soet.

Die lente sal kom

Son suig elk kosbaar’ druppel,
spoeg dit telkens elders uit,
soos nuut-vorm stroompie
wat uit skoongewaste –
verdorde harte spruit.
Soms drom donkergrys,
donder- stormwolk saam,
om yskoue winter-lem,
wat deur weefsel sny
maar lente sal verskyn
bloeisels sal dit beaam.

Vlammevers dans

Wanneer kersvlam kromtrek,
flikkerbeelde nadersluip
op riffels van klipmuur dans,
laat ek soutdruppel vreugde
vrylik rondomtalie ontsnap
word dit in stortreën uitgetap.

Hul word vloeiend verswelg
deur ru-vesel in vel papier,
wanneer hartseer van gister,
vandag se drome inhibeer,
soos ek starend na flou lig
diep in liefdes-kluis delf –

sag jou woorde repeteer.

Kelk-hand omgee

Sprinkel silwer sterre-stof
waar jy langsaam lui wieg
in die hol-buik van die maan
blaas ’n ligte liefdes-kus –
na waar ek wagtend staan.

Wanneer jy wenteldraai,
naas snikhete son,
gryp ‘n goudgeel straal
voeg agt grade kwik by –
vir my warm feëverhaal.

Skep ses sakke sand
by blou onstuimig’ see,
soek ‘n sierlike skulp.
As jy veilig terugkeer –
sal ek my oordrom gee.

Volg die geur en aroma
van seldsame orgidee
pluk dit sag versigtig,
bewaar dit teen jou hart
tot tyd en wyl jy self –

dit kelk- hand aan my kan gee.

Verlore seun

Vuil, vodde met stank,
nader jy gebukkend,
smeekbedel halfhartig
om ‘n aalmoes of twee.

Jong verlore seun,
skaars halfpad man,
huiwer jou lewe klaar,
deur doodsvirus –
wat in are opgaar

Waar is jou ma en pa,
wat jou haweloos laat
om hier te kom smeek
in die besige straat?

Is hul nog bewus van jou,
of het hul aan beweeg,
na virus se hellesteeg,
kyk hul slegs anderpad,
na waar rykdom hul vat?

So vries die uurglas

Wange veerlig, veilig
in handpalms gekelk,
praat oë woord’loos
want beide onthou –
tye van saamsmelt,
volkome behoort,
vry- ongebonde
sorge oorboord.

Wedersydse besef,
klankloos verstaan,
waaroor die unieke
weelde- oomblik gaan.
Herinnering kleurvol
in rooi, wit en goud
veilig diep opgesluit
in kis van geelhout

So vries die uurglas,
sandkorrels versteen,
vir etlike oomblik
vir ewig – net een.
Ritmiese hartklop
tik lewens voort
want deur Sy wil
is dit hoe dit hoort.

Met hartspante omvou

Menige male sonder tal
as ek jou ruimte binnetree,
jou met hartspante omvou –
is dit of ek skielik onthou,
dat daar distels en dorings lê,
wat been-diep kerf en brand
soos gloeiende kole vuur
en vir ewigheid bly duur
trippel ek katvoet verby,
begrawe dit diep in ‘n kelder,
want skitterpêrel wat ek koester
klap summier toe soos ’n oester.

Digtersink

Eens sterk vloeiend’ bloed,
van digtersink het verdamp,
verlore geraak tussen sterre –
en blomgeur’ se jasmynsoet.

Skêre van gister se onthou,
het geheuebank kortgeknip.
Woorde warrel woes en wild,
in ’n saamgekoekte web,
tydelik nou saamgevou.

Geluide bly hol afwesig.
stene van diepdenk-mure
wieg brokkel-broos –
as dit fyn verkrummel,
neerplof in misstof
klankloos op papier.

Styf-pas maat

Die geruis en bruis van
borrelmassa water
wat vloeiend kronkel,
laat haar stil raak, versteen
deur Sy Grootheid geboei.

Hoog bo nooi geelvink sy wyfie
om weer nes te inspekteer,
koppie skeef en tenger lyfie
beduie sy – probeer weer.

Eenkant op ’n spieëlglad’ rots
slaan koggelmander als gade
as hooggeagte, natuur se trots
blou kop omhoog, vol bravade.

Elkeen kort ‘n styf-pas maat
vink, reptiel, selfs die mens
‘n opreg, eerlike kameraad
is dit dan nie wat almal wens?

Deur jou oë

Ek sien deur jou oë
diepkraakplooie wat raak-praat,
hartkontoer ‘n heimwee padkaart,
bruin vlekkies wat storie vertel –
van ure in die son, dae vol hel.

Ek sien deur jou oë
skewe knopskouers moedeloos gehang,
rimpelhande wat eens sekuur kon vang,
voete wat skuifelend, versigtig trap
elke tree wat energiebron leegtap.

Ek sien deur jou oë
’n gees gevul met genade van Bo,
helder verstand wat nog bid en glo,
rooi ritmiese hart sonder enige smart –
hoof hemelwaarts wat Sy liefde weerkaats.

Uit ‘n boomlens

Stom staan jy – starend,
na grusame toneel
wat hom herhaaldelik
in jou skadu afspeel.

Seksueel aangerand,
agter jou rug – beide hand,
vasgebind met leerlyfband,
vrot stanksweet wat brand.

Hoor jou skrille gille!
eggo vergeefs verlore,
in vlak-graf word jy gelos,
as brommer-aasvoëlkos,
in hierdie verlate helbos.

My tenger takke treur,
boomgomtrane drup,
weer en weer en weer –
soos my stam stukkend skeur.

Jou ganse lewe lê nog voor,
tragies om dit nou te verloor,
ag Here hoeveel keer –
gaan dit nog hier gebeur?

Ek lief jou

Jou sekelmaan glimlag,
ondeund saffier-sterre,
wat polka om pupille,
bring goudgeel prag –
in eens droewige dag.

Jou piesangtros-hande,
se gebaretaal praat,
met lettergreep vingers
wat skets en beduie –
van ’n ou-ou verhaal.

My eerste

Jy het ligvoet getrippel
deur my hart se gange,
in sandput van smart,
het ons speels – saam –
die liefde loop tart.

Jy het onthou
wat my gunsteling liedjie is,
vals dan saam geneurie,
as ons op lappieskombers
saam op rivieroewer rus.

Jy het geluister
na die stem van oseaan,
waar sy weemoedig stom,
tog vreemd strelend –
haar heimwee lied golf.

Jy het geraak
aan doudruppel-trane,
met rugkant van hand
soos hul biggel oor wange –
ek my hart opnuut verpand.

Jy het geruik
aan die lente van liefde,
vroeë bloeisels gepluk,
dit dan versigtig, sag –
in hartkamer rangskik.

Dit wens ek

Ek wens jou
oneindige vry-vreugde
sodat jou barre gemoed –
transformeer na lente.

Ek wens jou
bitter smart en pyn,
om klein lewensdiamante –
grotesk vir jou te laat skyn.

Ek wens jou
hittestrale van die son,
omdat dit juis jou uitkyk –
jou houding – manipuleer.

Ek wens jou
Gods blou-beker reën,
vol trane van geluk –
as jy reënboog gewaar.

Ek wens jou net genoeg
om dag vir dag te neem,
met geen bekommernis –
berus in Skepper-seën.

Langenhoven-les

Kom nie met agterkant
na iemand anders aan,
hul mag dalkies net
verkeerd verstaan
dat jy alkant-selfkant
duplikaat vertoon.

Was daar geen winter,
sou die lieflike lente
nie aangenaam wees.
Met geen teenspoed
sou jy welvaart vrees.

Al is jy op korrekte spoor,
word jy dalk net omgery –
indien jy net daar vertoef.
Maak geen oop- deur
net onomwonde toe,
jy mag dit benodig
iewers ver vorentoe.

Ouderdom laat plooie
op eens mooie gesig,
maar plooie op die siel,
word deur die gebrek –
aan geesdrif aangerig.

Wees nie bevrees nie,
vir donker skaduwee,
want iewers daar naby,
bring dit helder lig mee.
Hou dus jou woorde,
soet en aangenaam,
jy mag binnekort net
straks self moet sluk.

Nagmerrie-brief

Vou-vir-vou versigtig oop,
adem in – ou bekend’ geur
wyl skeurwoorde dans –
word ek hard en werklik
van menswees gestroop.

Sy skryf – ek moenie treur,
haar liefde het verdwyn
en in blou nat trane-klad,
wat uit my hartkamer spat
voel ek die intense pyn.

Hoe kan dit totaal, finaal
hier op purperpers papier,
onomwonde net staan,
dat haar liefde nou taan –
weggeblaas na die maan.

My ooglede sukkel bewend oop
ek kyk stip en kus haar sagkens,
op haar slapend’ brose wang
sug met giggel verlig, want –
amper het nagmerrie vasgevang.

Hartseer illusie

Moeë maanligstraal
het jou pad flou belig,
teen jou fluweel vel,
rein soos porselein,
dit terug weerkaats
in jou stram gesig.

Kalmte het sagkens-
veerlig neergedaal,
soos son en waters
mekaar soengroet,
is jou hartseer illusie
eensklaps weggeraap.

In verbale vry-vlae
van wind weggedra
soos winter-asem
wat in mis verdwyn,
in snikhete stil-hitte –
van dorre woestyn

Hoeveel van hierdie

hoeveel keer in vergane jare
bakhand gedrink by bergstroom,
rou-voet gestap deur barre land,
bloots op esel se rug geknyp
kosmos loop pluk in niemandsland

hoeveel druppels soutsproei geproe
langs strande geskulp en seewier,
in half-son hand aan hand gestap,
herinneringe aan die tye saam
met somer en lenteharte
wat liefde alom weer beaam

hoeveel sakke sout saam gedeel
agter skaapkraalmuur op plaas,
kamtig skelm soene gesteel,
teen windpomp met kind-vermaak
speels geklim en geklouter
dan bo luister na sy kierie kraak

hoeveel ure het volmaak afgetik
wyl ons natuur en omgewing indrink
sal daardie skitter-son weer skyn?
durf ons waag om wedloop te herhaal?
of gaan die blink in dof verdwyn
gaan harde samelewing ons laat faal?

Jy is die

eensame koggelmander
wat ek versigtig gevang,
getroetel en bewaar het
sodat jy kan deel wees
van sy hartseer verhaal

aangemaakte sement
wat my hart-mure omsluit
om krake en skeure
dig toe te messel
so indringers te stuit

smaak van heuning-stroop
wat die soet binne my –
menswees-mure laat drup
as ek my sielsgeheime
sag daarin loop doop

Piet-my-vrou se roep
wat lawe-liefdesreën
oor my bestaan uitstort
as ek ver-verlangend
jou inwag op my stoep

Vyand se kind

Spookagtige waarsku-roep
skeur deur swanger stilte,
van snikhete Bosveld nag.
Iewers in donkerdiep holte
beskerm moederboom
haar kosbaar’ donsige vrag.

Knaagdiere haas-skarrel
na beskutte wegkruipplek
want hul eien die stem
van geveerde vyand,
waar naguil grootpupil
mikroskoop skandeer.

Hul besef maar alte goed
dat kom reën of wind,
honger vyand se kind,
gaan nie faal vanaand
een van hul maters
gaan in hierdie stil nag –
bitter vir sy lewe boet.

Die tuinier

Reënboogkleur-lappieskombers,
wit, oranje, geel, pienk, pers,
vertel elk hul sprokiesvers.
Grasgroen grondbedekking
met spikkels hier en daar,
deur natuur se eie verfkwas
pronk op elk’ groenblaar.

Lelies, jasmyn en katjiepiering
sprei geur in wind se wange.
Soet stuifmeelstof vlokkie-val
dartelend oor beddings rond.
Rose kelk oopbek in prag
staan soldaat-penorent,
salueer vader son wat lag.

Tuinvoëls sopraan die lente,
en bytjies dra hul volle vrag.
Tuinier skaterlag twee-tand
soos hy snoei, spit en hark
want elk lente-geboorte
aanskou hy self-skep trots
saam Skepper-speelpark.

Oseaan-skets

Krag-wind struktureer jou hemelwaarts,
sonstrale jou pieke skitter-weerkaats.
Met skuimbolmassa tol jy om en om
tot jy kalm, rustig aan jou einde kom.

Trek dan skewe voortjies deur poele.
Saggies is die sywaartse krappie- bots
as bruin spoegskuim klots teen rots.
Ritmies gekartel soos ‘n skilderhand
lê speeksel van seewier, skulpe op strand.

Verskeie enorme skip met kosbaar’ skat,
verorber, geknak, flenters-vodde gebreek,
oorblyfsels skelm in bodem-buik versteek.
jou horison ontoereikend, wasig, misterieus
deur menige bewonder, maar tog erg gevrees

Spierwit lelie

Daar het ’n spierwit lelie
regs langs ‘n rots gestaan,
almal het dit bewonder
wat daagliks daar verbygaan
skielik hoor mens die donder
die weerlig teken ‘n pad –

nou vries ieder en wonder –
sal lelie die aanslag hanteer?
Bekommernis was oorboord
want plantjie staan ongestoord
en op sy spierwit blomblaar –
skyn reëndruppels wat terugstaar

Wonder jy

Wonder jy oor noodlottige implikasie
wat dit op oorbevolkte mensdom sou hê,
as hemelkanale summier gesluit word
geen druppel reën van seën meer stort?

wonder jy oor die unieke prag
in reënboog kleure wat dans in blomme
wat skielik vaal, onaantreklik vertoon,
sal dit dan wees ons verdiende loon?

wonder jy oor die reuk van vars mis
wat stomend in krale, velde en kampe,
vroegdag stomend- warm oprys
sonder reën word spesies uitgewis

wonder jy oor die infrastruktuur
wat meer-en-deels moeder aarde bedek
hemelhoë beton-oerwoude, stapelwonings
kontrakteurs wat noodgedwonge staak, onttrek

wonder jy oor wat ons kan doen
om gebeurtenis te verhoed
kom knielend, eerbiedig neer
gee aan Hom al die eer –

wonder nie meer …

Vasgevang

Skerp snydende swaard
van berus, berou, haat –
kerf, verskeur en verweer,
kloof worteldiep en wurg
diep binne elk been en murg,
tot laaste snikke uit lyf ontsnap
in herhaalde doodsgreep wurg

Onegalig flou die hartklop
wat met ieder power pomp,
meganies bloed vry laat vloei.
Soos nagmerrie-riller rolprent –
swart-slang gedrog in hoofrol.
Hoendervleis-koue, kil vrees –
weer en weer en weer groei

Een maal nog

net een maal nog
sou ek van hulp wou wees
om haar yl haartjies sag
te blaas en mooi te krul

net een maal nog
wou ek stil-tjoepstil
op haar skoot loop sit
en saam met haar bid

net een maal nog
sou ek haar skadu volg
lief, leed met haar deel
as sy trane weg- streel

net een maal nog
wil ek haar bitter seer
op my alleen neem
sodat sy ophou ween

maar ek berus volkome
want Hy kyk na haar
elke dag en elke nag
laat Hy haar vreugde ervaar
op aarde vir haar nie beskore –
want sy sing nou in engel-kore

Hoe kon jy

Hoe word jy as held vereer?
deur menig’ oningeligte –
siende blind landgenote
wat doofstom niks wil hoor –
oor jou bitter wraak gesweer

Al hoër op die podium
rys jy skyn-geplaas
soos einde nader haas
is dit wat ons uit die Woord verstaan?
dat moord, wraak sy weg mag baan?

Sodat een enkeling
eie beuel mag blaas
triomfantelik as held
uit die stryd kan tree
al is opregte gelowiges
onnodig uit pad gevee

Hoe draai Godvresende volk
se pap-swak vuil-verstand?
om boedel straks oor te gee
in ‘n eens vreedsame land
kies oplaas die regte Held
anders gaan jy duur ontgeld

Oomblik vir altyd

wange snoesig, knus
tussen handpalms gevou
kommunikeer pupille
sonder klankwoorde
want albei herroep
heuning herinnering
in gedagtes so soet

wedersydse besef
en woordelose verstaan
waaroor ongelooflike
stil oomblikke gaan
hartkamers se goud
en silwer drukstukke
vul skatkis van liefde
oorlopenstoe vol

vuil en met stank
nader jy gebukkend
en smeekbedel halfhartig
om ‘n aalmoes of twee

’n jong verlore seun
skaars halfpad man
huiwer jou lewe klaar
deur doodsvirus
wat in jou are opgaar

waar is jou ma en pa
wat jou haweloos laat
om hier te kom smeek
in ‘n besige straat

is hul nog bewus van jou
of het hul ook aanbeweeg
na virus se hellesteeg
of kyk hul slegs anderpad
na waar rykom hul vat

Bewaar dit teen jou hart

sprinkel silwer sterrestof
as jy langsaam lui wieg
in die buik van die maan
en blaas ’n liefdeskus
na waar ek wagtend staan

wanneer jy wenteldraai
verby snikhete son
gryp ‘n goudgeel straal
voeg agt grade Celsius
by my warm feëverhaal

skep ses sakke sand
by die blou onstuimig’ see
en soek die mooiste skulp
want as jy veilig terugkeer
sal ek gehoor daaraan gee

volg die geur en aroma
van seldsame orgidee
pluk dit sag versigtig
en bewaar dit teen jou hart
tot tyd en wyl jy self
dit in my hande kan gevat

wanneer kersvlam kromtrek
en flikkerbeelde nadersluip
op riffels van klipmuur dans
laat ek trane van vreugde
vrylik rondomtalie ontsnap
word dit in stortreën uitgetap

hul word vloeiend verswelg
deur ru-vesel in vel papier
wanneer die hartseer van gister
vandag se drome inhibeer
soos ek starend na flou lig
diep in liefdeskluis delf
en sag jou woorde repeteer

son suig elk kosbaar’ druppel
en spoeg dit elders
waar benodig uit
soos nuutgevormde
voedsaam’ stroompie
wat uit skoongewaste
verdorde harte spruit

soms drom donkergrys
kolkend’ stormwolk saam
of snydend pynend
die yskoue winterlem
wat deur weefsel sny
maar die lente sal verskyn
en bloeisels sal beaam

soos die sagte ritseling
van wind deur boomblare
tokkel smeulend jou sjarme
aan my reeds teer hartsnare

soos diamant se glinstering
van doudruppel op blom
weerkaats unieke boodskap
in blou oë vol gevoel getap

soos die sekelmaan waghou
oor die sterrestelsel saans
so swaai ons in beswyming
as ons styf teenmekaar dans

soos ontelbare korrels
saamgepersde woestynsand
is ons intense ware liefde
wat nimmer sal uitbrand

soos twee sagte paar lippe
vurig, smagtend ontmoet
is geluk vervolmaak
in liefde se somersoet

vang hierdie mot
voor hy dwaas en blind
sy fladdervlerke
in kersvlam verslind

hang hoog halflyf
oor gevaarlike krans
tot kloof se wind
in jou kuif kom dans

jaag vir bloukopkoggelmander
en streel sy growwe kop
luister na brulpaddakoor
tot net duskant sonop

voel ronde rivierklippe
jou voetsole masseer
en drink uit helder fontein
naby die berg of meer

klouter aapvoet op
in die hoogste boom
staar na die horison
en droom jou droom

geanker in die Bosveld
pronk jou volkleurprag
en getooi in duisend blomme
die geelgoud van son in jou drag

bied jy lawende koelte
op ’n warm snikhete dag
en so herwin ons daagliks
kosbaar lewenskrag

met jou skurwe donker bas
en wit doringwapens
drup jou eie hartseer gom
oor ’n stam lank reeds krom

Tanka vir ma

soos ‘n arend
wat vlieg teen die son
bewoon jy ‘n hemelse woning
terwyl my voete alleen
die aardse hel bewandel

Jy is meer

Jy is die doudruppel- biggel
in my vreugdebestaan
die aanvang en einde
van volkome verstaan
elk suiwer silwer-noot
op hartsnaar se kitaar –
waar jou harmonie
sag tril in ‘n simfonie

Jy is die reënboogpot
vol neon-kleurgenot
wat in sagte pastel
sy eie storie vertel
die aand-stêr se flikflooi
in silwer sterrestof getooi
elk liewe uniek-insek
met God’s kleed bedek

Jy is dit alles
en tonne meer
as wat sprokiesverhaal
ooit waag om te leer
my asem, hartklop,
lense, neus en ore
sonder jou is my –
heelal totaal verlore

Sal jy dit wees

Die aanvang en slot
in my sprokiesverhaal
‘n anker teen stormwind
en my klop-hart se punt
aan sekelmaan gebind
Eerste skitter doudruppel
wat lelie se dors kom laaf
‘n komma en verposing
In my laaste verhaal
Se slotparagraaf
Sal jy dan nou wees –
die hoof-sein na brein
wanneer ek weer
my kaartjie verloor
van die lewens-trein

Dood se gloed

Flappend, klappend
spikkel – valkvlerke
lense vasgenael op –
niksvermoedende prooi
dan tjoepstil, blitsig
die snel wissel-aksie
sy vaartbelyn veerpyl
klief koud deur die lug

Vlymskerp kloue
soos kaak van draak
pen soogdier vas –
in veld met geweld
kragtige snawel
verskeur, verslind
vou dan netjies
om pap binnegoed
in twee piep-glasogies
weerspieël dood se gloed

Hanepootkroos

Geelgroen, half oorryp
hang jy hoogdragtig
in hanepoot wingerd

Wag jy in stil geduld
vir snoeiskêr vroedvrou
om naelstring te knip

Soos uurglas leegloop
swel jy tot barstens, wyl –
soet vrugwater drup

Ovaal kinderkorrels spat
soos jy plons in die krat
so word jul versigtig
op die wa weggevat

Bitterbessie beloftes

Bitterbessie beloftes
in lanings, in rye
word gepluk, gestroop
onordelik gestapel
op vuurwa van hoop

Onnet en onbeplan
in grys sakke verseël
om aan oorversadigde
emosievolle mark
woes, wild en wakker
voetstoots uit te deel

Sou jy dan ook besluit
om dit spotgoedkoop
in ontvangs te neem
weet dit – vir ‘n feit
jou totale menswees
word kaalgestroop

Rypskade

Soms word ons woes
deur lewenswind gebuig
met kronkelkrom stingel
draai ons gebukkend
elk rug op mekaar

Besigtig sorgvuldig
neon- lentekleur,
wat gesig openbaar.
Word nie so geflous,
want diep daarbinne ̶
vreet wurm dalk klaar

Gee geel geurig roos
uit God se eie tuin
sny skerp dorings stomp
so sal jy dan ook vind
dit bring opregte troos

Sprei ’n donskombers
oor rypskade aangerig
spog nie met eie bloeisels
maar let sorgvuldig op ̶
na krom knakke en kneuse
in ander se stam en blom

Konkawe gedagte

Grysgroen oë gluur terug
uit ‘n stil-spieël-refleksie
sy merk bekende glinster,
hoor ‘n skaam, skugter lag

Staar na sagte, skewe strate
deur lewenspotlood geskets
wasem en verberg- vinnig –
vodde- flentersiel- venster

Gesamentlik deel hul mee
in vreugde, vrede en smart
as son skerp weerkaats,
word hul gevoel getart

Sy eien jou elke gedagte
deel jou grys-grou gewete
onthou toeka- herinnering
van drome reeds vergete

Leer my die kuns

Om myself te gee
nog ‘n bietjie meer
salf aan eina’s –
van gister te smeer

Leer die wag
voor my mond –
om te oordink,
slegs dan te praat

Leer my arms
om uit te reik
na flenterharte –
binne my bereik

Leer my om meer
as net lief te hê
aandagtig te luister –
na wat ander sê

Leer my lense
om prag te aanskou
afstootlike beelde –
ekstern te hou

Leer my oorskulp
om golwe te blok
kras, kru-woorde –
te bêre in hok

Leer my tog net
om myself te wees
sonder voorgee –
niks te mag vrees

Vredesvuur

dis donker, dis nag
êrens in die verte
‘n hiëna wat lag

dansende vlamme
wat knetterend knars
en druppende hars
wat plons in die as

‘n helder kampvuur
in oranje getooi
bo die sterrehemel
wat skitterkombers
na horison gooi

brulpadda gekwaak
vul die rietjiesvlei
word ritmies mooi
deur krieke begelei

moerkoffie aroma
vul die atmosfeer
en heuning druipsous
op vlakvarkrib
verleen aromatiese geur

hoe wonderbaarlik
om als te hoor en ruik
en hoe salig die vrede
in die Bosveld se buik

Refleksie skerwe

Deur konkaaf-refleksie
drog ’n spieëlbeeld –
aan haar welbekend
tog deur die splinters
van glas en skerwe
gruwelooslik geskend

Die eens porselein gelaat
nou rimpelend geplooi
litteken letsels wat dryf –
laat starende ewebeeld
met snikke en rukke
in eie spoor verstyf

Spasma balvuis tref
met dowwe donderslag
die gedrog in sy raam
soutdruppels rimpel
op ‘n enkel skerf glas
gillend weergalm haar naam

Solank ek kan

solank my menselense
onderwerpe onderskei
sal ek uitkyk op die lewe
aan noodsaaklike wy
raaksien wat die res
blindelings ontwyk
geslote ooglede so
strompelend aanstryk

solank my brein
normaal funksioneer
wil ek ander om my
lewenslesse leer
herinner aan hulle
wat minder besit
op my eie knieë
nederig vir hul bid

solank stembande
trillend vibreer
sal my twee lippe
suiwer taal formeer
om daarmee dalk
vertroosting te bied
of net onse Vader
se wil laat geskied

solank my hande
raakvat en rondtas
moet ek as my plig
mede-gelowiges
wat lewensbus verpas-
se bose gedagtes
die wyk laat neem
en positiewe denke
nie laat vervreem

solank spiere in bene
sterk breinseine kry
gaan ek voortstap
die verlede vermy
dalk die nouste, –
swaarpad probeer
dit alles sal ek doen
tot Sy lof, wil en eer

Wens ek kon net

wens ek kon net
van nuuts af leer
kruip, praat, loop
kronkelpaaie stroop
wandel in geharkte lane
van menswees se hoop

wens ek kon net
wrede woorde uitwis
nie ooglopende betwis
wag voor die mond
in die wonder van –
Sy genade berus

wens ek kon net
vrede en liefde omvou
sonder diep grysgrou
van gister se berou
ware drome aanhang
soos gom dit vasklou

wens ek kon net
kosmos loop pluk
met sagte pastelkleure
in ’n vreemde se land
met aroma van geluk
dit in my eie hare druk

wens ek kon net
sewentig keer sewe
oortredinge vergewe
want dis soos dit hoort
net huppellag en neurie
vir die krom-skewe lewe

wens ek kon net
stil-stil – tog haas verdwyn
na Sy gloed wat skitterskyn
tussen berge en klowe
gemoed en siel verkwik
met God’s propvol kosblik

wens ek kon nie
talmend kerm en kla
my pad is reeds beplan
al wat ek dan nou vra
Here – nie my maar U wil-
maak net my vrese stil

Ek is maar kosmos

Saamgebondel in
geen spesifieke vorm
gerangskik in pastel
langs roes doringdraad
’n paar indringerbome
bied skadu-beskerming
oor ons wit, pers, pienk
sagte skakering

Ons neurie treurige wals
op die wieke van wind
halfpad deur skrapse
reëns, stof verslind
ons bly die natuur
se pragportret
deur Sy hand self
gesaai, neergeprent

Natuurpalet

As die vuurbal se strale
goud spikkels verskiet
word kosbare ultraviolet
oor kloof en vlakte gegiet

Sonneblom bloos skaam
in hul heldergeel raam
wyl Gesiggies en Rose
sag wieg in die wind

Eenkant blêr ‘n verlore lam
in die stoomwolk van ‘n kraal
maar as die mis eers gaan lê
sal sy Ma hom wel kom haal

So ontwaak die wonder
van God’s natuurpalet
want die lewens horlosie
tik-tik om dit snel te belet

As die blinkster val

Ek aanskou die nag
as dit in jou oë skyn
soos die laaste strale –
jou gesig fyn omlyn

Stormloop deur die jare
tussen nooit-vergeet-goud
waar ek soekend skarrel
grou, grawe en krap

vir …

Herinnering geset in silwer
stewig tussen handpalms
saamgevoeg, gedruk en pars
uit gisters se druppende hars

In ver poele van my staar
sal kaf se soutsproei stof
soos wasem- misterie verdwyn
tot daar waar die blinkster val

Ek is net ‘n mens

Ek is net ‘n mens
met ‘n billike wens
dat gisters se distels
in doringseer spore
soos mis sal verdwyn

Ek is net ‘n mens
met ‘n broos breekhart
boepens vol omgee
maar in sy kamers
lê sakke vol smart

Ek is net ‘n mens
wat stomstil starend
jou nar borrellag volg
om elk hoek en domdraai
soos jy dit tartend uitkraai

Ek is net ‘n mens
wat ‘n wiegelied sing
knielend, biddend wonder
wat die tere toekoms
se kontoerkaart sal bring

Ek is net ‘n mens
vol goue geloof en hoop
dis hoe ek sal staande bly
want die verbale sweepslae
het my menswees gestroop

‘n Nuwe begin

In gisters se distels
dorings en lane,
lê lang vergete
splinters van trane

Vandag is die dag
wat die silwerwolk wink
op ‘n horison van more
waar geluksterre blink

‘n Neon nuwe begin
kraakvars vir jou en my
want in stegies van gisters –
sluimer beide se ly

‘n Nuwe begin van glo
dat voetspore smeltend saam
op vertroue en voorspoed
die toekomsweg sal baan

Slegs ‘n druppel

As Piet-my-vrou koggel
en Visarend dit beaam
sak die Bosveld kopknikkend
in sy prentjie-mooi raam

Neffens sy makkers se grens
in ‘n bottergeel blommejas –
waak Kameeldoringboom
met sy eie stikstof wens

Koggelmander kruip na koelte
onder ‘n stowwerige rots
wag oopbek geduldig
op die reëndruppel plons

Eenkant op ‘n massiewe klip
hurk ‘n blondekop Boerekind
haar blik heen en weer, op en neer
soekend na ‘n druppel genadereën

Aandster drome

Sag sprinkel die silwer sterrestof
oor ooglede swaar en lense reeds dof
’n spookasem vlieswolk sweef verby
wyl harlekyn sag in sekelmaan afgly

Suiderkruis staan wag soos dapper soldaat
as planete wentelbaan met mekaar praat
aandster skitter effens met leepoog flou
wyl engele dans langs Melkweg streep

In rustige aardbewoner hart met zero smart
vertel die eerste sonstraal dag se verhaal
drome verwar soms reuk, smaak en gehoor
want êrens weerklink steeds ’n paddakoor

Druppende hars van vrede

As die naglewe
skertsend koor
vuurvlamme lekkend,
knetter en knars
buig stom droë
grassaad as getuie
van ’n heelhart
wat drup met hars

As die voëlsang
spiraal na Bo
visvanger skuins
swiep na benede
salueer soldaatmiere
in gelid, kordaat
’n hart boepensvol
van innige vrede

Ek het jou seer geneem

Ek het jou hartseer en bang
toe dit sonsverduistering was
aan die vuurspu sonkant gehang
nou het dit lawa-krater disintegreer
wentel as stofdeel buite die sfeer

Ek het jou stroewe, strak glimlag
toe dit stikdonker, pikswart nag was
in renmotor se kattebak styf geprop
waaghals gejaag tot in diep mynskag
rotsstorting het dit tot poeier verkrag

ek het jou seerkry siel en wese
met die Titanic na gesigseinder vervoer
dit daar met walvisstert diep ingeroer
nodeloos om die sinkery hier te noem
een ding is gewis dis vir ewig verbloem

ek het jou skrale hoop en vertroue
veilig na my eie binnekamer geneem
intens bakhand aan my Skepper gegee
Hy het dit veel meer as verdriedubbel
Sy genade het al die seer weggevee

Ek sien deur jou oë

Ek sien deur jou oë
diepkraakplooie wat raakpraat
in ‘n hartkontoer met heimwee padkaart
menige bruin vlekkies wat ‘n storie vertel
van ure in die son, dae gevul met hel

Ek sien deur jou oë
skewe knopskouers wat moedeloos hang
rimpelhande wat eens sekuur kon vang
voete wat skuifelend, versigtig trap
flou energiebron feitlik leeggetap

Ek sien deur jou oë
’n gees gevul met genade van Bo
helder verstand wat nog bid en glo
rooi ritmiese hart sonder enige smart
silwerhoof hemelwaarts wat Sy liefde weerkaats

Ek verf jou voetspore

Ek verf jou voetspore
van gister se verlange
met hare, trane, dig toe

Aan die silwer sonkant
van statige doringboom
hang ek ons prent hoog

Soos ek stap oor spoelklippe
riffel jou mooi spieëlbeeld
roep visvanger jou naam

Kaalvoet huppelend verder
tot by die reënboog se punt
hier waar ek die nuwe jy vind

Hier waar ek

Hier waar ek
Kruidjie-roer-my-nie
onder lowergroen treurwilger
se huiltakke kamoefleer
word dit grou grafstil
hier binne my

Hier waar ek
kruisbeen mediteer
op U grastapyt drapeer
woord ek nederig my gebed
raak my gees boepens vol
en my siel verkwik

Hier waar ek
vergeet-my-nie
oor spieëlglad rivier tuur
weet ek sonder twyfel
U het die genade gestuur
my hart is vol

Jy sal my vind

In die klamtam aroma
van ’n varsploeg land
waar tortelduif-koerkind
sy maat met liriek vind

In die borrelmassa seeskuim
van magtige moederoseaan
waar dolfyne dans, walvis blaas
ek my na skatte op seebodem haas

In die kleure van skoenlappervlerk
van ‘n reënwoud vêr vêr van hier
waar spinnerakke silwersterk blink
en jy vir my deur mistigheid wink

In die gange van my hartskuur
gemessel met liefdessement
soos my gelukstraan opdam na buite,
kry jy jou naam teen wasem sielsruite

Kussing-soen

As die kussing sag jou wange soen
sal jy wegdryf soos jy altyd doen
die wind sal ’n wiegelied bly sing
vir jou soetste, mooiste drome bring

Op my regtersy, gestut op elmboog
betrag ek jou brons, gladde gelaat
my oë volg keurig kontoere van jou lyf
dis jou rustige, skelm glimlag wat praat.

LIEFDE is

Liefde is ‘n verekussing
as drome smeulend hang
soekend na die liggaam
agter skaam, skugter siel
soos spookasemwolk
in spreimis vasgevang

Hoor die getrommel
van druppeldromme
as dit oor waterval,
skerp rotse rammel
dan vir ‘n breukdeel
as fynsproei bly hang

Hoor ek jou stem
ritmies en strelend
soos lang skadu’s
oor somerswolke hang
bring dit my koelte
sag, liefdevol, helend

Mag die sproeiwind
jou roesbruin blare
in nietigheid verwaai
sodat jy met deernis
in jou blou verdrinkoë
my hartstaal raakraai

Ek voel vanaand
verskriklik vêr
van hitte, van son
en lied van die see
maar jou nabyheid
verdrink ons heimwee

Liefdes sintuie

Ek voel jou
om ruwe rante van rots
as stormsterk skuimwaters
daaraan kom lek en klots

Ek ruik jou
in kosmos langs roesdoringdraad
as hul deuntjie-neurend saamwieg
weet ek dis jy wat daar praat

Ek hoor jou
in visarend-magiese koningskree
as hy vryval- tol en veerpyl duik
glo ek hy wil liefdeskode afgee

Ek sien jou
in elk Skepperskets perfek gemaak
as dit skildery- hang aan atmosfeer
bid ek vir liefde ook so volmaak

Sig-sag van verlore liefde

Vêr-vêr in ’n roesbruin woestyn
met sig-sag kinkel kartels
op wind-erosie se kruin
dryfsand- sink
twee rye dieptrap spore

’n Halfmens verberg in skaamte
met enkel-lyf ledemaat gestrem
loer met sy nek gekrom
skalks, skaam deur geel blom
na liefde se oopgraf geraamte

Eenkant op ’n sonbrand klip
staar woestyn salamander stip
terwyl hy wisselaksie pote ruil
trippelend fynsand trap
as hy oor sy verlore liefde huil

Skilderdoek van die lewe

As die vleiloerie
vir kwêvoël koel koggel
trap slinkse jakkals
in mak meerkat se gat
akkedis verloor sy stert
in skermutseling met slang
dis reënskree piet-my-vrou
wat onnatuurlik, onderstebo
aan suikerbekkie-soetbottel
kruis-oog, bedwelmd hang

Is ons lewens nie ook
holderstebolder, omgedolwe
deur strikke en strepe
van onnatuurlike lewe
of skets en skrabbel ons self
’n abstrakte, onverstaanbare prent
met kleure in kontras versteurd
op lewe se skewe skildersdoek
keer ons onomwonde dan self
’n Skepper-kleurwiel vas in ’n hoek

Skroefdraad perfek

Ons is net ’n fyndraad skroef
in die lewe se moergroef
maar as die roes windpomp
vry met wind ronddraai
sal ons vir die skewe wêreld
ge-olie, laggend waai

Gee my jou als en bietjie meer
ek sal jou harstaal blitsig leer
pluk dan die son se goue straal
ek sal vir jou aandster loop haal
soos dag na nag transformeer
sal skroef en moer saam verweer

Tere genadereën

As ons tere liefde
draaikolk in ’n wolk
vol Skepper se reënwasem
rondomtalie, tornadodraai
dit weer loodswaar neer
afwaarts met swaartekrag
in ‘n tonnel – ‘n genadeskag

Saggies vlokkie dit dan
in silwer sterre-sprinkel
oor wagtende wesens
met goudharte gevul
want so loop ons vore vol
as ons Sy genadereën voel
word ons binnekant skoongespoel

 

Evelyn van der Merwe

Evelyn van der Merwe

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




7 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Boeke, Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Boeke, Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Boeke, Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Boeke, Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Boeke, Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD