Gedigte van Marthé McLoud

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Sandkorreltjies

op die pad tussen Gordonsbaai en Rooi Els
kort duskant Dappa se Gat
is daar ’n voetpaadjies wat afloop
tot onder by die see –
daar waar die water die langplooirokke
van die berghange omsoom

’n fynbos-erewag
aan weerskante van die sementtrappies
lei hulle twee na ‘n paadjie waar
ronde klippe heup aan heup geanker lê –
van klippaadjie, na grondpaadjie, na sandpaadjie
totdat ’n skare rotse hul gul
op die strand verwelkom met:
Kom sit, die show gaan binnekort begin

’n binnehuisversierder het die verhoog
met skakerings van blou versier
potblou, asbesblou, poeierblou
’n perfekte agtergrond –
daar waar die see die horison kruis

die vertoning begin met ’n meisie
in ’n pienk eina-rokkie en heuningbene
wat op hip-hop sandkorreltjies
byt-die-bamboes met haar honde speel

dan kom ’n man in ’n All-Gold T-hemp
aan die beurt wat met sy jolige vlieër
vernuftige toertjies uitvoer
wind en vlieër harmonieus by mekaar ingehak

die enkel banderplankryer
wat sy toertjies vreesloos op sy branderplank uitvoer
ten spyte van die wapperende haaivlag,
laat die toeskouers na hulle asems snak

na ’n kort pouse begin die hoofshow
eers spoel die branders versigtig, voel-voel uit
glip glad, skuimend terug
geleidelik begin hulle al hoe waaghalsiger raak
totdat hulle in hul wit leotards
asemrowende akrobatiese agteroor bollemakiesies uitvoer –
al hoër en hoër in ’n poging om hulle voorgangers te oortref

’n gesellige, koel misreëntjie sak uit
woordeloos verwonderd vryf hy met sy sandvoet oor hare
weet hy dan nie dat sandkorreltjies seer maak nie?

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar