Kieslys

Close


*/

31 Mei
2017
Gedigte Kuns & Ontwerp
1023 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Tania Olsson

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Tania Olsson

Tania Olsson

vir ons, ’n dag-op-dag verbintenis
’n naat
’n nuwe broek gesny en skoene
onder nuwe bed en nuwe sterre
ons is saam,
deur gate en die onverwagse
ons
en in die oggende
verstaan
dat elke aand is dood sonder mekaar
dat
elke sonsopkoms blaai strate onder brug
en maatjies sonder woorde
is mos nie veronderstel om so te maak nie
vat my hand op die regte plekke
altyd
ekke smeek nie
ekke vra nie,
weet net
ons is
regtig egtig op die regte plek

Tania Olsson

Tania Olsson

maak
of niks gebeur nie
niks bestaan
nie regtig in
my bors nie dra
my hande in
jou sak ek dra
jou hande op
my skouers lam
van kruk moet speel
van bokssak nate
oopgebars soos
ekke swakker
soveel perskes in
die reën te veel
te vinnig te
verskoningsryk
te grys te af
te naby
te gemaklik
heel
te mal om sin te maak
ek mis
ek bewe in
die donker uur
vir jou
gesit op kas
heilige rak die plek
waar haat verdamp
verdwyn die vrees
die byt
ek wag dit uit
die liefde ál
wat in my
dwaal die spasie
tussen
ek en
jy

Tania Olsson skets

Tania Olsson

statig by die trappe af die deur verby begrafnis van my diepe kwaad die einde van my diepe my.
die asem oor my lippe maak nou dou hier op jou wimpers en die reuk bo-op jou voorkop ryg jou deur my brein verby.
ek weet van hoe jy nou maak ek het jare lank gespeel ek kyk van vêr af al hoe breek my hart my moed verstand en siel.
die skone waarheid ongelukkig lyk nou meer en meer soos mis en al hoe nader dit bekyk word al hoe vinniger verdwyn die stukkies water van gevoelens wat so hang-hang in die lug.

Tania Olsson

Tania Olsson

verstaan jouself
met arm op been
houvas aan
dieselfde rak
verdraai jou lyf
spirale in
my lewer en
my niere in
gesteek met mes
verbrand met
sigaret
die gate val so
in my in
ek praat met
brandmerk krap
aan rowe bloei
in geel en pers
en groen ek
dra jou gluur nes
diamant nou in
my sak bereken
nou dat al wat
ekke is vir jou is
as diep onder
binne jou oond verskroei
in aandpak
voor jou deur ek
sien nie meer
die wonder in jou
nie die kers
wat in die venster
hoort te sit nie
net die
donker dae uitgelê
vir my
nou sonder
traan voor alles
wat jy
dink jy ek sal
ooit
jou hoor as
al wat myse ore sien
is wat jy niemand
wys
nie

Mis.

ek sit nog steeds en dink
aan jouse hare
klosse goud en silwer in die son,
soos jy jou kar verby
polisiemanne ry
ek voel nog steeds
hoe jouse asem in my nek kom
slaap, en steeds hoe diep jou
hart binne my hart kom lê
en proe nog steeds
die sout van jouse vel,
van jouse sweterige vel
en lig
vul daagliks nog die longe
van die vrou wat klaar aan
god beloofd is
aaneenhoudend
nes die ruitveërs
in die donker vieruur middagreën
en hoor
hoe alles in my skree
vir jou
om net een keer
nog meer
net langs my
aan die slaap te raak
.

dese hoek
geskik vir viking blondgespikkel
met die afrika se middelson
hieronder in die kelder waar
sy ouers hom gelos het
vir die aasvoëls
en die mure en die kinders
om te koggel en beskinder
rondom witbeklede nagmaaltafels
plekke
waar die mannetjies mekaar
met messe eerder leeg sal tap
voor enigeen
van hulle woorde oor haar
ooit publieke lig sal sien
want
koninginne mag mos nie
so maklik by
gekom mag word nie
syse beeld in water is
bemin deur hyse self
nie daar
is modder in dai put se opbrengs
krappe in dai een se kop
.

Die volgende is sewe.in.een

1.
draai om en om in blare
met die pyp
wat in jou hande hang
stap rustig deur die
strate van die weste van
die land, hoor plek-plek
honde blaf
vir my soos ekke
blikkies skop
en sade trap tot
binne-in die rooigrond in
en bakstene gepak
gemak verorber in die rand se swak
want, manne moet mos kinders voer en almal
moet mos besig wees
daar waai ’n kind vir my deur hek
met veertig jare aan sy blad
en ek waai terug
met liedjies in my kop oor
hoeveel van ons meer geluk
kan kug as ander
?

2.
en in my sole
een vir een die teer ontmoet
begin die diepstes in my bors
te asem vir ’n nuwe kans
’n nuwe mens te wees is vir my pad
en in my siel verstrooi
en duisend stukkies blinkertjies
sweef saggies deur die wolke neer
gesit in jouse skoot
vir alles
wat ek jou beloof
het jare lank vir my gesoek
deur strate flou
belig met siek bloekompale
wat al heeltemal te lank probeer
om jou
te wys wie ekke is
jou blinde
mol
.

3.
en
daardie ander kant van paaie
staar my aan
met oop oog
en oop hand
en toe
meshand agter sy rug
staan hart vierkantig in sy skoene
waar hy my bestaar
met ‘lekrifisering om sy bors
lat niemand naby kom nie
nie eers die posman nie of
die ou met die koerante nie
daar
sit hy nou met hope van die goeters
wat niemand meer wil lees nie
onder ’n boom
op die groen
gras
.

4.
en prentjies van jou lyne
sing in my
en in my geheue
ek’t pikswart klere aan
en rooi hare gehad
toe ek laas so met iemand
in my kop gespeel het deur oor die aarde
sing my stem en
dans my voete hierdie bannelingskap
in pepskoene
met net die klankbaan van my
veldtog vir nuwe afrikaans
wat kaapse winde dwarsdeur harte waai
en trane wegwaai
vir die res van tyd
en niemand
sal weer ooit ’n hark hoef hark nie
oor my tuin nie
ek
sal self my blomme plant
en self
my eie mure bou
.

5.
en sagte voëlsang
dra die min wat van my oor is
oor die besige strate
waar die karre fokkol omgee oor ’n voetganger nie
huppel
liggies oor die klippe
by die randsteen op en af
waar jy bly met jou uitsig
oor my heelal
en al die stof
wat alles in my bymekaarskraap
toegegooi met grys komberse
van die tyd
want in my in
klop eeue lange liefde
al word ek vandag met kar getrap
en my weet niks
van niks af nie
.

6.
en onder die home
staan maatjies sigarette stook en vat
aan mekaar se bene
daar
waar hulle dink dat niemand sien nie
net
die twee op die trappies
wat alleen sit en praat
oor die sterre
hulle’s reg om so mos weg te kruip
want daar
het nou al twee keer nou
polisiekar gefokkof in die pad af
sonder om te stop
dat hulle eintlik
in hul skoolklere sit en kak aanjaag
gelukkig
maak ’n man ’n vuur
net duskant waar die groepie
kuier so
dat niemand worry oor die rook nie
en ek rus
’n bietjie op die muurtjie
langs die parkiegras
en dink
aan of ek ooit weer so met jou kan praat
.

7.
verbeel jouself
dat drome in die werklikheid
geval het dat
realiteit is net wat ons dit sien
en dat
jy altyd in die regte plekke is
verbeel
dat niks is kak nie
niks
is fucked nie
alles is net wat dit is
soos dit moet wees
altyd
al is die kinders dik en
ouers vrot
al loop die honde op jou kop al
dra my al wat jy besit
in checkers-sakke op jou rug
en slaap jy
net waar jy gaan val
daar’s niks
meet oor nie
niks verloor nie
al wat ons kan doen
met hierdie lywe wat mag voel
is voel
en seker maak
dat jy net na jouself kan kyk
.

boer in die sloot. WWI

hy sit in sy graf en skryf vir sy
ma en huil en trane rol in sy keel
af rou gebrand met mosterdsaad wat
almal hier se voet binne gate onder
bome langs die koringvelde in die
woude diep begrawe in die lug en
dink aan warm bene wit
die kleur van tande eens van oë
nie meer want modder muf sy
hare en sy toonnaels tussen planke
in die modderpoele wat getrap
word deur die voete van sy broers
se bloed en god se seën en hou
sy ma se foto in sy linkerhand
in regteroor kanonne in die agter
grond en bid en bid en dink aan
sy ma se hare en die reuk van
haar sagte vel haar wit melk
vel die kleur die hunker na
skoon plekke wat ruik soos bloeisels
en soos appelkose en die
reuk van warm aande soos hy sit
en wag in sy graf in die gat
in die grond met die doringdraad
om en die yster van die bloed
en die vrot en die dood

elke keer

ek droom jou gesig
ek droom die lyne
in jou gesig
ek droom die kante van
jou wenkbroue en ek
droom die sterrevelde om jou oë
op jou gesig
ek droom jou stem en
jou hare en jou hande en
die spiere in jou kieste
en jou gesig
ek droom jou elke nag
en dag
en elke keer as my wimpers vlieg
en dit hou nie op nie
jou gesig
in my drome
nie

sirene

op die sideline met ‘n byline staan die man met blou skoene dra sy hart op sy gewrig verbrand met naaste in die kas onder die trappe met ‘n kussing in die bad

in oggende van onverkende paaie staan sy langs die tas wat langs die man op die grond lê by die busstop waar die volgende rit sy hart sal wegdra in die bus waarvoor hy wag in die pad in die middel

daar in die swart rivier met die wit en rooi klippe daar in die middagson kyk sy uit oor die water na waar hy wag en praat hard sodat die klanke tot in die middel kan kom en sodat hy kan hoor dat wiele gou op pad is om die golwe vir hom groot te maak dat hy verdrink in diesel

met haar luidsprekerstem in die golwe kyk hy stip na voor en staar die toekoms in die oë en dra homself op aan gode wat die water dan in klip verander en die trane van verlange nou in sand draai in die hoeke van sy gesig

kom terug skree sy oor rotse kom weer terug na die oewer toe waar tone saggies oor die oppervlaktes gly en blomme in die modder huise skep vir skepsels van die klei

gaan weg hoor hy want water raas en maak haar stem stop inn die wasem en verdraai haar sinne so dat al die liefde kan gebruik word as sy messe om die laaste toue van haar hare af te sny dat hy kan dood kan gaan in vrede sonder iemand wat die strand daarna weer sout kan maak

dra lig

ringe binne ringe soos my kop die patrone van my denke nou bekyk van in my oë af en die kleure in my draai gedraai met kraletjies en blinkers en gaan aan en om gaan deur my voorkop en my neus

en dink ek nou vir self myself kyk op nie in nie op by bome op in take in waar nessies in die nagte warm dons reg om my wange trek en op na muis op vlerk en kyk hoe duik die wesens in die aandlig in en dink aan hoe die waarheid slegs ‘n spieëlbeeld van die wêreld deur my kleure is

dra lig binne jou wimpers sien die pers en blou en groengeel ligte in jou bloed en voel hoe klop jou pad binne jou are kyk hoe vaar jouself die lewe in en teken die patrone op die klippe in die koelte voel die verf onder jou hande vryf die roes sag in jou wonde in

vaar weg in ope vlaktes in vaarwel aan al jou tasse en bagasie vat net moed en liefde saam dra lig dra swael op jou gewrigte los herhaal werk op die wit papiere uitgepak in hopies om die bed wat jy nou agter laat langs al jou trane en jou spoeg

deur Tania Olsson

deur Tania Olsson

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za. Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte, Kuns & Ontwerp
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte, Kuns & Ontwerp
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte, Kuns & Ontwerp
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
15 November 2005
Gedigte, Kuns & Ontwerp
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.
24 Mei 2012
Gedigte, Kuns & Ontwerp
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

State Fracture | Roekeloos
2017-06-16 13:03:07
[…] span wat verantwoordelik was vir Pay Back the Curry is verantwoordelik vir State […]...
Gert vd Merwe
2017-06-08 09:28:55
JAN JACOBS. Dit is n skreiende skande. Geen mens op aarde kan in Marius Louw se voetspore volg nie, ...
Die intimiteit van ons greep | Roekeloos
2017-06-01 13:52:50
[…] Chameleon se eerste selfgeskrewe en selfgekomponeerde Afrikaanstalige album sedert 2009, j...

Advertensie