Kieslys

Close


*/

20 Desember
2011
Gedigte
12212 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Laurette Nel

Sonder jou
Sonder jou in my oggende
lê ek gelaken en alleen
my koffie bitter en koud
Ek dink aan jou hande,
glimlag en begin my dag
Ek ry deur die verkeer
luister na elke woord
van elke liedjie op die radio
Elke song net vir ons gesing
Elke woord net op ons gemik

Vampier
Sy rol, ruk, sweet en gryp na haar keel
Die vampier het hul saamwees met ‘n soen verseël
Stompel vorentoe na waar sy eens ‘n lag kon hoor
Hy pluk haar terug met woorde wat haar deurboor

Na sy hande, lippe, sy aanraking het sy gehunker
Teen die muur het hy haar met woorde vasgeanker
Stukkies, bietjies, besig om haar siel te verkanker
Sy glo dom-onnosel hy is die een soveel sterker

Die palm van sy hand is koud en klam teen haar wang
Sy woord en tong – kil sis soos dié van ‘n slang
Besig om haar met vrees, haat en pyn te omspan
Nagte sal hy jaloers oor haar waak as laksman

Sy byt, krap, beur, stoei teen die snydende kettings
Staal haarself teen sy skel en woord vergiftiging
Net sy alleen verantwoordelik vir haar reiniging
en die losbreek van haar man-vampier se vervloeking.

Jakkarandaboom
Voor ons rooidak grootword huis
Het my ma soms geweet alles is nie pluis
Onder ‘n skurwe bas pers-blommetjie jakkarandaboom
Daar het ons meestal baklei, gespeel en gedroom
En as dit groot ronde druppels reën,
– soms was ons wel tog so geseën –
speel ons kaal bolyf in die kniediep bruin modderstroom
Kindwees, stout wees, mal wees in ons bloedstroom
Ons was vertroud met die kuns om paddas te vang,
Ons het geweet kleinsus is daarvoor vreeslik bang
Wanneer sy bloedstollend skree, het ons begin sweet
Ongetwyfeld was Ma oppad, sy het van alles geweet.

As
As ek so gelukkig was – dat jy myne was
Sou ek elke oggend ‘n briefie pak in jou tas
Om vir jou te sê dat ons so mooi bymekaar pas
Ek sou indraf en jou by die kantoor verras
Al was dit vir jou hoe onvanpas
En voel jy ek is ‘n las
Ek sou jou bel om jou oor die foon te hoor lag
Want tot later sal ek nie kon wag
Vir die glimlag op jou lippe so sag

Oordeel
Is dit net ek alleen wat wonder oor môre,
gisteraand en al my ma en ouma se sorge?
Wat doen ek verkeerd deur die loop van elke dag
en vra ek “Here, vergewe my en help my hart versag”

Die oranjemooi in die oggend son laat my onderlip bewe
En weet ek kan nie anders as om ander hul lelik te vergewe
My naam oor hul tonge rol en hul kry hul korte genot
En vra ek “Here, U alleen kan oordeel, my God”

Sy pas my kar op
Sy het ‘n blink tandvleis lag
Die kyk in haar bruin oë is sag
Vuil-nael hande, skurf en gebars
Palm na bo vir ‘n paar dollars

Daar wag sy deur son, wind en reën
“kyk, tog ja,” sê ek onwillig met ‘n kreun
En doen swaar afstand van ‘n munt of twee
Blink tandvleis lag – “mag die Here jou seën”

My ma
‘n Beter ma as myne sal jy nooit nie kry
Van die spook in die storie het sy ons bevry
Na elke byeenkoms en funksie het sy ons karwei
Vir ‘n harde grootmense lewe het sy ons gebrei

Saam in reën, modder en plasse het sy gespeel
Liefde vir die mooi van natuur het sy in ons geteel
Wees lief vir jouself en ander was haar goue reël
En alle seer kon sy met ‘n soen en spoeg weer heel

Vandag is ek ‘n moeder van vele myself
En laat dit my dieper en dieper in my siel in delf
Waardeer ek my ma opnuut vir liefde en geluk
Sonder haar sou ek as moeder waarlik misluk

Saam
Saam met jou wil ek die son sien sak
Ek wil die lig van die vuur sien dans in jou oë.
Teen jou bors wil ek op kyk na die sterre
en met heimwee oor gister praat en met
geesdrif droom oor die dag van môre.
Die wind moet ons woorde oor ons
nuutgevonde emosies deur die bome dra
waar dit vasbrand in die holte van my hart
sodat ons eendag kan terug kom en alles
weer kan herhaal.
Vertel my van jou dag en al die gisters voor my
terwyl ons voetjie-voetjie speel.
Met die geknetter van die vuur as enigste musiek
wil ek jou soen, deur jou hare streel en sug van geluk.
Die enigste getuie – die man in die maan.

Saggies
Saggies …
saggies …
val ek
saggies …
Saggies …
in die warm holte van slaap se arm
vir die eerste keer voel ek nie bang
om die droomwêreld in te gaan
Weet dat ek jou daar gaan kry
Wakker of slaap is dieselfde vir my
Vandat jy my vashou en met liefde
bevry van elke gister, vrot en sweer.

Lus en verlange
Met lus en verlange wat in my brand
Wag ek vir jou in my land.
Die reuk van reën en grond
Laat dink my aan jou mond
Vars en opwindend
en laat my dronk en slingerend.
Ek wil jou hier by my hou
en elke deeltjie van jou beskou
Bietjie vir bietjie wil ek jou geniet
Bang jy is ‘n ster wat verskiet.
Sonder om jou te nooi
Moet jy jou arms om my gooi
En teen mekaar naak
Het jy my joune maak.
Jy laat my na my asem hyg
-daaroor hoef ons nie meer te swyg.
In mekaar en nat gesweet
Net vir my en jou om te weet.

Ons trek
Dit voel so verskriklik alleen en koud
Hier in ons eens gelukkige sprokieswoud
Vensters staar kaal en sielloos na buite
Alles wat saak maak – weggevoer in skuite

Dobber, dobber om weer vas te meer
Elke dag so ry om die nuwe pad te leer
Stukkende speelgoed en herinneringe agtergelaat
Saamgevat na ons nuwe woning wat ons sal baat

‘n Vriendin se seer
Hy staan daar en hou haar hand vas
Maar swaar hang haar grootse las
Sy glimlag vir die wêreld met ‘n traan
want hy het haar menswees verslaan

Skande bevlek is haar mooiste droom
Haar hart verstrap hy sonder om te skroom
Na sy stories moet sy luister en dit glo
Met stress en pyn hang haar skouers geboë

Mooi van vlees en gees, en sag van spraak
Het hy galbitter oor haar vrouwees gebraak
Sy blink glimlag soos doringdraad in haar vlees
Kyk sy na haar onsekere toekoms met vrees

Wil sy in die donkernag moedeloos gil en skree
Maar weet môre moet sy voort – tree vir tree
Met of sonder hom is nou die groot vraag
en sal die bitter en die pyn eendag vervaag?

My blom vriendin
Jy is my blom vriendin
ons almal se heldin
Jou kan ek as vriendin bekroon
Vir my is jy absoluut beeldskoon
Jou hart se binneplein
Is gemaak van die fynste porselein
Een aand is jy die maangodin
Môre in jou woede die krygsgodin

Soms
Net soms wil ek vergeet van grense, perke
– dinge wat kan verkeerd loop.
Net soms wil ek jou langs my voel
wanneer ek wakker word.
Net soms wil ek jou enige tyd bel
net omdat ek na jou verlang.
Net soms wil ek met jou ‘n geheim deel
omdat ek jou vertrou.
Net soms wil ek teen jou bors huil
omdat ek weet jy verstaan.
Net soms wil ek koud stort
omdat dit is hoe jy dit doen.
Net soms wil ek niks sê nie
omdat ek net vir jou wil kyk en aan jou wil raak.
Net soms wil ek jou terg
om jou te hoor lag.
Net soms wil my hart vinnger klop
oor daardie sms.
Net soms wil ek bloos
omdat jy weereens deur my sien.
Net soms wil ek skeef vir jou glimlag
omdat net jy weet hoe.
Net soms wil ek vir jou belangrik wees
omdat dit is hoe jy werklik voel.
Net soms wil ek vir jou sê hoe ek voel
sonder om te worry wat jy gaan dink.
Net soms wil ek jou soen en soen en soen
omdat ek nie genoeg van jou kan kry nie.
Net soms wil ek jou warm binne my voel
omdat ons so goed pas.
Net soms wil ek deel wees van jou lewe
omdat dit so reg voel.
Net soms wil ek ook weet
wat is groete en …
Net soms moet jy weet ek wag vir jou
omdat ek wil en alles die moeite werd is.
Net soms moet jy weet ek is ook net
mens, vrou en vriendin met al my foute.
Net soms moet jy weet ek dink die wêreld van
jou en moet nog jou gelyke vind.
Net soms moet jy weet in my oë
is daar nie mooier as jy.
Net soms moet jy weet my hart wip, spring
borrel en bruis as ek aan jou dink.
Net soms moet jy weet dat ek jou met alle
“limits” net so aanvaar.
Maar ek weet hierdie soms is net soms,
al droom ek soms oor soms dat ek joune
is soms.

Die mal in my kop
Hoor jy ook soms die mal hier in my kop
Veral na ‘n hele nag se party en dop
Voel ek daardie tyd mooi en vreeslik geleerd
middernag oproep om te bieg ek was verkeerd

Die wakker word is voel-voel en bang
Met die skril klank van ‘n voël se sang
Kop en kussing is een soos braak in my keel
Nog ‘n dop of drie kan my nou min skeel

Vergete oomblikke en ‘n dag daarmee heen
Voel elke druppel in die stort soos stormreën
Spoel die aardse vuil soos modder van my af
En wonder ek watse lelik dra ek saam na my graf

My verjaarsdag
Beteken vandag net nog ‘n plooi
of nog ‘n jaar van lewensmooi
alle seer en lelik wat vergete raak
net liefde en vriende wat saak maak

Vandag ‘n geskenk om in te baai
in die eerste sonnestraal toegedraai
rooi, geel, oranje – ‘n kleurvolle verhaal
van my lewe se menspotensiaal

Dankie vir nog ‘n ryke lewensjaar
vir geliefdes en onbekendes gespaar
is dit tyd om al die verkeerd bymekaar te tel
of om ander van al hul mooi te vertel

Gekke en Dwase
Almal van ons – gekke en dwase
Ons werk ons rou en vol blase
Ons kinders se siele is aan die vergaan
terwyl ons dink ons verstaan

Ons wil hul leer van liefde en omgee
met ‘n “ek is besig” word hul eenkant gevee
hartjies vol hartseer en lyfies wat soek
gaan speel hul stil-stil om die hoek

Mensies gebad en reg vir slaaptyd
Ek skeep hul af, dink jy met spyt
Môre gaan ek meer tyd spandeer
En hul die waarde van moederliefde leer

Slaap
Dis twaalfuur en dit bly my ontwyk
want as dit is hoe vreesaanjaend drome lyk.
Wie will dan heel nag slaap?
Dan dagdroom ek eerder van my en my liefie in die Kaap
Maar nie vir lank!
Die slaap het my gevang
Ek kreun en steun en sweet
en word wakker met ‘n kreet.
Die grynsende gesig verdwyn
En Goddank, dit is die son wat skyn.

Skuil
Ek wil by jou skuil
My gedagtes met jou ruil
Ek begin jou meer en meer waardeer
Jy maak my gelukkig nog meer
Ek het na jou gesoek
Om elke draai en hoek
Hou my vas druk my vas
Want dit is daar waar ek pas

Woestyn
Ek struikel en val, lê, kruip,
kniel, maar staan weer op.
My voete sleep in die sand.
Woestyn vlaktes maak my bang –
vrees vir môre – en gister wat ek
nie meer kan vervang.
My hele lewe is soos die wit-geel
Namib woestyn. Vergete spore van
wat onherroeplik verby is!
En dan die dorre toekoms wat uitgestrek lê
voor my. Sonder drome, sonder lus vir
waar die storms my heen gaan waai – mens-tolbossie.
Met oë styf-styf toegeknyp teen die aanslag
van die sand – ryk ek uit na ‘n ewige band.
Ek gryp en lê met my gesig in die die warm sand.
Dit bly my ontwyk – die helpende hand.
Die hand wurg my hart en bloed drup rooi
in my woestyn van menswees.
My lewens verhaal geskryf in rooi wat wegsyfer
soos ek begin vergeet en weer begin vertrou om
weer te struikel en val, lê, kruip en kniel –
smekend – moenie weer.

Trots op jou
Daar waar dag en nag mekaar groet
Het ek en jy mekaar ontmoet
Met jou hand in die holte van my rug
Het jy al my wonders en angs oorbrug

Die skitterwit van jou altyd glimlag
Is die vrede van my elke dag
Die donker in jou somse frons
Is die oorlog wat binne by gons

Die vasberadenheid in jou daaglikse tree
Laat my toe om myself aan jou te gee
Van die dak wil ek gil ek is trots op jou
My veilige hawe in jou arms se vou

Dronkverdriet
Ek voel altyd so gemaklik by jou …
Jy kan my maar vir ewig hou in ‘n kou
Die gemak waarmee die son se strale skyn
En dan die besef – ons gaan eindig in helse pyn

Jy’s my drinkmaat, dansmaat, geselsmaat
Met jou kan ek oor enige iets altyd praat
As ek verdwaal, is jy daar om my hand te vat
En gee my ‘n gevoel – nie bekend in my woordeskat

Soms word ek wakker, my lakens deursweet
net om te besef dit was my smoorkreet
Die heeldag gevoel is een van lewensat
Ek wou net hê jy moes my saam met jou vat

Jy is daar om te luister na klagtes oor my huwelikstaat
Die wipplank denke en gevoelens van my gelukstaat
En oor die ewige beroerde stand van my bankstaat
Het jy altyd net die beste raad

Jy het my met een groet en soen platgeskiet
Ek het by jou bly smeek en smeek, maar verniet
Jy het my gelos met net hierdie een geelmagriet
En ek sit vandag heel alleen met my dronkverdriet

Ysterperd
Hy sit breedgeskouerd op ‘n swart-grys ysterperd
Met sy afklim, staar jy betowerd
Gehelmet en gebaadjie – ‘n man geankerd
in sy eie lewe – respek en werd

Oë wat glimlag sonder om weg te wyk
Sy warm kyk en gesels sal jou lewe verryk
Omgee-stem, sag en warm – laat jou lewensryk
Vriende – baie het hy om mee trots te pryk

Blind is hulle wat hom vrees en beswadder
Te eng en vol eie onsekerheid om hom te benader
Hy is ook net ‘n man en vir sy kinders ‘n vader
Vir vriende en familie is hy hul berader

Met prag en krag spoed hy voort
Wetend dat dit is hoe sy lewe hoort
Om weg te jaag van sy liefdesdood
Baklei teen die ewige sielsmoord

Maar hierdie tyd is net tussengeleë
Op sy lewe se kronkel en dwars snelweë
Hy sal haar ontmoet eendag – sy eweknieë
En sy liefde verklaar op die pad, verafgeleë

My Kinders
Een se ogies groen die ander een sin blou
Maar albei myne om ewe veel van te hou
‘n Sussie en ‘n boetie met baie jare tussenin
Elkeen sy eie maniertjies om te bemin

Sy amper ‘n tiener en temperament vurig
Hy ‘n kleuter vol blou en skrape gedurig
My eerste baba mooier as wat ek kon droom
Hy glimlag haasbek vir almal sonder skroom

Aan my toevertrou deur God se genade
Bondels liefde, sagte lyfies en trane
Om te koester, vertroos en saam te lag
En dankbaar te sê “Dankie my God” elke dag

Net van jou
Wens ek kan jou in my arms hou
Jou vertel dat ek van jou hou
– net van jou
Jy bou my op met elke woord
dis jy wat langs my hoort
– enig in jou soort.
Met hande wat saggies streel
Maak jy my seer weer heel
– niemand kan dit steel
Jou stem laat tuimel my hart
met soveel verlange wat brand
– spoel-klippies van die lewe op die strand
Ek wat met my hele wese na jou smag
Veral in die stille donker nag
– maar vir jou sal ek wag
Ek lê nou hier alleen en koud
Maar weet ons tye saam is goud
– al dink ander dit is ‘n fout
Ek staan op in die oggend verlee
Oor die droom van ons twee
– van nuwe bande wat ons smee
Op ‘n tyd wou ek stil-stil verdwyn
Na ‘n plekkie sonder haat en pyn
– maar jy het die son weer laat skyn
Met jou hande wat oor my gly
Stil jy donker emosies in my
– en so wil ek hê dit moet bly

Ek dank U
Ek dank U nou vir nog ‘n wonderlike dag
Waar ek saam met vriende oor dinge kon lag
Omring deur vriendskap, liefde en omgee
Hulle wat my aanmoedig in elke tree

Ek vra U uit genade, maak my sterk van gees
Hou ook – as dit U wil is – my gesond van vlees
Laat ek ander benader met liefde en ‘n sagte hart
Maak my ore oop vir hul woorde van smart

Ek vra asseblief oor my vriende en familie U seën
Sonder U is ons lewens sonder rigting en alleen
Dankie vir al die mooi en liefde in my eie lewe
En vra dat U my al my verkeerd en mislukkings sal vergewe

Amen

Martin-Ryan
Met jou seunslyfie klein en sag
Ogies blou soos die mooiste hemelsdag
Jou wonder gawe om my te laat skaterlag
Opnuut wys jy my die môreprag

Kettieskiet maak my modderkind opgewonde
Goggos dood maak is vir jou ‘n groot sonde
Fietsry en visvang vir jou ‘n nuwe avontuur
Heeltemal te wys vir jou kleine portuur

Met armpies styf-styf om my nek
Plant jy sopnat soene op Mamma se bek
My nar hou hom soms stapelgek
Daarom dat ek so oor jou vrek

Natalya
Ek het een oggend anders wakker geword
Min wetend dat ek besig is om uit te rond
Ek het geskrik toe ek op hou bloei
en besef dat ‘n kleine mensie in my groei
Met bly en bang het ek myself so gevang
Ek was reg vir jou koms teen sonsopgang

Ek skrik en besef jy is amper ‘n tienerkind
Jou grootword is deur besig-wees verblind
Ek verlang na ‘n kleine vashou-lyfie
Want deesdae baklei ons soos tierwyfies
Maar nags bid ek sag en onthou jou lag
Steeds is ek in die groen van jou oë se mag

Gebed vir ons kinders
Ek vra U vandag om ons kinders te bewaar
Teen elke dag se monsters, donker en gevaar
Jesus, hou hul hartjies en handjies styf vas
Maak hul lag, en elke dag se takies nie ‘n las

Dra hulle deur elke dag se alleen en siekte
Maak hul bewus van U Vaderlike liefde
Ongeag of hul val, struikel of sukses behaal
Hul weet U Koningkryk is die eindpaal

Maak hul ogies oop om regte besluite te neem
Leer hul om hul nie van die goeie te vervreem
Laat hul hartjies die wonder van vriendskap beleef
Gee hul die moed en krag om U Naam uit te leef.

Geheime plekkie
Ons het ons eie geheime plekkie ontdek
Waar ons gaan om ons drome te deel
Daar waar jy soms my wonde moet lek
Ons plekkie om te giggel en speel
Waar ek nie bang is om alles te gee
Waar ons saam ons God kan aanbid
Waar jy ‘n traan van my wang vee
Waar ons uitsien na môre in die wind
Jy voor met ‘n kort-kort terug kyk
Om seker te maak ek is nog daar
Waar jy trots op jou motorfiets pryk
en my steeds wil beskerm teen gevaar

Vernis
Hy sê hy aanvaar my nes ek is
Met of sonder al my vernis
Boude wit en vol lemoenskil
My gil op die kinders soms skril

In die skemer van die oggend
Klink ek ongeskik en brommend
Wollerige tande en hare so woes
Stem krakerig van al die hoes

Sy hand op my los ou pensvel
Probeer ek die kinders wakker skel
Vryf ‘n vinger saggies oor ‘n rekmerk
En weet ek dat hy steeds oor my vrek

Dankie
Dankie dat ek vanoggend die son se eerste strale kon vang
Dat ek kon stadig wakker word met die voëltjies se sang
Waar ek lê omkring in sterk arms van sy manlike liefde
Gestroop van alle voorgee en die emosionele siektes

Daarom wil ek U prys vir dit wat ek reeds het en steeds ontvang
Kan ek my dae vorentoe met geloof in U genade en liefde beplan
Waar U oor ons kinders en omgee-mense se lewens waak
Staan ek vandag met sonde bevlek skaam voor U naak

Amen

jou soen
Ek skribbel woorde van genot en geluk
vet graffiti letters op jou hart gedruk
drup dit nat van te veel omgee
en laat vuil voetspore met elke tree

Met jou hande ferm op my heupe
verdwyn al my kop en lyf se skete
met jou warm asem in my oor
sê jy saggies dit wat ek wil hoor

My lyf bedompig teen jou vasgekleef
laat jy my weer en weer besef ek leef
met jou lippe sag en betowerend
jou tong klam in my nek dartelend

Die belofte lê in jou oog se groen
die geur van jou lyf soos soetlemoen
my hele lyf bewus van die sensasie
van my siel se hernude restourasie

Skryf vir my ‘n gediggie
Asseblief toggie, skryf vir my ‘n gediggie
of sommer net ‘n paar woordjies in ‘n beriggie
Van hoe jy my sien en hoe jy my innig bemin
met alles wat ek wil hoor en glo daarin

Ek verwag nie van jou om altyd daar te wees vir my
Ek wil verwag om altyd daar te wees vir jou
Ek wil nie oor kleinigheidjies en misverstande baklei
Elkeen se seermaak woorde die ander se uitklophou

Seer en teleurstelling in jou groen oë sal ek altyd berou
Ek kyk grondwaarts met die wete ek was ‘n visvrou
Dankie vir jou liefde en dat jy so maklik vergewe
Ek is steeds nommer een in jou lewe

Sekelmaan
Ek droom waar ons glyplank ry
op die rug van die sekelmaan
My hand in jou hand om te bly
volg ons huppelend die sterrebaan

Sekelmaan skoppelmaai ek en jy
Gelukkig – eggo ons helder lag saam
Ek het die een gevind gemaak vir my
Oomblikke vir ewig agter glas geraam

Bitter en kwaad wat van my af weggly
Om plek te maak vir geluk, lewe en lag
Van doringtak en donker het jy my bevry
Om te deel in elke oomblik saam se prag

Sy rugsakke
Ek sit soos ‘n rugsakkie teen hom vasgeklou
Voel die winter koue se byt aan my vingers kou
Op ritme van sy asemhaling praat ek stories in my kop
Van al die dinge wat ek hom wil sê wanneer ons stop

Wind deur my siel en gemoed – van spinnerakke gestroop
Elke wit streep – een nader aan my drome en hoop
Motorfiets gedreun – niks kan geluk en liefde koop
Saam as sy motorfiets-rugsakkie wil ek ons paadjie loop

Agter hom, gehelmet en arms om hom gevou
Weet ek dat ek hom met alles van my kan vertrou
Nie ‘n oomblik laat ons saamwees enige berou
Elke dag word ons liefde sterker en sterker gebou

‘n Briefie vir jou
Ek wil graag vir jou ‘n briefie skryf
Oor jou oë, hande en jou lyf
Jou goeie punte wil ek prys
Jou naam staan bo-aan my lys

Geluk en vrede in my lewe het jy gebring
Jou stem laat my hart steeds sing
Ek staar na jou met heldeverering
Ons saamwees is ‘n vreugdeviering

Alle vrese uit my siel losgetorring
Veilig toegevou in jou lyf se kromming
Weg met alle emosionele verdorring
Lag en leef met jou aanporring

Jou liefde het jy aan my toevertrou
Om jou elke dag naby my te hou
By jou voel ek volkome vrou
En sal dat jy ons liefde nooit berou

Eiland
Ek sien groen-oë met plootjies gerand
en weet ek is op hierdie Christo-eiland gestrand.

Hier waar ek maklik kan weg sink
– nie sal omgee om te verdrink.

Met nerf-af knieë kruip ek uit op die sand
Van rotse vlym skerp en getand.

Die knip van jou oë laat my weer dink
Laat my gryp na jou hand wat wink.

Met hande manlik en glad nie bang
Het jy my in jou reddingsnet gevang.

Jy is
Jy is my reënboog,
Jy is my dou op die gras
Jy is die geur van reën en grond
Jy is my oggend sang
Jy is my eerste koppie koffie
Jy is die warm hand in die holte van my rug
Jy is die klop van my hart –
die fladder in my maag

Jy is die skakels in my ketting
Jy is die geur in elke blom
Jy is die lag in my dag
Jy is die woorde in my sin
Jy is die rede van my verstaan
Jy is die rooi in my wyn
Jy is die eggo van my siel
– deel van my bestaan

Jy is die kleur in die sonsondergang
Jy is die stilte van die donker nag
Jy is die geknetter van die vuur
Jy is die eerste oggend lug
Jy is die onverwagte oproep en sms
Jy is die mooiste kompliment
Jy is die fluister stem in my oor
Jy is die styf vashou-moenie my los gevoel.

Martel
My moeë siel is aan die wankel
Hy gaan uit om my te martel
Ek is besig om in my trane te verdrink
My laaste greintjie selfbeeld het hy gesink

Baie beloftes het hy aan my gemaak
Wat my binneste laat ruk en ek wil braak
Met sy huil en groet oor die lang afstand
Het hy my weggegooi en gedryf oor die rant.

My bene swik, struikel en ek val neer
Elke asemteug maak my borskas seer
Waar my hart was – net ‘n leë, rou sweer
Sal ek dan nooit ooit nie leer

dat hy my uitmekaar kan skeur en pluk
met sagte hande en beloftes van ewige geluk?
Hy het my en my liefde verraai
met die besluit om sy rug op my te draai

Met verwarrende emosies en gedagtes wat deur my maal
Droom ek steeds hoe hy my eendag kom haal.

Stukkend
My hele lyf raak aan’t bewe
as ek dink aan die storie van my lewe.
Hy het my uit die swart modder opgetel,
my alles wat ek wil weet en hoor vertel
Nooit geglo die seer sal my neervel
My hart, my siel, my alles het ek aan hom toevertrou
Aan elke woord, elke aanraking van hom het ek geklou
Die skerwe van my brokkies hart
het sy lemmetjies tong tot as verbrand
om weg te waai in die suid-ooster wind
waar niemand my alleen seer ooit sal vind
In ‘n bondeltjie het ek myself toegevou
waar ek my geëelte hart probeer stil
en die nuwe wonde weereens rou.
My wange is nat getraan
en my lyf voel seer van die woord-geslaan
Trane wat proe na sout en bloed
Ek skrik wakker terwyl ek sy naam roep
Ek smeek dat hy my nie moet verder breek
en raak aan die slaap terwyl ek bid
ek moet wakker word met bitter haat
Maar ek weet …
dat ek hom nooit sal vergeet.

Toe ek ‘n klein dogtertjie was
Toe ek ‘n klein, klein dogtertjie was
Was ek beslis die stoutste in my klas
Tot donker kon ek buite speel
my fiets oral los sonder dat iemand dit steel

Met geen vrees, het ek tot bo in die boom geklim
My ma het my laat glo ek alleen is so slim
Sy het my hand gehou en stories vertel
Van feetjies, wolwe, varkies, die hemel en die hel

Sy het gesorg vir verjaarsdae – elkeen soos ‘n droom
Maatjies, lekkers, roomys, speletjies en koeke met room
Elke jaar se vakansies by die see was hope pret
En tot ou nag het ek, my boetie en sussie geklets

Van al die baklei en pakke slae het ek al vergeet
Kan nie die seer onthou van toe die by my steek
Ook nie die naar en siek van elke kinderkwaal
Maar onthou elke lag, kielie, malemeule en sonnestraal

Dan was daar die reënboog en sy pot vol goud
Rys, aartappels, pampoen, boontjies en ma se skaapboud
Desember deur die hoofstraat ry om die liggies te kyk
Familie, geskenke, kersboom versier – engeltjies wat bo-op pryk

Met ‘n kol op die maag het ons toktokkie gespeel
En vir Dirkie het ek gekyk met ‘n knop in die keel
By die bure kon ons gou-gou ‘n koppie suiker gaan leen
Familie, vriende en vreemdelinge – almal ‘n seën!

My gebed
In Jesus Naam, vra ek U om my te help om ander te vergewe
Diep binne-in smag ieder en elk van ons tog na volkome vrede
Ek bid vir krag en wysheid om ander se hartseer te verstaan
Om saam met hul die knie te buig en te weet by U sal dit beter gaan
Solank ons na Bo kyk en vertrou dat alles moontlik is in Jesus se Naam.

Vader leer my bid en dat niks te groot of klein is om aan U op te dra
Dat daar niks is wat ek hoef oor te twyfel of skaam te wees om te vra
Soveel verkeerd, lelik en ongeloof – daaraan is ek daagliks skuldig
Dat ek vandag slegs kan bid vir vergifnis, genade – maak my geduldig
Om nie dadelik al die antwoorde op my oneindig baie vrae te verwag.

Amen

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD