Kieslys

Close


*/

29 Oktober
2014
Gedigte
5683 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Gedigte van Tertius

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

 

Veldkorf

In elke sonnestraal se darteldans
op vlerke van satyn
en elke kroonblaarstoel
en nektarpoel beur daar
‘n hoepelyfie vol venyn

Dreunend dra die soetvolk
Die gaatjiesmure vol
En as mens proe dan sal jy let
In elke lee vakkie het
die son voorwaar tot goud gestol

Die stroperige brokke hang
Die rokerige rame vol
En as mens sny, my Heer
Ontplof die malse geur
Van kluitjieskraal en jakkalstol

Sweets form heaven

Die duiwel loop en mor en kla
“Wat kos ‘n mensesiel deesdae-
platinum is af, goud issie sterkie
en die apple-triek gaan nie wee werk nie”
Maar hierdie siel is in die mark
(dalk weet hy dit die vark)
Ek het beginsels verstaan my goed
maar verruil dit als vir ietsie soet

Donuts, melktert, goue wafels
pecan pie en brandy truffles
malvapoeding, apfelstrudel
Ultramel die heel kaboedel

Kitkats, Crunchies, Bar One, Lindt
Skiet my voor ek als verslind
Aeros, Astros, Chocolate Log
Glyceamic index goed gekrok

Tandarts kla: “Kom tot jou sinne
kyk hoe lyk jou bek van binne”
Die kwak die kweel, jy vreet te veel
en lank voor jy gereed is
sterf jy nog aan diabetes

Cupcakes, muffins, dadelbrood
suiker stadig na my dood
en soet sing ek daarbo ‘n plekkie los
my harpie taai van Candy floss

Suikerkorrel, jy’s ‘n doring
Hullets bly die sooibrandkoning
vir hierdie vraat is daar nie raad nie
Soete Moses, heil Selati!

Springety

Somerson se kristalskerf
Glim in elke skeur
En daardeur sug en sis
Die asem van
die melkerige see

Kobaltblou teen eboniet
Spatsels van ivoor
Vaalkrap in sy tolkloset
Anemoon se bloedroset
Slakkie sonder spoor

Seepampoentjie, stekelgroentjie
Skelm teen die poel se rand
Sonder bene, fin of klou
Wagtend op ‘n pofferhand

Rooivlerk, kolstert, willeperd
Ravot deur purperwier
Nautilus bloos selfbewus
Oor sy huisie van papier

Noordewind

Noordewindjie, wegsmytkindjie
huilend na sy ma op soek
maak toe die ruite
Los hom buite
Binne eet ons brood en snoek

Kameelperd

Toe die wêreld nog jonk was
Vol reën, sneeu en kou
Was kameelperd se nek
Heelwat korter as nou
Die ou kla gedurig
“Ag help my tog dink
Wat kan dit wees
Dat my voete so stink”

In die reën staan hy ure
En skrop, skuur en was
(Tot vandag staan die roes
Kol-kol op sy bas)
Sê die magtige bosfee
van goed en van kwaad:
Vir daai stinkende kloue
Het selfs ekke g’n raad

Die diere raak moerig
hy verloor simpatie
Toe hy bloot vir die spite
In hul drinkwater pie
En toe praat die Skepper
En sê: Luister ou grote,
Die antwoord lê nie net
In lekker-ruik pote

In die hoogste klein blaartjies
Sal jou antwoord vandaan kom
En met tyd sal jy sien
Hoe jou nek agternakom
En van toe af tot nou
Bly mense steeds wonder
En soek tevergeefs
Vir oplossings hieronder

Herfsaand

Buite raas die bloekoms
As die wind net wil gaan lê
Hy het reeds lank sy doel gedien
Net soos die Here dit wou hê

In die skaamvlam van die kers
Lê die tam vlees vars bevry
En staan sy naak en enkeldiep
in poliëster en tafsy

Naakte bors eens trots gepunt
Nou verwelk tot droë korint
En uit elk verbode holte gil verwyt
Teen die stugge somber tred van tyd

En buite raas die bloekoms
As sy die dorre vlees net kon tem
Dit het reeds lank sy doel gedien
So – het die Here dit bestem

Die dansers

As die sleepmis oor die baai kom vee
En die son sak oor ‘n jobbelsee
Woel Jan Breda sy dreunkitaar
In die lig van die sikkelmaan
En Tewie Louw se blikbanjo
Galop plesierig saam

As die baklei-wyn Sandveld voete vat
Riel die vaalvolk papsopnat
Koos Viljoen se bokvelskoen
Trap al wat klip is los
en klein Jakob Vink
lê blinkgedrink
in ‘n droë rosynebos

Mieta in haar hoepelrok
Linkerpram hang uitgedop
Maak los die honne,
o die sonne
Hie kom nog fout vanaand

Heupe swink na Koekenaap
Hier trap een ‘n hoender raak
En Langhans Bewekop
Maak dagha aan
By die blousel
van die maan

Citrusdal

Deur doringboom en fluijiesriet
en walle van ivoor
Sny die lomerige stroom
‘n slik en modderspoor

Die middag lê soos soet fluweel
op iedre werf en dorbankrant
En kinders korrel hanepoot
Op die droë kanaal se warm sand

Op die druiwemandjie omgekeer
Soet spanspekkies vlot gevlek
Ooryp vy bloei rooi en soet
pitte op die spreeu se bek

En teen newelblou muur
Van die oorryp seisoen
Die onblusbare drif van God
Se grootse, lou lemoen

Maanstrand

Deinings soos jong bruide
feestelik getooi
wintermantels wapperend
Teen die voordagmôre-rooi

Vrugbaar kurwes trots ontvou
Rollend hand aan hand
deur die romerige mis
na die ylgebleikte strand

Voorlangs wag die swartwind
met donker sens geslyp
en jaag die maanhaarkinders
Ruisend voor hom uit

Dan tuimel hul finaal
Met donderend gebruis
En sterf die blonde bruide
In ‘n graf van skulp en gruis

Angelica

Braaivleis- kitaartjie
stom in jou hoek
Wag jy dat ek ‘n vrolike vers
in jou lyfie kom soek ?
Of hou jy jou note
met opset so stil
En huil saggies binnetoe
Soos ek somtyds wil

Vlieg

Ek wil die Dood
soos ‘n vlieg afvang
hom aan sy pote
onderstebo laat hang

Ek wil die Dood
net eenmaal hoor smeek
sy vlerke soos vleiriete
een vir een breek

Ek wil die baas
oor alle vlees
‘n slag stadig laat loop
na waar hy wil wees

Bluedowns

Aweh my brasse!
Ek’s getiep en getrip
Op madjat en buttons
Vrot gechoon
En ingezoom
O my brothers

Is ja!
Ek’s getilt en gegarra
uitgefreak
Issie disco biskits
Wat my so tweak
Gerol deurie boere
streetwise skom
Trap vas julle uncle
As die klontjie kom

Ek’s ‘n 28
Jy’s skone frans
Voor hierie nag om is
Gaan ek in jou lyfsappe dans
Vol vannie waarheid
Assie straws in my in is
Geslice en gerumble
O my kinners

Dikgespliff
En heavy ge – arc,
Issie oilbase brothers
Wat my so maak
Soe ga soek jou Ma
Gintoehoer
Voorlat ek die siek verdriet
Uit jou nat oë moer.

Slaaptyd

Hansie Slim, berg wou klim
met brandewyn en gemmerlin
handjies klap koekies bak
pappie gee vir mammie pak
handjie vol van boeremeel
handjie om die byl se steel
Siembamba mamma se kindjie
hoor hoe huil die oostewindjie
Langeraat, fielafooi
harslag spat oor verekooi
moederhartjie nie meer seer nie
Hans is in die huis nie meer nie

Masterstok

Anemoon en melkhoutboom
Moeggewaai tot boerebonsai
Rooipypie se klokkiespel
Veldskoenblaar se vlammehel
Blombos se room’rig wit
Sandbietou se bosluispit
Taaibos staan blinkgeblaar en rooi getand
uitbundig in die duinesand

Ratelklou in voordagdou
Ystervark se doringhark
Potjieriet roep laatnagnoot
Oestervanger rooi potlood
Aandster oor die Sandsteenkrans
Jakkalsvoël se sirkeldans
Muskeljaatjie bont gestreep
Kom elke aand my vis wegsleep

En op die maanligstrand
Se slaaibosranke
Lek die spitsoorkat
sy goue flanke
Yster aan die agtervoet
Nekserp swart van lammerbloed

Duine-apteek

Vir alle kwinte en pyne
Is daar mittersyne by dosyne
Want wat het Gristenmens nu ookal doet
Wederom krijg wij tegenspoed

Vir seningwees en ramstorigheid
Werk Sint Janskruit altoos goed
Vir bekwalentheid soos remetiek
Stowe skitrybos liggies in aspiek

Helmoeskruid op swael getrek
Vir sinkings en demensie,
Mit jening is it ok tog goed
Vir erge flatulensie

Vir erge kinkhoes, kroep,kataar
Stoom met Vicks en Friars Balsem
Vir bloedvint, aambei en spataar
Is daar wonderkroon en wille alsem

Ginsengwortel mit gimmer geraspe
voor flou begeerte en katelswakte
Vir erge smart en disporie
Kougoed sawens, mit pargorie

Vir drankvergryp en vrouweslaat
is daar natuurlik blijvend raat
Van Selonsblaar maak ‘n strawwe tee
En voeg dan vier ons stinkblaarpit daarmee

Politiek Korrek

Sovêr as wat my kennis strek
Stem al wat leef Politiek Korrek
Kom kry vir jou ‘n nuwe label
Skaam of skuldig is van die duiwel
Onse koning is wel oud en kaal
Maar ons sê dit in ‘n mooier taal

Vir armes, oues en huweliksontroues
Bomplanters, brandstigters, en snotneus parmantiges
Loslyfhoere en seksueel randstandiges
Malles, vettes, en moreel losbandiges,
Veelwywers, korruptes, en politiek onverstandiges,
Luies en lammes jong anargiste
Groen radikale en rooi kommuniste
Sokker rampokkers en getroudes wat rondvry
Nudiste, sadiste en feministe wat koudkry
Maak ons woordjies wat paai en wat vly
En sorg dat ieder en elk blaamloos kan bly

Sien, dis die werk van :
dom Afrikaners en bar chauviniste
Euro-sentriese skuim en wit koloniste
Christen verkrampte paternaliste
Moreel benepe militariste
Status bewuste materialiste
Ryk onderdrukkers en imperialiste
Broederbondboewe en Afrikaanse koerante
boere in khakis en vroom predikante
Wat ons manipuleer
En ons so ten bose etiketteer

Bring dus gerus jou sensitiwiteite
Jou vuil vergrype en gruwelike geite
Ons buig en skaaf en voordat jy wis
Toor ons dit reg met ‘n lagie vernis
En om te sorg dat ons die waarheid belet
Sit ons dit alles in ‘n wet
Dink dus mooi voor jy jou kruisie trek
Ons sorg vir jou by Politiek Korrek!

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes [by] roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.




2 Opinies:

Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Gedigte
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Janet
2019-01-18 17:21:05
wat beteken kleingeestig...
H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD