Kieslys

Close


*/

04 Oktober
2010
Gedigte
3921 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Mitzi Kaalsen

Jy is hier …

Welkom liefling van my
Kom sit by my woorde knus
Laat my sinne en nuanses jou lei
na my liefde en vir jou … sielerus
Laat my frases jou toevou
in arms vol passie en drome
Elke sin is net vir jou
al skuil dit agter trane wilgerbome …

Deurmekaar

Jy, met jou wêreld deurmekaar
Ek weet, jy dink nogsteeds aan haar
al sê jy dis verby
die rede vir jou stilte is sy

Hoe kan ek veroordeel?
Jou met my opinies verveel?
Wens iemand anders kan jou hart steel
Wie is ek om te oordeel?

Jy’s nader as bloed
meer werd as aardse goed
in jou het ek ‘n siel gevind,
soos myne: net ‘n soekende kind

Jy probeer dit wegsteek
maar ek sien jou hart gebreek
jou wêreld in twee gedeel
Niemand mag jou oordeel

Ons elkeen is gemaak
om vir iemand lief te raak
as jou iemand lê in haar
is jou wêreld dalk minder deurmekaar

Die Sprokie …

Die koning was heimlik verlief
Op die diensmeisie in sy paleis
Dit het hom dus gegrief
As iemand aan haar aandag wys

Heimlik was sy lief vir die koning
Maar hoe sou dit lyk?
’n Diensmeisie en ’n koning
Sy het dus maar anderpad gekyk

’n Prins het haar, om haar hand gevra
Die koning was baie kwaad,
Toe hy uitvind die antwoord was ja
Hy het sy koninkryk op ’n reis verlaat

Toe hy terug kom, het hy alles beplan
Hy sou haar ontvoer na ’n ver toring
En almal van daar verban
Haar met alles wat sy wou hê omring

Vrywillig het sy saam gegaan
Dit was net sy en hy
Die wêreld het opgehou bestaan
Dit was net hy en sy

Soos dit ’n goeie koning betaam
Was hy baie besig in sy koninkryk
En dus was hulle al hoe minder saam
Verlangend het sy by die toring uit gekyk

Hy was tevrede, sy was syne alleen
Niemand kon haar kry
sy was eensaam, sy was alleen
waar was hy?

Tyd het verby gevloei
Sy was ’n realiteit en tog ’n droom
Die toring het vir haar gegroei
Toe sy sterf was dit alles net ’n droom

ongetiteld

Ek het verneem van jou nuwe vlam
Dus verstaan ek nou die koue aan jou kant Jou vuur vir my het uitgebrand Die vlinder het verbrand in die vlam Het jy dan net met my gespeel?
Ek wil en kan dit nie glo
Het ek iets mis gekyk in jou ok?
Naaldekokers jou begin verveel?
Te bang om reguit te vra
Eintlik niks met my te doen
As jy met die Judas kus soen
Ek mag, sal, wil nie kla

Hangbrug

Ons liefde het verander in ‘n tou
elkeen wonder of die ander steeds vashou Ek laat gaan in my verbeelding en dan wil ek net spring

sal jy my ophelp aan die ander kant
of sal ek val en in stormwaters land?
die hangbrug het verander in ‘n tou
waaraan ek pateties styf vasklou

Sal ek my stukkie tou moet laat gaan?
Hoe lank sal jy aan die ander kant staan?
Vir vandag hou ek maar nog vas
Aan my stukkie tou wat eens ‘n hangbrug was …

Liefdes Driehoek

Liefling jy
Laat my dink aan al die denkers in my
Maar liefling hy
Laat die kind binne my
Absoluut vry

Liefling by jou
Wil ek oud word soos wyn
Maar liefling by hom
Voel ek jonk en klein
Soos ‘n feetjie fyn

Koor:
Regs of links
Sal ek kyk, of blindelings
Net vergeet van dink
Net droom en skink
Nog ‘n bottel van die lewe drink

Ek sien jou op my horison
Elke tree vooruit beplan
Hy verblind my soos die son
My voete voel verlam

Jy laat my veilig voel
As jy praat weet ek wat jy bedoel
Hy maak alles in my woel
Alles in my bly oorspoel

Koor:
Regs of links
Sal ek kyk, of blindelings
net vergeet van dink
net droom en skink
nog ‘n bottel van die lewe drink

Danabaai
As alles om my swart raak
En die lewe een te veel raak
Dan klim ek in my drome en ry na Danabaai
Ek sien myself daar op die strand
‘n groot glimlag, al is ek rooi gebrand
Ek is weer 10 en terug op Danabaai

Ek kan nie sê ek wou verander
Eerder dieselfde bly, brander na brander
Ek en ouma en oupa op Danabaai
Maar Oom Johnny is weg en Oupa ook
Dis net hulle foto’s wat by ons spook
Ek mis ons almal saam op Danabaai

Danabaai geliefde strand van my
Danabaai waar al my kindwees bly
As ek maar net die tyd kon terugdraai
Sou ek weer 10 wou wees op Danabaai

Saam het ek en sus in jou golwe baljaar
Nie besef ons is nie vir ewig bymekaar
En dat jou golwe eendag kwaai sou raak, Danabaai
Maar intussen het ek groot geraak
En kol-kol het geliefdes bygekom en weggeraak
Net jou suisende stem bly dieselde Danabaai

Waar het alles dan skeef geloop?
Ek was vol planne, ambisie en hoop
Ek wens ek was weer 10 op Danabaai
Gehardloop agter ma en pa
Met Spokie die hond agterna
As ek maar kon 10 bly op Danabaai

Danabaai geliefde strand van my
Danabaai waar al my kindwees bly
As ek maar net die tyd kon terugdraai
Sou ek weer 10 wees op Danabaai

Aan die “In-groep”
Elke woord sny deur my hart
Elke glimlag kerf dieper aan die smart
Liewe vriendin weet jy dan nie
Hoe jy my seermaak nie?
Soos ‘n hond staan ek nader aan jou
Lek dankbaar aan die hand wat jy uithou
Net om later weer weg te skram
Van jou sarkasme wat verlam

Sê my wat om te verander in my
Om jou goedkeuring te kry?

Hoe oorkom ek verwerping
Die vrees van eenkant staan
Buite die glimlaggende kring
En ek wat sluk aan ‘n traan

Wat moet ek anders dan maak
Sodat iemand my wil deelmaak?

Ek mis jou
My hart ‘n groot grys gat
waar strome eens kon vloei
nou net brandend en seer
verlange het alles weggeskeur

Arms van tyd loop stadig
om en om en om
elke arm vorentoe
bring jou gouer terug na my toe

Ek mis jou

Net om jou met my oë te raak
jou oor en oor te liefkoos met ‘n glimlag
om jou wese te bemin met my stem
jou teenwoordigheid in te asem

Dis niks,
en tog is dit
alles vir my,
want ek mis jou

Outyds Versus Romantiek
Jy glo nie in simboliek
Ons sal saam oud raak
Gereformeerd, Protestants of Katoliek?
Is dit ek wat teen tendens moet waak?

Wat van verlowing?
Dis net ‘n ring, sê jy
Sal dit meer geluk bring?
Sonder of met, jy bly vry

Is dit ek wat outyds raak?
Is dit jy wat nie gebind wil wees?
Wat maak ‘n ring dan saak?
Ons wil mos altyd saam wees?

Bygesê: Blomme is geldmors vir jou
Is dit ek wat outyds raak?
Verjaarsdag geskenke moet ek jou van onthou
Moet ek teen tendens of romanse waak?

Die Affair
Speel-speel het ons begin
nie gedink dit sou lank hou
flirt-flirt, oge vir mekaar gemaak
vingerpunte perongeluk geraak

hy was my keerwal
ek wonder nog oor haar

die storm in ons het vurig geraak
die listige golwe het die keerwal gekraak

my lyf wou joune wen
my siel wou joune tem
om wat daaruit te kry?
‘n merkie in my kerfstok sny?

Dis toe jy al jou grense verloor
en al jou ander liefdes vermoor
dis toe dat ek my hart kon gee
my keerwal vergeet het in die see

ongetiteld
Ek lewe, ek weet
net soms raak dit te veel
van enige iets is nie goed
genoeg is ek as niemand anders hoor
jy my as ek saans huil
is vir swakkelinge

Dood wink soms gretig
wil ek nader gaan
ek dan hel toe ma?
Hoekom is alles so donker
ek is bang vir jou
wil ek hê, om langs my te lê
jy vanaand in haar arms
van depressie oorval my soms
wil ek dood wees
asseblief lief vir my

Verbode
Wat as ek sou toegee
Wat as ek sou ja sê
Sou jy my dan nog wou hê
Of sou jy my wou weggee

Ek droom saans jy bemin my
Jou wese verdrink my gees
jou drange oorspoel my vlees
en ek en jy is vry

jy weet ek mag nie toegee
jy weet ek mag nie ja sê
ek wil jou nog steeds hê
al sê ek nee, nee, nee.

ongetiteld
Daar was eens ‘n roepstem binne my
na liefde, om bemin the wees
en toe kom hy
en begin my soos ‘n boek lees

Maar toe hy eindig by die laaste bladsy
maak hy my toe en sit my neer
en dof van pyn word die roepstem binne my
ek wens hy lees my weer

Onthou
(opgedra aan Riaan Grobler)

Ek sien jou naam
die aande, rooiwyn, poësie, my hart
wat jonk en warm klop

Ek sien jou woorde
opgedra aan my…
Onthou jy nog?
Onthou jy nog?

Die sterre buite helder,
ons siele wat honger uitskree
na mekaar…
Onthou jy nog?

Maar alles het stil geraak
en dood gegaan
middeljare wink nou vir my
Tog ek onthou

Jou naam verewig in my bloed, want eens
het jy hoog geraak op my…

Grootmens Hartseer
Orals om my is dit nag
Waar is al die kinderlag?
Winter is dan tog so koud
Wat is met my fout?

Nêrens is daar liefde meer
Lande vol gesaai met seer
Erens moet daar liefde skuil
Miskien in die trane wat ‘n grootmens huil

Hartseer en niemand kan my troos
Hartseer, wat my so sag liefkoos
Hartseer, die minnaar van my hart
Hartseer, met pyn en seer en smart

As jy dan eendag na ‘n sprokie soek
Kyk in jou kleuter storieboek
Erens is ‘n prins en ‘n spierwit perd
Wat is drome in ‘n grootmens wêreld werd?

Ek sou so graag nog ‘n kind wou wees
Met ma wat vir my ‘n sprokie lees
Niemand, niemand, niemand wat my seer kan maak
Met soete soete drome aan die slaap raak

Hartseer en niemand kan my troos
Hartseer, wat my so sag liefkoos
Hartseer, die minnaar van my hart
Hartseer, met pyn en seer en smart

Indeks van digters

(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




2 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD