Kieslys

Close


*/

13 April
2017
Gedigte
1348 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Gideon C du Toit

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Nagwag (As jy nie kyk nie)

Sluit die deure en sit die vensters op knip,
maak toe die gate waar onheil deur kan glip.
Sak die blinders en swaai die gesluit-bord;
want dis in die donker wanneer jy beroof word.
Hou oop jou oë want hy loer deur die ruite,
luister fyn of jy hom hoor in die donker daarbuite.
Maar eers wanneer dit te laat is hoor jy sy gelag,
want as jy nie kyk nie, is die duiwel die nagwag.

Stellig word ons wel-wees van onder ons neuse geraap
maar vanaand gaan ek en jy beurte maak om te slaap.
Ons sal wakker wees wanneer die donker kom,
voor hy sy slag kan slaan dan gewaar ons hom.
Paraat sal ons oor ons kortstondige lewens waak
en elke poging wend om dit nog langer te maak.
Vir jou om weg te kyk is waarvoor hy wag,
want as jou aandag dwaal, is die duiwel die nagwag.

Dalk kan ons vlug, na waar die onheil ons nie kan kry,
miskien klein rituele doen, om die noodlot te vermy.
Ons sal salf smeer, pille sluk, van slaaiblare leef,
en met albei arms naarstiglik aan die lewe bly kleef.
Veg teen stres, spanning en die lewe se smarte;
oefen, doen joga en kyk mooi na julle harte.
Maar wee die stiltes as jy dit die minste verwag,
want as jy nie kyk nie, is die duiwel die nagwag.

Lemoenboord

My voete sleep voort tussen boorde
op ’n een-spoor oespad,
en ek dwaal myself weer na die vurk
wat my aller kant na nêrens sal vat.
My swaarkry is ’n swerwer,
’n reisgenoot sonder woorde,
hy is die ryp lemoen wat van jou bome val
en vrot word in jou boorde.

My moed is die vlinder
wat deur die lemoen
bloeisels speel,
en onbewus-welwetend sy lot
in gif verseël.
Want hier tussen jou boorde
staan die rigting wysers in die sand,
gewetenloos op die paaltjies
van jou middelvingers geplant.

Die definisie van erkenning

Erkenning is nogal moeilik om te beskryf,
as niemand jou ooit daarvan gee,
maar hul verseker my dis wat die ghoeroes dryf,
so ek aanvaar hul beskrywing daarvan maar gedwee.
Die betekenis van erkenning word dan so vervat;
Dis alombekend ’n glibberige ding,
nie soos ’n koekie seep in die bad
of soos ’n vis of ’n paling,
maar meer soos ’n geitjie teen ’n klip
wat jou geniepsig aan die vinger byt,
dan stertloos deur jou vingers glip
en sommer so in jou bakhand skyt.

So om op te som wat erkenning dan nou is;
Erkenning is ’n wille perd nie bestem
vir ons geringes,
en probeer jy om hom self te tem
val jy jou maklik op jou dinges.
Kyk nou maar mooi na die ouens
wat so naarstiglik daarna vry.
Dis nou daardie mans en vrouens
wat sweerlik hul neuse uit die baas se sitvlak kry.
So noudat jy jou deeglik van die feite gewis,
maar erkenning steeds is wat jy soek,
selfs na ek jou geleer het wat dit eintlik is,
koop dan vir jou ’n CD of ’n blerrie boek,

en stuur dan ‘n bietjie erkenning na se die digter kant,
en met ’n skoon sakdoek,
vee tog die geitjie stront uit die palm van sy hand.

Herinnering van wind

Papier slagvelde lê in frommels opgebol,
en die pen in my hand is ’n dooie soldaat.
Binne my gedagtes bly dit aardig stil
maar buite dans die bome op die wind se maat.
Om die hoeke van my hout hut hoor ek die
Suidooster sing,
Suidooster sing.
Die woorde wat jy so
herhaal
herhaal
is die herinneringe, wat jy saam jou bring.
Meteens onthou ek hoe die kinders van die veld
hul stingel lyfies in die wind rond swaai,
en die klein kleurvolle son-aanbidders
weer hul koppies na hul god toe draai.
Die wind warrel weer gíster op
daar waar vergeet eens was,
en blaas dan die stof van sy ou stories,
teen die vensters van my weer-onthou vas.
Ek dog toe, “kom ek maak die ruite oop,
en hoor van nader die wind-geraas.”
Maar skaars was die venster van knip
toe die wind met mag by my hut inblaas.
Vinnig klap ek die venster toe
en vee ’n strepie stof van die papier.
Dan skryf ek die “Herinnering van Wind”
met my pen, in die middel daarvan neer.

Rooi lint en koekblikke

Daar lê ’n wegsteek woonbuurt
aan die ander kant van die baai,
waar prentjies op plakkate politiek
preek vanaf die straat se pale,
en die oorloop
van hul beloftes
stort,
in die koekblikke waar ons woon.
Dit is ‘n spens-rak vir drome,
waar die honde in die strate loop
en laaitjies kaalvoet rugby speel
in die modder van ’n oorloop drein.
Maar hier swaai
die lyke van armes
opgehang met rooi lint
aan die straat se pale.
En die laksman glimlag
vanaf die prentjies
op plakkate.

Kinders van sout

Uit die stof het God ons geskape
maar uit sout is ons gemaak,
want as grond is ons gebrekkig gebore
maar in sout is ons vervolmaak.
Ons is kinders wat met naakte hande
ons storie op rotse uit graveer.
Maar sout ets ons vergete name
in salpeter op ons voorkoppe neer.
Van Oizys se tepel is ons gespeen,
maar vind tog telkemale weer,
dat Kinders van sout
na die ronding van haar ronde borste terug moet keer.

Jan sien nooit die see nie

Jan sien nooit die see nie
want hy werk in die bar,
maak saak watter tyd jy inkom nie,
Jan is maar altyd daar.
Jan lag heeltyd,
en is vriendelik, opreg en getrou,
hy luister ’n storie altyd enduit
al is die dronkies se grappies flou.

Jan bly al in die baai vir ’n jaar of drie
want vir Joburg gejaag was hy moeg.
Maar Jan sien nooit die see nie
want hy spandeer sy lewe in ’n kroeg.
Hy sê eendag gaan hy ’n huis koop
daar reg op die strand
en met sononder in die breekwater loop
met iemand spesiaal aan sy hand.

Smôrens kom die manne wat straf drink
stuk-stuk by die dorp se watergat aan.
Maar Jan staan al vroegdag reg om te skink
en ken elke ou suiplap op sy naam.
Namiddag is wanneer die al vissermanne inkom
van ’n dag se werk op die see.
Dis ook wanneer Jan naaste aan die strand kom
as hy die sand aan hul skoene, van die vloer opvee.

Een middag het ek iets terloops gewaar.
Daar duskant die stowwerige bottels wyn,
in ’n donker hoek van die bar
was ’n prentjie van ’n bottelneus dolfyn.
En die gedagte kom toe by my op,
Jan sien net dolfyne op ’n kiekie,
want Jan skink heeldag vir dronkies dop,
Jan sien nooit die see nie.

Blou baadjie brigade

So innie styl systrate sien ek die seun
teen die bult aangehuppel kom.
Van ver sien ek sy stel spierwitte tande
soos Karoo skape teen
stowwerige bruin grond.
“Dis vyfin-twintag vi ‘n hampe Oom.
Self geplant e’ self gegroei.
Free-range groente,
hie veskil is innie smaak!”
Ek krap uit my gatsak twee note
‘n verfrommelde twintig en ‘n tien.
“Hou die kleingeld ou seun,”
en ons twee skud om te beklink.
“Awe, Ooms my eeste kliënt
en klaa’ s ek innie double figas.
Thank you and come again!”
Die klappe-te-klap van sy
vuil bruin voete verdwyn
om die hoek by die China shop,
en ek klim die steil straat uit
met ’n sak aartappels,
lemoen pampoentjies,
wortels en groenboontjies.

Dit was toe minute later,
of dalk soveel as ’n kwartier.
Ek hoor die klappe-te-klap
van vuil bruin voete
en die hardop huil
van ’n bruin seun
met tande so wit soos
Karoo skape.
Sy trane verf paadjies deur
die stof op sy bruin wange.
En aan sy arm is daar ’n
held,
van die blou baadjie brigade.
“Hou jou by jou sake meneer,
ek vat die straatsmous in. Hier
duld ons geen sulke dinge,
en die kind sal sy les nou leer.”
Ek hoor die klappe-te-klap
van bruin voete verdwyn
om die hoek by die China shop,
en die hartseer gehuil van
die seun met tande soos
Karoo skape.

Aan sy arm is ’n
held,
van die blou baadjie brigade.

Oom Fielies se trane

Vandag het ek Oom Fielies sien huil,
en sy trane was lensies.
Ek het sy trane gesien,
maar ek het nie begryp
hoe lensies smaak nie.
“Ons kry bitter swaar, ou seun”
het ek hom hoor sê.
Maar ons het rooivleis
en aartappels geëet,
toe ek Oom Fielies sien huil het.
Nou staan my blik bord
opgedis
met Oom Fielies
se trane,
en ek begryp nou,
hoe lensies smaak.

Koebaai die blou

Koebaai die Blou oseaan;
’n Groot Man lê wyd en rusteloos,
altyd rusteloos
beitel hy die aards grond,
aaneen, aaneen
en rol die arms van die Groot Man,
aaneen, aaneen
dan draai sy blou na grou,
aaneen, aaneen
sy donder stem groet my
en ek ruik na sy asem in die sproei.

Koebaai die blou berge;
’n sluimerende reus kartel die hemel rand
maar slaap roerloos,
net soos al die gisters,
strek hy op en op
en net soos al die môres,
strek hy op en op
dan met sy wit baard,
strek hy op en op
en dan met yl blou
lê hy in die verre, slapend stil.

Koebaai die blou lug;
’n liefdevolle moeder baar haar kinders
en strooi hul oor die hemele heen,
sy spog met hul wit en grys,
dan waai die wind
tot haar silwer seuns grynslag,
dan waai die wind
tot haar dogters die droë grond soen,
dan waai die wind
en haar stem dreun-roep haar kinders terug,
en bring weer die skone blou van haar gesig.

Ek groet die bruin;
‘n draak asem uit en grom diep, aaneen
en ek dog hoor die stem
van die ou man roep,
in die vuil en bruin
my oë soek die reus oor die pieke van beton,
in die vuil en bruin
en ek gooi my kop terug en roep my liefdevolle moeder,
in die vuil en bruin
maar hier is ek alleen,
want niks is wat dit is
waar die draak nimmer nie rus.

Koebaai die blou.

Wals van die lewe

Dans jou wals genadelose Lewe
en voer jou passies uit.
Jou meesterlike voetwerk vermom
die sinistere komplot van ons verganklikheid.
Menslike verganklikheid;
jy verdoesel dit tog so goed, en
in die haak dorings van jou omhelsing,
het jy dit liefdevol ingebed.
Ons geleende asem
begelei ’n simfonie,
gespeel op geleende tyd.
Dit hou die ritme van jou dans,
en wals ons
al nader
aan die laaste draai
en jou anneksasie
van dit,
wat ek dog myne was.
Tog verdra ons jou selfsug,
nie vrywillig maar gedwee,
en het ons geen ander opsie as,
om aan Lewe se verdoemende versoek
vir n wals, toe te gee.
Hoe eindeloos dankbaar is ons nie?
Hoe eindeloos beperk is jou vrygewigheid.
Die klop van ons harte
is maar ’n ritmiese oomblik
in die draai van jou heupe,
wyl elke passie van jou grasieuse wals
ons nader dans
aan daardie tree
wanneer ons asem
die finale slag in die ritme gee.
Maar weet, o Lewe dat ons nie ons vreugde vind,
in die verlossing wat die dood ons deel,
maar in elk oomblikke wyl ons dans
dat ons passievol ’n kus van jou lippe steel.

Afskeep-kind

Eenkant kniel ’n afskeep-kind,
biddend langs sy bed.
So weggestoot en onbemind
vra jy dat Jesus jou kom red.

Die agterspeen ken jou goed
en krummels is jou kos.
Somtyds as die storms woed
word jy buitekant gelos.

Niemand hoor jou huil
of steur hul aan jou klag.
Selfs sou jy lewe vir dood verruil
sal jy vergeet word in ’n dag.

Maar die koue wêreld sal nog hard kom vry,
na ’n eenkant afskeep-kind soos jy …

Karoo-land rym

Stil lê die vlaktes diep in die nag,
onder ’n skitter lig van sterre prag.
Blou-wit lê die Karoo-land se kou,
sag verlig deur die maanlig so flou.
Iewers doof daar ’n eensaam uil
die verlate klank van ’n jakkals se huil.

Oor randjies heen strek die dorre aard,
en wyd gesaai lê sy bossies baard.
Waar die kille wind deur die lyndraad sing,
en jou stofpad langs na kuddes bring.
Stadig stoot die dag se blou
oor die wit karos van na-nag dou.

Jou swye hou al vir duisend jare.
Jou rooi-sand bloed pols in jou eensaam are.
Karoo-land my hartland, o stille en alleen-land,
jy het jou tydlose prag, in my siel ingebrand …

Brandoond

Hoe lus ek nou ’n stukkie brood!
Wanneer armoede kom
word hy vergesel deur hongersnood.

Met elke nuwe eensaam dag,
skyn daar ’n bietjie hoop,
wat weer verdof met met elke nag.

Elk dag kom ek al nader
aan die brandend oond.
In my laaste sal ek roep na jou,
en vir oulaas sal
ek jou, styf in my gedagtes hou …

Spore

Ek trap met ’n gebarste voet langs die geroeste lyne.
My voetspore langs metaal spore van vergete treine.
Hierdie spore wat nou verlate lê in die mot en reën,
en draaiend oor die bulte loop na nêrens heen.

Voor lê die trein se spore begrawe onder klip en sand,
en loop die voetpad ingebed langs die krans se rand,
waar ek net soos gister en elke die dag tevore
my verbygang sal neerskryf met my modder spore.

Oor my skouer tuur ek terug, wyl ek my gewis,
dat die boemelaar se spore in die reën, myne is.

Dood van ’n dag

Jou diepste prag is in jou sterwensuur,
dan ek ruik jou somber na-dag geure.
Soos ’n verfpot in ’n skemervuur
met helder skarlaken kleure.

Jy verf die son se strale
met purper, pers en geel,
met helder piek en oranje,
wyl jou laaste asem deur my hare streel.

Op die wolke skilder jy jou boodskap; “Ek gaan sterf.”
’n Oomblik in tyd is verby,
maar jou bestaan is op ewigheidsdoek uitgeverf.

Lag en traan

Elke tog kom tot ’n end,
en selfs die hartlikste lag bedaar.
Somtyds verloor ’n rykman elke sent
en geluk beval ’n swendelaar.

Vir elke hallo is daar koebaai,
elke vrolik lied raak weer stil.
’n Reguit pad sal weldra draai
en die warmste welkom raak ook weer kil.

Saam elke bietjie liefhê
kom daar ook ’n bietjie haat.
Vir elke slag wat ons lepel lê
is daar tye wat ons nie praat.

Om elke snoesige vuur waai ’n koue wind,
onder elke helend pleister gaap nog ’n bloeiend wond.
Met die vreugde van elk nuutgebore kind,
Wag daar eendag net, nog ’n gat in die grond.

Lied van die wind

Met weemoed sing die wind
soos die droewige huil van ’n hartseer kind.

In sy lied dra hy met hom saam
gedigte van liefde lank vergaan.

Oor vlaktes en oseane heen
druis jou donder stem en bring jy reën.

Somtyds sing jy van nuwe hoop
en somtyds is jou sang in smart gedoop.

Ek hoor vanaand jou diep gedruis
as jy huil om die hoeke van my huis.

Vertel my nou wat jy my wil sê,
want jou lied hou op as jy gaan lê.

Kom verklap my jou geheim
van waar jy kom, en heen verdwyn.

En as ek saam met jou kon huil,
sou jou treurig simfonie ook my smart verskuil?

Gideon C du Toit

Gideon C du Toit

Dood van my pen (Aan die kritici)

’n Gedig is ’n woorde-skildery
en my pen ’n lewende kwas.
Maar vandag is my pen dood
toe dit deur varkpote vertrap was.

Op papier braak ’n adolessent
’n gesimuleerde LSD beswyming op.
Die stank en spatsels maak geen sin
maar die varke vreet dit gulsig op.

Verblind in die varke se vraatsug
sien hul nie skilderye van die woord,
en hul voorliefde vir braaksel vreet,
maak ons digters se penne dood.

’n Gedig is ’n woorde-skildery,
en my pen nie meer lewend nie.
Maar varke vreet in elk geval
semels en braaksel, nie skilderye nie …

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




4 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?
15 November 2005
Gedigte
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.

Onlangse kommentaar

liza
2017-10-16 14:58:48
dit is asemrowend baie dank jy jou hart met ons deel. oneindig dankbaar om hieraan deel te kan he...
Gedigte van Emsa Haasbroek | Roekeloos
2017-10-13 08:09:43
[…] Digters […]...
Ryk Hattingh oorlede | Roekeloos
2017-10-10 14:56:38
[…] (Onlangs: Ryk Hattingh lees voor uit Huilboek) […]...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.