Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Alles is verby

So kyk ons ‘n laaste keer na die lag van die son.
Voor die skemer se hande die hemel vermom.
Gister se soetheid vandag se suur.
Die meesterstuk kunswerk
nou net bloed teen die muur.
So kom alles tot ‘n einde
van larwe tot mot
vlerke verbrand deur die kerslig se hand,
vermink in die arms van God.
Van gister se lag tot vandag se huil,
Lewende nagmerries vir dooie drome verruil.
Alles kom tot ‘n einde,
alles is verby.
Soos water en bloed deur ons vingers gegly.

© Gene Crow 2017

Lindie tussen waterlelies

Anderkant die riete waar naaldekokers sing.
Lê ‘n spierwit engel, met ‘n goue ring.
Potblou lippies waar larwes kringe draai.
Hulle sê haar naam was Lindie, of dalk was dit Maraai.

Haar oë het eens geskitter.
Soos sonskyn op die dam.
Nou twee glas albasters.
Soos dit die dood bekwaam.

Haar vel is nou gekreukel.
Soos ongestrykte klere.
Tussen waterlelies en babers.
Sink sy weg benede.

Gene Crow © 2016

Opsoek na spoke

Ek was opsoek na jou gesig onder rotse op die bodem van die see.
Opsoek na soetheid van jou troos wat my vrae sal antwoord gee.

Nee,
jy was nie daar nie,
ek was totaal en al alleen.

Onder duine in die wreedste woestyn
waar al wat loop en leef weg kwyn,
waar die warm sand my knieë verbrand het ek na jou geroep,
tevergeefs jou hart gesoek.

Jy was ook nie daar nie.
Nie in gees of vlees of haar nie.
Ek was steeds alleen.

Toe wolke kraak soos ‘n okkerneut,
my amper versuip in God se sweet,
het ek gesmag na jou my anker,
my verlossing, my genesing van my kanker.

Nee,
Ek het jou nie daar gewaar nie,
ek was so alleen.

Toe my voete jou weer vind,
het ek gehuil soos die koudste wind en saggies op jou graf gaan lê.

My wange nat soos rose in die dou.

Gene Crow © 2017

Die vis se drome

Diep onder golwe van die onderbewussyn,
spartel daar ‘n vis aan ‘n lyn.
Heen en weer tot sy bek oop skeur.
Blind van woede,
siek van seer.
Visserman is lankal dood,
oë weggepik deur kraaie.
Bebloede arms hang oorboord,
weggevreet deur haaie.

Onder golwe van die onderbewussyn,
ruk die vis heen en weer aan die lyn.
Vas besluit om weg te swem,
om saam te sing met die see se stem.
Wyl die maanlig skyn op die pikswart water,
vreet die vis die lyn en swem al nader.
Hy droom om te vlieg,
soos ‘n uil in die nag;
om sterre te steel en saam die maanblom te lag.

Gene Crow ©
2017

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar