Kleur kom nooit alleen nie

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Die uitgewer Kwela Boeke sê as Tafelberg kon gepraat het, sou dit soos dié digbundel geklink het. En André Brink se oordeel is: “Dis een van die min bundels waarvan ek kan sê dat ek na die lees daarvan werklik op ´n ander manier na die wêreld kyk”. Hulle praat van Kleur kom nooit alleen nie, Antjie Krog se negende digbundel, en die eerste vandat Gedigte 1989-1995 vyf jaar gelede verskyn het. Sedertdien het sy internasionale bekendheid verwerf met Country of my Skull, haar ‘verslag’ oor die Waarheids- en Versoeningskommissie. Dit word saam met Down to my Last Skin, ´n keur uit haar werk in Engelse vertaling, bekend gestel. Random House, die oorspronklike uitgewers van Country of my Skull, is ook die uitgewers van Down to my Last Skin.

Kwela sê soos in haar vorige bundels verweef Krog ook in Kleur kom nooit alleen nie die persoonlike, die politiese en die land(skap). Maar vir die eerste keer beweeg die verse ook buite Suid-Afrika, en gesamentlik kan hulle gesien word as ´n soeke na identiteit op die vasteland van Afrika, en die vind van ´n plek binne die Afrika-bestel. Deur ´n verskeidenheid stemme te akkommodeer, probeer beantwoord Krog die vraag: Wat maak dat mense by mekaar hoort? “dit (die antwoord) kom altyd in die kleur van mens.”

Kwela sê wat Krog hier in poësie saambring is die intimiteit van een mens wat vir ´n ander sê: Ek het jou lief – en ´n begrip van menslikheid so wyd soos die Heer se genade. Die poësie praat van klippe en die aarde en grond – bowenal die grond van Afrika en die verskriklike maniere waarop mense geleer het om met die vasteland saam te leef.

Dit deins nie weg van wat hard en bitter en geweldadig is nie, maar dit word toegevou in ´n vrygewigheid en empatie wat die essensie van menswees in al sy kwesbaarheid en onoorwinlikheid saamvat – of dit nou handel oor die Boerekinders in konsentrasiekampe aan die begin van die 20ste eeu, of oor swart kinders in townships aan die einde daarvan; of dit die woorde is van ´n tradisionale orale digter in Wes-Afrika of die weeklag van ´n moeder in ´n township. Uit dit alles, wys dié versameling, kan poësie gemaak word.

Krog word allerweë erken as een van Afrikaans se sterkste digters. Haar digwerk is herhaaldelik bekroon, onder meer met die Eugene Marais-prys, die Rapport-prys en die Hertzog-prys vir Poësie. Kleur kom nooit alleen nie is beskikbaar by goeie boekwinkels.

Lewer kommentaar

Leave a Reply