Totius

Totius, groot voorstander van die Calvinisme wat ‘n groot deel van sy lewe gewy het aan die vertaling van die Bybel in Afrikaans en die beryming van die Psalms. Hy is op 21 Februarie 1877 in die Paarl gebore as Jakob Daniël du Toit, seun van die bekende S.J. du Toit, lid van die Genootskap van Regte Afrikaners.

Totius was ‘n tyd lank op skool in sy pa se geboortedorp, Daljosafat, aan die Hugenote-Gedenkskool waar hy ‘n tydgenoot was van D.F. Malherbe en A.G. Visser. In die tyd het hy by sy ouma gewoon. Hy was ook in ’n stadium ‘n student van die Afrikaanse skrywer Jan Lion Cachet. Na skool studeer Japie (soos hy toe bekend was) eers aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp, later aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, Nederland. Van 1911 af was hy professor aan die Teologiese Kweekskool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom. Hier het hy die bynaam “Doktertjie” gekry wat hy tot sy dood behou het.

Totius
Totius
Totius se eerste skuilnaam was Jaduto, wat hy gebruik het vir gedigte wat hy uit Duits vertaal het. Sy Duits het hy opgetel tydens die tyd wat hy by ‘n Duitse Sendingskool was in Rustenburg se distrik.

Totius predik sy Calvinisme in sy digkuns , wat hy skoei op die omstandighede in Suid-Afrika van daai tyd en sy persoonlike lewe. Sy bundel By die Monument (1908) was die eerste Afrikaanse digbundel. ‘n Ander bekende bundel is Trekkerswee (1915).

Sy digkuns wat oorloop van nasionalisme word oor die algemeen beskou as sy swakker werk, maar sy persoonlike gedigte is uitstekend. Lees byvoorbeeld Passieblomme (1934) – sy seuntjie is dood aan breinvliesontsteking en sy dogtertjie is deur ‘n weerligstraal getref.

Totius is oorlede op 1 Julie 1953.

O die pyn-gedagte

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die dae kom en die nagte gaan
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg voort.

Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
so, dat my lewe se glans verdwyn;
Jou kind is dood met ‘n vreeslike dood!
En – ek gryp my bors van die pyn.

O Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,
een straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.

Sy was so teer soos ‘n vlindertjie,
sy’t lugtig omheen geswerf;
‘n asempie wind kon haar vlerkies breek
en – kyk watter dood moes sy sterf!

Hoe weinig die kinders wat so moet sterf,
dis een uit die tienduisend-tal,
en ag, dat dit sy was, en ek moes sien
dat sy dood in my arms val!

O Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ‘n pyl in my;
die mense die sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.

Die tarentaal

Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek – en dit is ook al laat –
vir hom ‘n kameraad,
om in ‘n boom die eensaamheid
en nag te slyt.

Sáám sal hul in ‘n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.

Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!

Die wêreld is ons woning nie

Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesievlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ‘n koue op uit die vlei.
‘n Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan in alle ding
wat in die skemer my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit sien ek as die bloedrooi maan
van agter veldstof opgegaan,
nog net die kerk se dak bestryk,
vanwaar ‘n uil, misterie-stom,
sit na die maan se skyf en kyk.
En nou dit stil word op die straat,
dink ek hoedat die middag laat
‘n lykstoet daar het uitgekom
waar nou die maan en uil ontmoet.
En ‘k merk dit dan aan alle ding
wat in die aandstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Die wêreld is ons woning nie.
Dit voel ek as die wind ontwaak,
as die eikebome knars en kraak;
dit hoor ek in die fladdering
van voëltjies wat hul vlerke slaan
teen die verwarde boomtakke aan.
En as ek nader kom, dan vind
ek by die maan se wisselstraal
‘n nes vol kleintjies deur die wind
omlaaggeslinger, dood, verplet.
Ek voel dit dan aan alle ding
wat in die nagstond my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Laai af, Gratis, Trekkerswee >> (ePub formaat / DRM Free) 🙂

Bronne:

Dekker, G. 1954. Jakob Daniel du Toit. Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, 1951-1953. Leiden:E.J. Brill.

Du Toit, JD. 1933. Die Wêreld is Ons Woning Nie. Die Nuwe Brandwag, Tydskrif vir Kuns en Lettere. Pretoria:J.H. De Bussy.

Pienaar, EC. 1935. Digters uit Suid-Afrika: Bloemlesing uit die Poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Kaapstad: H.A.U.M. v/h J. Dusseau & Co.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Terug pieng: QVRP » Trekkerswee
Lewer kommentaar

Lewer kommentaar