Gedigte van Mia van Schalkwyk

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Saam praat en saam wees en saam wéés

Daar is ‘n punt.
‘n punt in ‘n gesprek waar tyd vervaag en al die vrae wat ooit gevra is, deur ewigheid omvou word
en ‘n enkele antwoord maak saak.

Ek hou van die aarde.

Op my stoep is dit stil.
Jy sê jy kan verewig so sit, en ek dink ek ook, maar ek sê dit nie hardop nie.
Hoeveel keer mag mens sê: “ek ook?”

Ons lag.
Ons praat oor musiek en die lewe, die mooi en die lig en die hartseer wat eintlik maar net skaduwee is.
Ons lag.

Op ‘n tyd raak ons ernstig en jy vra my oor my hart.
Ek kyk na my voete.
“Jy’s altyd happy, partykeer vergeet jy dit net.”

Ek hou van die aarde en ek hou van die grys.

Die grys verf my lewe vol kleur.
Ek kan in dit spring en kyk hoe die spatsels patrone maak.
Ek hou van die grys.

Daar is antwoorde, maar min wat my ooit tevrede stel.
Daar is altyd meer en daar is altyd grys
maar tog:
nóú is ek tevrede.

Jou oë is donker,
‘n bietjie soos jou hart maar ligter as enige ander wat ek ken.
Jou oë kyk vir my oë en ek dink hulle konkel sonder ons wete, maar
eintlik weet ons goed.

Ek’s tevrede, maar ongeduldig, maar geduldig genoeg (genoeg geduldig)
“Ek hoop nie dit eindig ooit nie.”
Weet jy dan nie? Mooi hoef nooit te eindig nie.

Ek is seker as ons mooi genoeg (genoeg mooi) kan wees, kan ons ook verewig lewe.

Ek hou van die aarde.

“Die aarde hou van jou.”

 

wakker droom

soms droom ek oor sekerheid
dat ek die toekoms kan sien
en my visies verstaan

soms droom ek –
dan huiwer ek nie voor ek my geluk omhels nie
tel nie die kere wat ek haar vrygespring het nie
bevraagteken nie goed se goedheid nie

soms droom ek oor geluk
dat ek saggies om haar lê-plek trippel
en hoop dat sy van my ook sal droom
en onthou om more by my te kom kuier

soms droom ek dat ek verstaan
en jy ook
dan vertel ek jou van my drome
en ons wonder saam of ons mekaar droom

 

‘n nagedagte

ek is nie ‘n kundige as dit kom by gevoelens nie
dit maak my deurmekaar
maar deurmekaar is maar net nog ‘n gevoel wat ek nie verstaan nie.
hoe liefde in een oomblik verwarring kan raak

Liefde is nie altyd liefde nie

hoe hartseer ontvou in prag
hoe die hart reageer soos wat dit haar pas
eiewyse ding, die hart

(Ek het eenkeer my hart aan ‘n leiband gesit
sy het gekerm tot ek haar maar eerder vlerke gegee het)

Ons almal soek vlerke.
ek kan se jy gee my vlerke,
maar ek sal jok.

ek is nie ‘n kundige as dit kom by die waarheid nie
maar ek weet dat sy ook
vlerke soek
vlerke kort

Liefde is nie altyd liefde nie.

 

‘n rymgedig (‘n huppelgedig)

as my woorde verdwyn
en my liedere stil raak
dan bly daar steeds my taal.
dit roer hier binne my
heg vas alles wat wil los kom
en skeur stukkend dit wat sny
dit ween en wroeg en woed alles uit in my

toe die gemak verdwyn
en my vrede ook
toe bly daar steeds my taal –
en jy verstaan my taal.
dit roer iets hier binne in my
wat borrel en bruis en wil vrybreek
ek kan ook vergeet

toe al my kennis verdwyn
en al my kennisse ook
is daar net jy.
ek ken jou nie
maar jy ken my taal
jy verstaan my taal
en my

 

tyd

Die leemte bly net leeg

 

 

 

 

tot dit weer vol is.

 

om te vang, te verlang

geen een vang ‘n ander nie
ons hardloop te vining vir ‘n greep
om te vang
(om te verlang)

geen een vang ‘n ander
soos wat vang verstaan
dat niks gevang hoort te wees nie
(dat dit verlang hoort te wees nie)

bewaar dit wat jy vang
en dit wat jy laat vang
bewaar jou siel
(kan jy sien?)

ons is nie een nie
geen een vang ‘n ander nie

 

Swerwers

Die sterre bestaan nie
net ek en jy
wat wentel
om en
om die aarde
vry van swaartekrag en verwagtinge
vry

Die aarde bestaan nie
net ek en jy
vry van skuld
getrou aan Liefde, geboei

Die hemel bestaan nie
net ek en jy, een
wat die engele laat sing
glans gee an die son

Ek en jy bestaan nie
ons sweef slegs
een siel
twee gedagtes
drie woorde
(omhels my)

Liefde bestaan nie,
net ek en jy
want so iets
iets so beeldskoon
hoort nie tasbaar te wees nie
die aarde sal terug keer,
dit ‘n naam gee
dit uitmekaar uit ruk

Standvastig in ons geloof:
ek en jy bestaan nie

 

Rus

Eensaamheid
die vermomde Moeder Theresa –
die bliksem

Hy sluip op jou af
sit sy hande om jou nek
(snak)
Dis moeilik om asem te gaan haal
te soek

Die onbekende donkerte
vang jou omkant met raaisels van niks
net Eensaamheid –
die bliksem

Jy skreeu
en huil
en skop
en veg hierdie onwelkome indringer
tot hy val
en jy val
en val

Dis stil
Hy glimlag

Die donker is skielik ligter
ligter as ooit tevore

Ek begin met myself gesels.

 

Ek het jou geglo

Jy’t gesê as ons kaalvoet loop
sal die aarde verstaan wat ons wil hê
wat ons nodig het
en die reën
die reën sal saam met ons dans

Ons het op ons rug gelê
en die wolke het vir ons stories vertel
soos vir kinders
as ons maar net kinders was

Jy’t gesê
miskien as ons genoeg lag sal die son vergeet om te sak
miskien as ons geduldig wag sal alles weer kan sin maak

Jy’t gesê jy hou daarvan as die wind met my hare speel
en as ons gedagtes kan deel
oor die mense, en lewe en die dinge
die dinge wat nie saak maak nie –
eintlik maak niks saak nie
ek en jy maak saak

Jy’t gesê: jou oë is blou
soos my hart
my hart op dae sonder jou

Jy’t gesê
alles is okay
en ek dink
ek dink ek het jou geglo

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar