Kieslys

Close


*/

31 Julie
2017
Gedigte
402 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Linda du Plessis

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Skrywers en digters met woordskilderye

Ons is sprekers deur woorde op papier
gedagtes wat ons vorm en verfyn
word gelees deur vriende en van hul waardeer die woorde-wierookgeur
soms word dit gelees, vir die oomblik geniet … neergesit … vergeet …
net swart letters op wit wat tot harte spreek

maar kom ons as skrywers en digters skink en vier
ons talente en gawes met ‘n glasie goeie wyn
elkeen uniek, elkeen gevorm wat skilder met woorde wat kleur
woorde inmekaar vleg waar ons van diep dink … diep spreek weet
woorde vir die intellek, woorde wat ek en jy en ander verstaan as leek

laat ons die kuns van woordskilderye geniet
woorde skryf, doodkrap, bysit, wegneem, opfrommel, weggooi
snags oorlaai nuwe ontdekkings van woorde wat in mekaar pas
sinne paragrawe stories verhale gedigte as ons moet slaap
en krabbel ek en jy dit gou in ons notaboekie voor ons dit vergeet

wonderlik as ons woorde-skilderye aan almal bied
gevorm word in ‘n bundel … in ‘n melodie … in musiek te mooi
of gou op die horison verdwyn of adelplek kry in menigte se boeke kas
op die televisie, deur sangers, oor die radio van die noorde tot die Kaap
en of net ek en jy en jou vriende ons skeppinge geniet en van weet

neem jou woorde verfkwas op en meng kleur pastel-vrolik
verf dit met potlood en pen of tik vingerpunthale
oor geduldige papier of rekenaar, IPad, tablet of selfoon
kwistig keurig soms verspot soms vol erns soms mengelmoes
woorde vol hartseer trane pyn woorde vreugde plesier vol lag

speel musiek sonder klank waar ons geen note hoef te druk
oor die wêreld heen skryf en dig in duisende tale
verspreid woordskilders in talle kontinente en lande woon
plaas die lekkernye lekkersmul in jou dig en skryfkardoes
of hang dit op teen daardie spesiale muur om te geniet dag en nag

Kopiereg Linda du Plessis

Dis vakansietyd so ons klim in ons motorhuis want ons is

Gepak gestewel gespoor
en ons wapad lê voor
vakansie in ‘n chalet karavaan wa of motorhuis
is ons waar ons ook al stilhou tuis
sleepwiele soen die teerpad
verwissel oor berge en dale af rat
stop met padkos met Afrika uitsig
op pad na skoon en vars lug
met geen wolkekrabbers en net die seebranders wat slaan
of natuur jou binne nooi en wild wat op die horison staan

Pak af in chalet of slaan kamp op
as ons onder teen die see onder ‘n koelteboom stop
kampgenote kom sit handjie by
en help om tentpenne in die grond in te kry
buurman bring sommer klaar ysie
nooi jou vir aand se vleisie
en as jy skoon gewas en gereinig is
gaan jy vroeg inkruip na die lang dag te rus
sodat jy droomland besoek onder die klots van die see
of iewers in die vêrte leeu se kind sy laaste nagsê brul gee

Die geur van vars moerkoffie vroegoggend
Spekmen eiers en roosterbrood honger mae vind
handdoek en strandsak en koeler met dag se voorraad
met bont sambreel en jou swemgewaad
sonbrandroom blink op die lyf gevryf
hoed op die kop as jy op die branderplank ronddryf
of eerste by die hek wag hoopvol om die groot vyf te sien vandag
die regte wild die regte tyd die regte plek vir jou wag

Mammie lees haar geliefkoosde boek, pa gaan vang vis
Sussie slaap in die wiegbed want sy wil glo rus
Boet speel volleyball met die nuwe maats op die strand
speel op Hartenbos saam met Dillen strand
maar ek sit met kamera in die hand en verkyker op die skoot
bespied links regs links agter voor deur die struike en af in die sloot
spring opgewonde op en af as luiperd of leeu of een van die groot vyf
en skiet video en kameraskote … een … twee … drie … vier … vyf …

© Kopiereg Linda du Plessis

foto: Linda du Plessis

Ek skryf ’n sprokie

Ek skryf ‘n sprokie vir jul twee
‘n meisie en seun kaalvoet langs die see
uitbundig lag en speel
jul vreugde van lugkastele bou van anderkant die duine deel

Ek skryf ‘n sprokie vir twee
van hande wat vol diamante op spierwit strande vee
drome vol goud en silwer wat na die sterre reik
‘n maan wat na tevrede glimlagte lyk

Ek skryf ’n sprokie vir twee
twee rye spore afgeprent langs die see
slingerend oor die strand toegespoel in sagte sand
twee jong hunkerendes hand aan hand

Ek skryf ‘n sprokie vir kinders van die see
verlangend na anderkant die duine se weë
die onbekende berge valleie bome
waarvan jul net wonder en speel in jul drome

Ek skryf ‘n sprokie vir jul kinders van die weskus
wat net weet van bote wat visvang en op wit sand rus
met die sproeireën van die branders oor jul hand en voet
en jul wens om die anderkant van die golwe te kan gaan groet

Ek skryf ‘n sprokie vir kinders van stadsverkeer en liggies
vir jou stadkind gebore in ‘n plek van beton sonder sterretjies
want wolkekrabbers groei en uittroon na hemel
Miljoene bymekaar beweeg die strate nooit stil

Ek skryf ‘n sprokie vir jou kind van die plaaswerf
jy het die beste toekoms van vry wees geërf
van ruik van die nat aarde sonder besoedeling
na die stilte kan luister as dit vir jou ‘n aandlied sing

Ek skryf ‘n sprokie vir jou kind van die woestyn
wat met karossie om die lyf speel op die rooibruin duin
springbok en gemsbok elke dag op die gesigseinder daar ver
met die son wat bedags gloei en saans koud kry onder maan en ster

Ek skryf ‘n sprokie vir jou straatkind
met die sterrehemel as jou dak en leef in reën, son en wind
jou bed saans die bankie in die park toe gekombers onder koerant
met bedelbroodjie en bitter swart koffie in die hand

Ek skryf ‘n sprokie vir jóú …

©Kopiereg Linda du Plessis 2016

Voetspore in die sand

Vandag kyk ek terug
oor die sand op die strand
op my
v         voetspore in die sand
   o        oor golwe duinings branders
e         ek en jy dans droomverlore kaalvoet onder die maan
   t        tel skulpies op
s         sonbaai op die strand en het
   p        pret met vakansietyd
o         ons oë begeer vakansie op verbygaande skepe
  r        rol bloedrooi gebrand ons handdoeke op
e         en gaan kyk uit die ligtoring terug
na van gister en toeka gelede se voetspore op die strand

kaalvoetspore so sag soos satyn in die sand
sommiges dof as die branders dit wegvee op die strand

spore wat loodswaar trap deur kruise gelaai
op my skouers en te diep en nie toegewaai

slinger diep en lang tree heen en weer en draai af
selfs met ligtorings se waarskuwing op seestrome waarop ek sou loop of draf

soveel kere menigtal vreemde lewensskepe se see-spore wat ek tel
waar ander my op seerkry afgooi branderry sou vergesel

fyntjies spoortjies trippel drie-in-een
kleinkinders aan my hand vir my geleen

sleepspore waar ek hondmoeg en gedaan
myself op my moeilike lewenspad baan

growwe 4×4 spore op verbode strand by die klipsteiltes hoog na bo
afdraandes waar ek vir krag van Bo sou glo

dink ek is alleen, maar my voetspore wat skielik stop en vervang
word deur onsigbares in tye wanneer seestorms woed en donkerwolke hang

dan sien ek dis die geestelik spore deur God nagelaat
maar ook my seermaak/geneesspore in ander se lewens deur woord en daad

en as ek baie mooi kyk sien ek ek was nooit alleen
die Heilige Gees se voetspore altyd daar om my te vergesel met sy Genadeseën

nou kyk na voor maar ook na bo in my sandvoetspore na Jesus se genadespoor
om daarin te volg en nooit Hom as my Ligtoring my Hemelbestemming sal verloor

foto: Linda du Plessis

‘n Liedjie vir jou

Ek wil vir jou ‘n liedjie dig
‘n liedjie vol van verlange gevul
waar ons soos van ouds tesaam
om die kampvuur saam sou droom
Ek wil vir jou ‘n melodie skryf
gevleg vol van herinnerings
waarvan net ek en jy sou weet
onthou wat ons nooit sal vergeet

‘n Liedjie wat op my tong vlinder
in die vlug die wye wêreld in
oor die see en oseane berg en dale
en voete vind by jou diepste hartskamer in

Ek wil vir jou nou note skryf
kolletjies op wit en swart lyne
waar my liefde vir jou op sal sweef
hemelse akkoorde gekomponeer
om vir jou te sing van my liefde vir jou
pêrels goud en diamante net vir jou
koester ek van ons twee tesaam

‘n Liedjie wat op my tong vlinder
in die vlug die wye wêreld in
oor die see en oseane berg en dale
en voete vind by jou diepste hartskamer in

Ek tokkel nou die liedjie op my kitaar
my stem vol liefde en heimwee na jou
op arendsvlerke styg dit die hoogtes op
vlieg elke woord en elke noot tot by jou
my liedjie vol liefde passie eens gevind
jy dit in engelhande vasgryp
om dit in jou hartskamer vas te knoop

‘n Liedjie wat op my tong vlinder
in die vlug die wye wêreld in
oor die see en oseane berg en dale
en voete vind by jou diepste hartskamer in

‘n Liedjie wat op my tong vlinder
in die vlug die wye wêreld in
oor die see en oseane berg en dale
en voete vind by jou diepste hartskamer in

U is my pottebakker en ek die klei

“God is die Pottebakker en ek die klei
Sy hande meng die klei met perfektheid
tot wie Hy met liefde en sorg brei
met geen haas en presiese afmetings en met sy tyd
sit Hy by die pottebakkerswiel en vorm my spesiaal
bak my tot die volmaaktheid tot kruik so geniaal

Vir jare vul die lewe my met lewenservaring
vloei liefde en omgee wat my moederskoot bring
druppel al die vrug van die gees van vreugde en vrede
bedagsaamheid geduld goedhartigheid en gebede
en staan ek as kruik soms onbeskermd teen wind en weer
kan niks hartseer teleurstelling gebrokenheid traandruppels keer

Uit my skink ek my omgee gawes van om te deel
vloei daar saggies sonder ophou strome van liefde so veel
en as dit leeg begin raak hoef ek dit nie op te vul of vol te maak
want die Pottebakker voorsien met oorvloed as dit opraak
aan GELOOF, HOOP, LIEFDE, vertroue, lewenslus, entoesiasme en deursetting
en ek as kruik ‘n verskil en waardering in ander se kruiklewens kan bring

Dan kom die onafwendbare storms van die lewe
en fyn barsies vinger oor my kruikskoonheid bo ander verhewe
krakies dit om my skatte wat ek versamel het deur die jare se kans
en sonder beskerming sonder keer sonder balans
met die stampe en stote wat ek verduur het dit so skielik
val … na benede … onvoorsiens … in een oomblik

die kruik het by die fontein van die hoogtepunt van lewe
geval en met fondament, handvatsel en rondings gespat in skerwe
bymekaar geskraap elke fyn stukkies en aanmekaar probeer gom
maar gate, fyn en growwe krake en onvolmaak het my kruik uitgekom
lig het orals deurgeskyn en water het uit elke gaatjie gedrup-vloei
en wanhoop, ongeloof, twyfel en teleurstelling het stilweg aanhou groei …

maar die Pottebakker het my nie vergeet toe ek gebreek en in skerwe lê
Hy het my eie-ek-selfheelmaak saggies weer gebreek het soos Hy dit wou hê
met liefdevolle hande het die Kruik van die Lewe my skerwe geneem
en my opgetel, een vir een en stukkie vir stukkie perfek ingepas
die mooiste mosaïek perfek bo-oor sonder krakies my aardse kruik
weer herstel wat Hy nou deur Hom vir Hom op aarde as geestelike kruik gebruik
en ek as deel van die kruik ‘n verskil in ander se lewenskruike kan bring
om uit eer en dankbaarheid saam met ander vir Hom en lof- en dankliedere kan sing

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
15 November 2005
Gedigte
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Krap uit die see | Roekeloos
2017-08-06 08:53:52
[…] sy debuutbundel Donkerkamer, wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit ...
Donkerkamer | Roekeloos
2017-08-02 12:58:45
[…] Botha het in Nuwe Stemme 4 […]...
Geheim
2017-07-21 13:19:54
Absoluut fantasties...

Advertensie