Gedigte van Sanne-Marie van de Berg

Misverstaan

behep met geel
dalk goud
die maan en sterre
en God
ek weet
dalk was dit
stukkies van jou vasgesweiste intellek
wat meelewend wou deel
in diep gesetelde
kwas liefkosende harmonie
die mooiheid en geluk
wat jy uniek kon vasvang
en wou bring in helderheid

maar in die stramheid
van jou godverlate anderkant
het die diagnose
bi-polêre temporale epilepsie
jou impressionisties toegesneeu
in ‘n status quo
van die soeke na die self
en met die knaag van verslawing
die stadige dood van loodvergiftiging
het jy soos stillewe
in misverstaan
bly wolkbank
tot jou selfmoord
en dit was jy
Vincent van Gogh

en ek sien Erik Satie volg
halfhartig jou spoor
en sonder paletmes en doek
dra hy die etiket van eksentriek
dalk mal komponis
in die doolhof van eie musiek
waar gnossiennes
en gymnopedies
sy wêreld in eenvoud kleur
en hy die romantiese era breek
met ‘n goedbedoelde moderne gees
en ook hy het bly soek
in eie geswaelde onderbewuste
waar die Rosekruisers
antwoorde tot die onbegrypbare
moes bring
en so is Satie ook
in eenvoud onderskat
en ‘n slagoffer van misverstaan

en ek skryf op roupapier
in goud
met gymnopedie
lent et douloureux
as agtergrondmusiek
en met slagoffer
gedraai tot dankoffer
vra ek myself
hoeveel geniale groot geeste
sal ons nog met premature oordeel
in nie reg begryp
tot inrigting verban
of voor hul tyd
in misverstaan begrawe

Beskrywing:
1. Vincent van Gogh: Gebore 30 Maart 1853- oorlede 29 Julie 1890- Hollandse pots-impressionistiese skilder waarvan die Sterrenag wat hy geskilder het seker een van die bekendstes is- daarom ook die lied wat later geskryf is oor hom, Starry Starry Night, soos gesing deur Josh Groban;
2. Erik Satie: Gebore 17 Mei 1866- oorlede 1 Julie 1925: Bekende Franse komponis – bekend vir die eenvoud in sy musiek en veral sy Gymnopedies en Gnossiennes;

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar