Kieslys

Close


*/

28 April
2008
Gedigte
4955 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Hilda Smits

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

ongetiteld

pers bloed uit jou voos tru
vir ‘n drenkeling
‘n paar laaste woorde om vir oulaas te skend
gebroke gedigte soos jou hees stem.
die son val geel deur ‘n gebreekte ruit-
die hand van god of neil diamond.
strompel tog ‘n laaste maal benig
in kerkstraat af, die laat lente
reën teen jou vodde jas

die fossiel

die dag gaap oopmond soos ‘n sondag
ek sit sweterig in die internetcafe
en luister na die babbel van twee ‘slappers’
die dreuning van die aircon
en die bloed in my slape wat stadig klop en
klop soos die man van een-en-negentig
met gebroosde hande en ‘n voos vel
waardeur blou are soos garing steek
en sy kop wat ruk en ruk soos die strop
om sy nek
dementia.. die gelukkige gek

ongetiteld

byna gesneuweld staan die dwerg pen-
orent en balanseer nog steeds die maan, al
dan met stram gewrigte (of in
waan) en ons drink cider soos visse en knip
oog skalks vir mekaar en slaap arm-om-die-
lyf en ons luister na vivaldi se opera die stem wat rys
tot teen die plafon -en
breek
soos die reën- en ek klouter op jou skoot en
sluit my oë teen gister se lem-
skerp- lig soos ‘n kind met ‘n gewonde hart
gryp ek jou hande in die nag

ongetiteld

elke senuwee gespan soos ‘n
snaar wag ek vir die bloed om
in my are te bedaar en nina
simone, haar stroopsoet stem, klim
saam met die aand en die
kriewel in my vel elke haar orent
seil wriemelend
deur die pen en
jou -stil – handegebaar

ongetiteld

soveel goue dae op die blik terug
die maande vertaag in my geestesoog
die silhoeët swart teen die lig
uitgeets vir ‘n moment ons bloed
gestol en ons verstrengel in
dieselfde skets

ma

Ma jy is die aarde ek breek skoppend uit jou buik jy vang my met wingerd hande slyp my met jou tande ek word gewortel deur die kompos van jou kruik die spore om jou oe hardloop oor my palm ek soen jou rooimond waar die lewe altyd talm Ma ek wil jou hakke lawe wat breek vir ons onthalwe die bondel op jou rug soos ses kinders dra kelder vir my jou lag in ‘n koffie beker en die pante van jou rok want ek weet so min verseker en eien my op want ek sit nog in ‘n sinkbad duskant die son wagtend vir jou om ook te kom

ongetiteld

soveel gesigte in stukke. ek misluk op krukke
teugend net- vandag aan die no-name-soup,
effe af smaak van social.. services tong in die kies
selfs ‘n oop venster.. maar die dood kannieontsnapnie
want die mat muf- jare se myotis
-multiple-sklerosis ek trap in die graf van
die lewendes met my latex gloves
kanker-gangerine-en altyd hierdie tumour in my kop wat
kraak onder die lig in die nag dit kon ek gewees het

die maer man

die maer man wortel aan my voete ons stap bedags saam met die
son, word later twee lang skadus en snags demp ek vir hom
in my droom hang die maan saamgepers
soos my ewige traan in die nikswees van die nanag
Ek pluk stikdonker sonneblomme begin herfs
Jou hare val soos die jare en stof versamel
onder jou vel, verlore woorde,
die holtes van jou oe..’n sesvoet skag,
lee pen in jou hand, ‘n stamel –
drie uur staan ek op soos jy- gedemp deur die maer man gelei-
en skryf stotterend oor die dood, jou en my

ongetiteld

die agt tot middernag sit selfs snags op my bors
benig en dors
altyd onvergenoegd opsoek na kleinighede
om op te voed
ek glim lag en se ag, verskoon die gedrag
wat om nou eintlik van die stroom-op slak,
strop om die bek, te verwag?
roetine, wat ‘n roering! op die waterroete
die tyd, strompelend gestremd, tussen vier
mure gedemp soos die murmur op die punt
van my tong-
uiteindelik buite strek ek, die kat, en lek
die pels wat my omhels, en skuit geluidloos
op jou stoep

ongetiteld

verstrengeld in my are sit julle op foto’s, tussen gebare;
gelate gade en ek skryf my ballade aan die groot Genade:
die skare waar ek raar voel;
mag die lewe my, ses siele, vergewe as ek ooit vergeet
hoe jul elkeen heet …

ongetiteld

dis herfs jy sterf weereens naam en datum
in boombas gekerf-
kaal bome werf jou dun asem, die wind leeg sy longe
ek stap oor die blarekombers- aarde en roet,
tot by die voet van die tak-geraamte wat roep,
en luister na die fluister van blare soos rooi fluweel;
gekante geel son bedags!
ewig deinende bors van jou wit hemel …

jou groet Pa, die soen van herfs

die 1979 kandidaat

die politiek-man tas met stram vingers
na sy tande in ‘n glas,
vind dit helaas
en stop sy mond soos ‘n kind

die huis sonder jou

‘n huis sonder jou is groter, en sonder die maan
sleep-voet mense stap daarin, sonder kom-of-gaan;
beddens krimp en vou toe soos frommelende vuiste
die badwater verloor sy skater- ons skrop, soos muise,
geluidloos aan sagte pienk voete, en flos drie maal bedags,
die tafel is ‘n skaakbord, silwer spelers en ‘n porsie kos,
inwoners slaap soos klippe of porselein- ek droom
snags skoenloos oor die barsies wat jou hak lyn

ongetiteld

die farao in sy graf van glas grinnik sonder oë, Ramses
die tweede op sy rug elke been uitgekerf in steen die
Monument van ‘n koning toring onder die songod Ra
ons die Japanese met Kodac-kameras wat flash
tussen Reuse gaan ook eendag sterf

ongetiteld

so die beste van laasjaar is opgehang- my pers serp en
strop aan die Name. Vang my met ‘n slap riem in die
middel van die nag wanneer ons ondiere na asem snak
brak water goue visse in ‘n bak London! wat op die uwe kak

ongetiteld

die strompel val tussen nou en daardie maanlose dag
toe die son geskel het teen die hemel, blou en oopgevloed,
wit op ons gemoed,
maar waarmee sit ons oorgebelewe behalwe
Tyd en al die Sake wat dit verhewe

ongetiteld

die vier-by-vier plankvloere kraak onder ons
‘n skugter maan skeel gemaak waak oor ons
wat beiteil tussen blad en steen half versteen
tussen boud en skeen
haal jy asem

ongetiteld

jou skel kan snags gehoor word selfs oorpluise,
‘n swak metgesel, verdoof geensins die klag
‘n silhoeet teen elke muur
swart ink op ‘n nuwe blad

Die dartelende rooi kinders

Hyde Park en die voetpaadjie slinger ons
(dartelende rooi kinders)
onder ‘n skamele son huiwerend teen die horison,
takbome soos Schiele-vingers, die swane vas
gemeer as Degas-vlekke-Skemer
skeur skrams deur die dag soos ‘n wasige hand
beur ons teen die pas

die diamante

stom gedigte soos diamante geslyp om in die hand te
pas, ryp kuikens wat skril vrot en stol op jellybene.
swart ink uit die kraak van die wit pen strompel ‘n spoor
ongeskend, slegs bloed in die are soos ‘n rooi mond potent

die geel dag onverwags

jy het hierdie week getalm in die Thames onder Kew Bridge.
jou stem weergalm tussen Marks&Spencer mense soos ‘n galg.
ek staan bedags by ‘n rooi busstop jou voete op die sypad wat
strompel met afhak skoene, en klim op die 391 vir brood en melk
en toe kom jou geel dag onverwags en eensaam, die maer man
met bewende hande en jy stink na drank en nostalgie, na brood
en botter, swart kam in jou hempsak met bak hande en verbete
wagtend vir die Wederkoms en jouself om ook te kom.
sober sit ons nou op ‘n vernielde bank en ek rook ‘n sigaret op jou

ongetiteld

die vlek op die blad lek aan my vingers
soos bloed wat strek asemloos rus ek in
‘n wit vertrek,
‘n skadu wat die mure lek voordat die slaap
my oordompel sal ek nog die naaktheid bedek

trefentrap-nota

Man in die nat pad: sy oe bebloede skrewe.
veraf-sirenes die enigste lewe. en die reën
spoel die straat skoon. en sy gebreekte lede
mate orent soos ons verbete.

ongetiteld

die telefoon-‘n hol lyn staties.
ek snip jou mond oopgesper
‘n maag van lood met my ystersker

oproep

jou stem soos naels teen ‘n swartbord en
jy praat wol tussen die tande.
ek spuug vuur

ongetiteld

pers bloed uit jou voos trui vir ‘n drenkeling
‘n paar laaste woorde om vir oulaas te skend
gebroke gedigte soos jou hees stem.
die son val geel deur ‘n gebreekte ruit –
die hand van god of neil diamond.
strompel tog ‘n laaste maal benig
in kerkstraat af, die laat lentereën teen jou vodde jas

die fossiel

die dag gaap oopmond soos ‘n sondag
ek sit sweterig in die internetcafe
en luister na die babbel van twee ‘slappers’
die dreuning van die aircon
en die bloed in my slape wat stadig klop en
klop soos die man van een-en-negentig
met gebroosde hande en ‘n voos vel
waardeur blou are soos garing steek
en sy kop wat ruk en ruk soos die strop
om sy nek
dementia … die gelukkige gek

voetnota 2

in my drome, verlore man met die gebreekte rug,
hoor ek jou sug.
droë bloed in jou pen staan jy hand in die ken
hand in die hare bakhand
na soveel skraal jare peinsend jou lang gesig
vir ewig alleen in die skare

voetnota 1

te koop by Oxfam: jou stram ledemate
‘n swart kam sonder grate
‘n bont trui vol gate
die vasberade tred van jou dronk stap
vleeslose vingers tot op die been getap
die Lasarus in jou are
en die son op jou graf

ongetiteld

jou oë is troebel groen poele
ek steek ‘n vinger in twee gebreekte spoele
‘n skag sonder lig-
jy dra die nag heel op jou rug.
die dag, ‘n vlermuis, vlug voor sulke krom voete
jou gebeente lê gestroop vir die son om te verslind
jy kug swart bloed in die nag en
drome soos roet.
ek vat jou skrale hande en jy val soos sand na
ander lande. my vlees en bloed.

eerste lente

die skelm son lek jou wit vel
die dag sluk jou blou en skoppend, ‘n metgesel
groen lower sluimer in strak struike,
Van Gogh Geel groei in warm buike
selfs die wind sug sag, ‘n warm babateug
die lig is luid,
die winter hees.

sprokieskind

kom lê warm teen my rug, die nag sugtend
soos ‘n slapende kleuter
verstrengel jou klaviervingers in my gewrig
jou bors dein op
en af, ‘n donker stroom oor sy graf
en jy neurie die dodemars met nat lippe
kom sing vir my, soos van ouds, ‘n slaaplied
oor twee kinders in ‘n woud, broodkrummels
die huis van hout
werp jou lang gesig teen my bors en gee
vir my jou koue voete, jou knersende tande,
die brug na jou lande

vir Amo

jy het langvlerk engele soos spoke tussen bloekoms bespeur
‘n Alice deur die spieël, jy het glaskastele vir my en jou gebou
elke jaar het ons weer paleise in nog ‘n sandput gegrou; ek met my
gebroosde hande, en jy hart op die mou. ‘n taalgenoot is skaars
en Babel het soveel stene
maar ek en jy, die dromers, bou ronde kamers in die reën

ongetiteld

die behoefte om ‘n gedagte soos ‘n lyk neer te lê ontstaan
bloot soos masturbasie- die hand soekend na groener
velde. platgestrykte papier sag vasgepen en bloeiend soos
‘n maagd. die skrywer sug behaagd. en kom vrugloos.

ongetiteld

die aand stryk neer soos ‘n swart swael, bloeiend om
die bek, klein pitogies tot op die laaste gerek. sewe maer
jare om ‘n skerp snawel gewerp. die somer is snerpend
koud. die wind yl genoeg om ou wonde te lek.

ongetiteld

byna gesneuweld staan die dwerg pen-orent en
balanseer nog steeds die maan, al dan met stram gewrigte
(of in waan) en ons drink cider soos visse en knipoog skalks
vir mekaar en slaap arm-om-die-lyf en ons luister na vivaldi
se opera die stem wat rys tot teen die plafon en breek soos die
reen en ek klouter op jou skoot en sluit my oë teen gister se lem
skerp lig soos ‘n kind met ‘n gewonde hart gryp ek jou hande in die nag

ongetiteld

jou kantoor daardie doodstil ruimte waar
net die stof vertrek ‘n swart toga hang sprakeloos
aan ‘n toe deur die mat ‘n mummie staan deesdae
regop in die hoek lee laaie, hangtong en wagtend
in die wit son die horlosie se plat kop hou sy asem
en die straat dop die lendelam boekrak steier teen
‘n wit muur onder anonieme boeke vanuit die vuil ruit
sien ek jou straat af stap kop-af peinsend ewig
verweer deur die genadelose son

ongetiteld

jy haal deesdae ook bedags asem
hortend, vrottend na gisters, ‘n swart more
die lot van ‘n dooie christus ek skrop
my hande bloedloos skoon en hang my kop
in onskuld ek voel my pols tussen duim en voor
vinger en kom met ‘n sug
‘n hopie grond in potchefstroom ons bou ‘n steen
met jou naam daarop ek plant ‘n geel blom soos
die son, verduister deur Van Gogh se swart kraaie
en hul skemer tog. wat is die som
met die einde altyd op die horison?

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




2 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD