Gedigte van Isabella Caramella

Andersins ongedeerd

Ek wou op Oudsthoorn vir jou blomme koop
iets eksoties wat baie water nodig het
witmensblomme
iets met lang stele
St Josef lelies
blomme vir ‘n bruid
wat in jou arms sou kon lê soos ‘n baba

Om die plek te kry moes ek ‘n keer terugdraai
soekend na ten minste ‘n tuisgetimmerde kruis
optimisties hoopvol op ‘n klos kunsblomme teen ‘n houtdropper
maar dit was die son en die flenters gevallende sterre
reste van jou laaste song
wat die plek weerkaats het
waar ons jou met lippe effens oop,
stowwerig wit maar andersins ongedeerd
hamer-spyker weggedra het.

Hartebeeshuis

Koop vir my ’n hyskraan en bou daarmee ’n dam
Plant ’n treurmoerbei
Bring ’n skilpad huis toe, of as dit moet ’n krimpvark in ’n boks
Ons kan hom Thómas noem

Pak perskepitte op ons kamervloer en dek die dak met riet
Roep my as jy klaar is dat ek kan kyk hoe ook dít brand
Laat die wit duif vry.

Vleg ’n tou van doringdraad
Gesel my
Was daarna jou hande
Bou ’n kerk vir ongelowiges — vir diegene wat sondig,
maar hou my vas
Vertel my wollerige stories, katstertjies, pase-hase;
en as jy gaan,
kyk eenmaal om.

terug na afsender

snags hunker ek
dwalend deur stege
en soek kranksinnig in wit kerke
ek deurkruis die Rooiplein

meneer, het jy my brief gesien
dis vir my Lief geskryf
in potlood
propvol papsagte woorde
soos perskes op draadrakke gepak
sonsoet gedroog deur ‘n ster
(sien, jy het my mooi geleer)

het niemand dan my Lief gewaar
ek roep al lank na hom
laas herfs het ek vergeefs gesmeek en selfs ‘n duif gestuur

as ander slaap

my lyf slaap tuis maar ek hoer rond
geabba deur bebaarde bikers
deur vygies oor woestyne
gelepel in molslangtreine
blind op soek na sewe soorte koud kry en al die soorte sondes
tussen Moskou en Beijing

Riemtelegram

Moenie dat die son uitvind ons konkel
as sy saans haar kop neerlê.
Ter aanskoue van die haas van kraters
hoor ek wat jou vingers sê.

Wees versigtig wat jy fluister.
Sag nou Lief, die donker luister
en vertel aan groot rooi dwerge
wat ons doen as ander slaap.

Male sonder tal

Vertel my oor en oor
en dan wil ek dit nog een maal hoor.
Acapella lang beloftes,
fluisteringe,
vertellings in ‘n nuwetaal.
Onbekend, onbeskryf, opgeneem in geen dik blou boek of Bybel.
Klanke soos my gladde klippe.
Vertel my weer en weer
van die berggans se verlore veer.

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Caramella: ek het jou verse gelees en jy gooi ‘n net oor my gedagtes, ruk beelde van ver plekke, klippe wat praat in die karoo, en nuanses van emosies wat daelank kan hou…dankie vir die leidraad…

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar