Gedigte van Magda Swart

Kamers van my hart
Ek stap soms
deur die gange van my hart
loer in by elke kamer
maak soms die laaie oop
en blaai deur elke leêr

Noukeurig gly my vinger dan
oor elke reël
van elke vers
wat ek nog ooit geskryf het

Soms bring dit weer ‘n traan
wat ek dan versigtig
met my mou
wegvee

En soms bring dit weer
‘n glimlag na mond
wat ek sag
met my vingerpunte streel

Dan kom ek by die agterkamer
waar jou dosier opgesluit is –
te bang om te onthou,
en draai in my spore om

Miskien volgende keer …

Cry Wolf
In die vroeë oggenduur
Nog voor die son sy strale stuur
Word ek wakker uit my droom
Deur die skril gelui van ‘n foon

Die horlosie-vinger staan op vier
Wie is dan nog wakker hierdie uur?
Dis jy wat bel om hulp te vra
Jou motor het hom weer wangedra

Dadelik is ek omgekrap
Wat soek jy daai tyd op die pad?
Jy sê dat dit nie dringend is
Dat jy sal wag op die son se lig

Ek wikkel my los in die kombers
En maak dit af as dronk-gesels
Soos altyd wanneer drankies vloei
En alleenheid jou hart so bloei

Jy sê dat jy terug gaan bel
As niemand anders jou te hulp kan snel
So tik die klok die tyd verby
Totdat die foon weer skril begin lui

Die konstabel se stem is yskoud
Met ‘n skok besef ek iets is fout
Wanneer hy die tyding bring
Jou lewelose liggaam is gevind

Selfverwyt kleef aan my siel soos gom
Hoe gaan ek ooit hierdie berg oorkom?
Cry Wolf het jou angskreet verdof;
Een keer te veel …
en jy keer terug tot stof

My Laaste Vers
Dit is winter in die Kaap
die wêreld is maar dof en vaal
Noordwester waai jou uitmekaar
en wit sneeu begin plek-plek daal

‘n Kouefront beweeg in – ja,
al dieper die binneland in
Jas en wolkombers word uitgehaal
oral in treurige ou Transvaal

My hart voel koud en leeg,
sonder jou is ek so alleen
Maar jy sal dit mos nooit verstaan
Jy het verkies die wandellaan

So regop soos ‘n spierwit kers
Skryf ek vir jou my laaste vers
Jy sal dit egter nooit kan sien
Want my liefde het jy nooit verdien

Wentelbaan
My wentelbaan,
Sterreprag met donkerte omraam
Vanuit ‘n tonnel vetrek my tuig
Ligjare, tot dit rustigheid bereik!

Van mane na onbekende sonne stel
Ver verby gevreesde hel
Sweef my tuig stadig verby
Tot ver duskant die breë Nyl!

Ek word gestuur deur skeepskaptein
Amper iets soos Star Trek s’n
Net hy het geen puntig neus
Geen afstandbeheer vir die deur!

Elk emosie stuur ‘n sein
Wat beheer word deur die brein
Angs en opwinding heers
Liefde en ekstase oorheers!

So sweef my tuigie voort
Ek is presies waar ek hoort
Musiek voltooi my wentelbaan
Bereik my ore met ‘n traan!

Tydloos vaar ek heen
Land altyd veilig op die been
Kaptein, kaptein, moet my nooit vaal
Beplan reeds die volgende reis saam!

Woorde
Woorde stol in ‘n oop mond –
bloed stol in ‘n oop wond

Woorde lawe ‘n teer gemoed –
emosie vlak, teer, so soet

Woorde uit ‘n pen se ink –
dorstig soos ‘n hart dit drink

Woorde pronk, trots soos ‘n pou –
gevoelens vrygelaat, uit ‘n mou

Woorde dra ‘n hart se kleed –
waarom is liefde soms so wreed?

Die Woud
In ‘n wilde woud van vrees wieg die takke heen en weer en die bos se bose gees ontwaak uit sy slaap; so seer

Ek voel sy arms om my gly waar ek my teen ‘n boombas vly skirl begin hy lag en lag; ek is verlore in sy mag

Stadig begin hy my martel tevergeefs probeer ek spook en spartel ek kyk op in sy oë so swart; donker poele vol van smart

In doodse stilte staar hy na my en ek wonder wie my ooit gaan bevry geduldig sal ek wag en kyk; of dit gevind sal word – my lyk!

Geluk
Daar is een woord in onse taal
wat elkeen brand om te ervaar
dis maar ‘n enkele woord
met ‘n betekenis so groot
hy is soos ‘n vlinder
solank as jy hom jag
gaan jy vir hom ‘n leeftyd wag
wanneer jy egter stil gaan sit
sal hy self sy weg na jou skouer vind
en wanneer jy dan eendag
terug kyk op jou weg
sal jy vind dat hy nie is
dit wat jy ervaar het nie
maar wat in jou hart gegrafeer staan
daar sal jy hom vir altyd bewaar
want hy kom net eenmaal…
Ja, geluk is almal se droom
en ek is so dankbaar
hy het in my hart ook kom woon.

Die dood
En eenmaal as die dood besoek
en stadig aansluip om die hoek
raak almal stil en bleek, ja,
selfs die taaiste hart word week
Want die mens wat eens was
sal nooit eers weer kan lag
en wanneer die leë stoel
ou herinneringe oopwoel
voel jy intens die pyn
wat maar net nie wil kwyn
Verlange knaag aan jou siel
en jy weet dat jy nou moet kniel
Dit is immers die bron van krag
in die donkerste uur van die nag

Doodloopstraat
ek het oral na jou gesoek
om elke draai en elke hoek
waar het jy al die tyd geskuil?
my hart het so lank gehuil
as ek jou net vroeër kon ken
en toe jou hart kon wen
nou is dit egter te laat,
tyd het teen ons gedraai
ek het jou opgespoor
maar jy is my nie beskoor
ek het Doodloopstraat bereik
omdraai my finale besluit
totsiens my lief
hiermee dan my laaste brief

Winter
Dis ‘n koel wintersaand
Op die berg lê die wolke laag
Wind huil om die hoek van die huis
En op die dak skarrel ‘n verdwaalde muis

Wit vlokkies val teen die ruit
Saggies begin ek die hartseerwals fluit
In die kaggel dans duisend duiwels rond
En teer lek ek aan my baie seer wond

In herrinnering glimlag jy weer
My hart ruk stukkend vir die honderdste keer
Ek onthou nog so goed daardie dag
Toe jy beloof het om vir altyd te wag

Alle gevoel het intussen verdwyn
Net die pyn het oorgebly …

Ons ronde bal
Watse deurmekaar plek is dit,
Hierdie ronde bal waarop ons sit?
Hier waar haat en nyt,
Alle tekens van liefde laat verdwyn

Pa en ma is in die kamer aan’t veg
Terwyl boetie vir sussie in die sitkamer terg
Buite grom Wagter vir ‘n kat
En uit die buurhuis; net houe wat klap

Moeder vermink haar eie kind
Of stuur hom sonder trui die koue in
Vader suip al die geld uit en
Baba kerm uit hongerpyn

Op polilieke gebied.
Is almal besig om mekaar te skiet
Wit en swart haat mekaar
En niemand kan saam staan

Alle waardes en sedes
Is lankal reeds vergete
Dit lê op die see se diepste bodem
En jy kan maar gaan slaap, Liefste Sodom

Wat gaan van die mensdom word
Wanneer U die deur toe gord?
Ons kan maar net bid, O Heer
Dat U ons kan vergeef

Ons Kasteel
En dan, wanneer die eerste strale val
En die sonnetjie skaam vir my lag
Maak ek my oë stadig oop
En lig my kop van die sloop

Na die langste nag van my lewe
Voel ek my lyf bewe
En wonder wat is dan die sin
Om elke dag so hoopvol te begin

Dit is reeds maande wat ek wag
Die lewe gaan verby my; dag vir dag
Ons kasteel se muur is besig om te vou
Veel langer kan ek dit nie regop hou

Die fondament het reeds gesak
Wat is volgende, die dak?
Ek wens so jy kon my hoor
My antwoord slegs my stem se ego koor

Die blomme het geen geur
En al die spieëls is middeldeur
Hoekom, hoekom, hoekom
Is die lewenspad so krom?

Slagyster
Deur baie jare heen
het ek jou glimlag
diep in my hart gedra
Jy was menig meisie se held
van my bestaan
het jy nie eers geweet
Toe op ‘n dag
het jy my raakgesien en
my hart het heeltemal versteen
Jy het met jou vleitaal
my voete onder my uitgeslaan
en ek was total in ‘n dwaal
Jy het my oorval
soet woodjies, sjarme;
die regte ‘gentleman’
Maar eintlik was jy
die uitgeslape ou jakkels
en ek die arme dom eend
Jy het jou kanse afgewag
jou kaarte perfek gespeel
want op daardie herfsaand
het ek pens en pootjies
in jou strik beland
Jou slagyster het gemoor
en ek het die stryd verloor.

My skildery
As ek mooi kon skets
het ek my gevoel op papier afgeëts,
in skakerings van blou
om te wys hoe baie ek van jou hou,
met ‘n groot hart so rooi
want nêrens is ‘n liefde so mooi,
ek sal ‘n klein kwas gebruik
sodat jy die waarheid kan ruik
in ‘n blomtuin so fraai
waar ‘n haan vroegdag kraai,
en in die poeletjie van vis;
sal jy sien
hoe mal ek regtig oor jou is
die wolke raam ‘n goudgeel maan
waar jy op jou tone raak daaraan,
en onder ‘n swart ster kombers
sal ek my gedig voorlees;
vers vir vers,
hier sal ons ons huisie bou
met stene
wat vir ewig sal hou

My baksteen muur
Sonopkoms, ek moet voorberei
Elke woedebui, wreede vloekery
Slaan die houe oor my rug
Laat diep hale met ‘n sug

En ek pak op nog ‘n steen…

Beskermer, my oorlogskleed
Waarsonder ek nie kan oorleef
Jouend, snouend, stryery
Net nog ‘n messteek in my sy

En ek pak op nog ‘n steen.

Middel van die oorlogsveld
‘n Ope teiken, blootgestel
staan ek alleen;
Uitgelewer, geen verweer

En ek pak op nog ‘n steen.

Met elke bom wat jy gooi,
Elke skietwond, groen of rooi
Bou ek versigtig aan my muur
Die een wat jou uithou, uit my buurt

En ek pak op nog ‘n steen.

Heligdom, my eiendom
Moet dit asseblief nie binnekom
Moet asseblief nie daaroor klim
My veilige hawe binnedring

En ek pak op nog ‘n steen.

Liewe Oupa
Met u wyse raad en gryse baard
Het u met trots gestaan
In die leë skoene van ‘n pa;
Wat moes gaan op ‘n engelwa

U het my geleer van geduld
Maar nooit nie van skuld
Van lewe en liefhê, glimlag en bloos
Van gisters en godsdiens, genade en troos

Geen takie ooit te groot of klein
Vir u gunsteling meisiekind
‘n Skelm twee rand in die hand
Ai, die alewig, soete tand!

Sondag was ons plek bespreek
Kiertsregop deur die lange preek
Luidkeels het ons saam gesing
Elke noot ons toegewink

Loodswaar was my gemoed
Die hartseer dag wat ons moes groet
U was vir ons die wilgerboom
In die woelige rivier stroom

Onse familie rots, my ewige trots
Ek mis vir oupa elke dag
U kalm hande
En sagte lag

Eendag sal ons weer ontmoet
Tot dan hou ek goeie moed
En bou voort
Op elke wyse woord

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar